Twee FGGW-wetenskaplikes vir gesogte toekennings genomineer

Prof Novel Chegou en dr Wynand J. Goosen.
Twee wetenskaplikes van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) is genomineer vir die gesogte 2018/’19- NSTF-South32-toekennings, wat erkenning aan uitnemende bydraes tot wetenskap, ingenieurswese en tegnologie en innovasie in Suid-Afrika verleen.   
 
Die toekennings erken “ware Suid-Afrikaanse wetenskap deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, wat vir hul lewensveranderende werk beloon word”. Die toekenningspelegtigheid vind op 27 Junie plaas. 
 
Die twee wetenskaplikes is dr Wynand J. Goosen (30), ʼn nadoktorale navorsingsgenoot aan die DST/NRF-sentrum vir Uitnemendheid in Biomediese TB-navorsing, en prof Novel Chegou, medeprofessor in die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika. 
 
Dr Wynand J. Goosen 
 
Goosen, wat genomineer is vir die kategorie TW Kambule-NSTF-toekennings: Ontluikende Navorser, doen tuberkulosenavorsing by Suid-Afrikaanse wilde diere in verskeie natuurreservate. Hy hoop sy werk sal hom later in staat stel om sy navorsing na vee in gemeenskapsbesit in landelike gebiede uit te brei as deel van ʼn Een Gesondheidsbenadering om TB te bestry. 
 
“Die benoeming laat my werklik nederig voel en ek dink nie ek het al besef van hoe groot belang dit is nie,” sê Goosen, wat passievol oor wetenskap én die natuurlewe is. 
 
“Baie mense weet nie dat diere, met inbegrip van wilde diere, TB kan kry nie. Die algemene vorm van diere-TB is bees-TB. TB is ʼn soönotiese siekte, wat beteken dit word tussen diere en mense oorgedra. Dit is hoekom dit so belangrik is om die siekte op ʼn globale skaal aan te pak.  
 
“Synde ʼn Suid-Afrikaner is ek mal daaroor om met Suid-Afrikaanse wilde diere te werk wat deur Suid-Afrikaanse siektes in die gesig gestaar word. Ek glo hierdie is die beste geleentheid om aan ʼn oplossing vir ons eie probleme in ons eie land te werk. Ek is dus besig met Trots Suid-Afrikaanse navorsing!”   
 
Goosen, wat in Grahamstad gebore en getoë is, het sedert sy kinderdae in die natuur belang gestel. “Ek het in die buitelug grootgeword, parke en natuurreservate besoek en saam met my oom gaan jag.”  
 
Nadat hy as hoofseun, topstudent en kaptein van die eerste rugbyspan aan die Hoërskool PJ Oliver in Grahamstad gematrikuleer het, het Goosen van 2008 tot 2011 ʼn BSc-graad in molekulêre biologie en biotegnologie aan die US voltooi, en in 2012 ʼn BSc- honneursgraad in mediese wetenskap aan die FGGW. 
 
“In 2012 was ek die eerste student wat aangesluit het by die Diere-TB-navorsingsgroep onder leiding van prof Paul van Helden, voormalige Uitvoerende Hoof van die Departement Biomediese Wetenskappe, en dr Sven Parsons, ʼn veearts en wetenskaplike. Die departement fokus op TB by mense, maar prof Van Helden het gereken dit maak bloot sin om TB in alle potensiële gashere te ondersoek om hierdie globale uitdaging deeglik aan te pak. Dit sluit huishoudelike diere soos beeste in, asook wilde diere soos Afrika-buffels, Afrika-leeus, Afrika-wildehonde, renosters en Afrika-olifante. Ons is tans ʼn groep van tien studente wat ongelooflik interessante navorsing oor TB by etlike spesies wilde diere doen,” het hy vertel.   
 
Goosen het navorsing oor wildehonde reg oor Suid-Afrika gedoen, “van Hluhluwe tot die Krugerpark, met die hooffokus op die ontwikkeling van diagnostiese toetse vir TB by wildehonde. Daarna het hy ingeskryf vir ʼn MSc in mediese wetenskappe met die fokus op diere-TB by Afrika-buffels. “Dit was belangrik omdat dié buffels as onderhoudsgasheer dien vir die siekte wat verantwoordelik is vir die oorspoel van infeksies na ander wilde en huishoudelike diere, en daarna na mense.”   
 
Danksy ʼn paar publikasies kon Goosen sy MSc tot ʼn PhD opgradeer. Gedurende sy PhD-jare het hy sy navorsing onder Afrika-buffels voortgesit en in 2016 met ʼn PhD in molekulêre biologie gegradueer, slegs vier jaar nadat hy met sy MSc begin het.  
 
“Dit het alles begin toe ek TB-spesifieke diagnostiese merkers in bloedplasma van Afrika-buffels ondersoek en ʼn klompie interessante bevindings gemaak het. Een hiervan is die meting van ʼn biomerker bekend as IP-10, wat in kombinasie met IFN-γ, ʼn konvensioneel gebruikte biomerker, veeartse in staat stel om die sensitiwiteit van ʼn hoogs spesifieke indirekte bloedgebaseerde toets te verhoog,” het Goosen gesê.   
 
As ʼn nadoktorale genoot sedert 2017, evalueer Goosen tans direkte DNS-opsporingsmetodes en die verbetering van ante-mortem mikobakteriese kweekmetodes om TB by renosters en olifante te diagnoseer.  
 
“Die feit dat ons TB by ons renosters en olifante bemerk is ʼn groot bron van kommer… Hierdie spesies word reeds bedreig en word boonop deur stropery in die gesig gestaar. Wanneer TB by wilde diere bemerk word, word hulle onder kwarantyn geplaas en kan hulle nie vervoer word nie. Dit kompliseer pogings om stropery te stuit en laat die renosters weerloos teen stropers.  
 
“Met die ondersteuning van Cepheid, ʼn groot internasionale diagnostiese maatskappy, evalueer ons tans ʼn snel diagnostiese DNS-patogeentoets wat as ʼn siftingstoets gebruik sal word om enige verdagte diere te identifiseer en die betrokke park van die nodige inligting te voorsien om die gepaste bestuursbesluite te neem.”  
 
Hy is gaande oor sy studieveld en volgens Goosen kry hy die geleentheid vir ʼn “gesonde balans tussen my lessenaar, die laboratorium en veldwerk in verskeie natuurparke. “Ek kom by plekke in hierdie parke wat die meeste mense nooit die geleentheid sal hê om te sien nie. Ek ervaar al die ongelooflike navorsing wat agter al daardie “Geen toegang”-bordjies in ons land se geliefde parke plaasvind.” 
 
Oor sy langtermyndoelwitte sê hy: “Toe ek ʼn kind was, het my suster my altyd geterg dat ek eendag ʼn lewe uit studies sal maak! Sy het nie geweet hoe in die kol haar voorspelling was nie. Ek is ʼn akademikus in murg en been en dink nie ek kan enigiets anders wees nie. My langtermyndoelwit is om ʼn gevestigde, onafhanklike natuurlewenavorser te word wat TB-probleme by mense en diere op ʼn globale vlak takel.”  
 
Volgens Goosen is hy opgewonde oor die rol wat wetenskaplikes in die bestuur van siektes by wilde diere speel en beoog hy om sy navorsing onder ander dierespesies uit te brei.  
 
Oor sy oogmerk om sy navorsing na gemeenskapsvee in landelike gebiede uit te brei, sê hy: “Baie beeste in landelike gebiede wat aan inheemse parke grens word by parkgrense aan TB blootgestel sonder dat die eienaars daarvan bewus is. Daar is derhalwe ʼn behoefte aan hierdie navorsing – nie net om vas te stel hoe groot hierdie probleem werklik is nie, maar ook om ʼn bewustheid hieroor in hierdie areas te skep.”  
 
Prof Novel Chegou 
 
Volgens Chegou voel hy “uiters geëerd” oor sy benoeming in die kategorie TW Kambule-NSTF-toekennings: Navorser. 
 
“Ek voel regtig gelukkig. As ʼn navorser doen jy jou werk en dink nie jy sal iets wen nie. Toe ek dus genomineer is en uitgevind het ek is ʼn finalis, het dit wonderlik gevoel.”  
 
Chegou se navorsing fokus op die immunologie van Mycobacterium tuberculosis-infeksie. Hy werk tans onder meer aan biomerkers vir die diagnose van tuberkulose, biomerkers van beskermende immuniteit Mycobacterium tuberculosis, en biomerkers vir die monitering van die reaksie op TB-behandeling. Sy spesifieke belangstelling is die ontwikkeling van eenvoudige, veldvriendelike versorgingspunt- diagnostiese instrumente vir die vinnige diagnose van tuberkulose in omgewings met min hulpbronne, insluitend die diagnose van die siekte by volwassenes en kinders.  
 
Hy werk aan beide pulmonêre en ekstrapulmonêre TB en is tans die leier van die diagnostiek-subgroep van die US se Immunologie-navorsingsgroep.  
 
Novel, wat aan die Universiteit van Buea in sy vaderland, Kameroen, as ʼn mediese laboratoriumwetenskaplike opgelei is, het in 2004 na Suid-Afrika getrek en werk sedert 2005 aan TB-diagnostiek. “Toe ek by die US aangesluit het, het die geleentheid hom voorgedoen om op nuwe immunologiese toetse vir ons gemeenskap te fokus. Ons het besef watter uitdagings by die diagnose van TB betrokke is en dat die immunologiese toetse wat as die oplossing bemark is, nie bruikbaar was in gemeenskappe soos dié waarin ons gewerk het nie. Ons het toe begin vrae vra oor wat ons kon doen om toetse te ontwikkel wat bruikbaar sou wees in omgewings met ʼn hoë siektelas en min hulpbronne, soos in talle Afrika-lande die geval is.  
 
“Dit het verdere vrae ontlok of ons die bestaande bloedgebaseerde immunologiese toetse (bekend as Igra-toetse) kon aanpas om in omgewings met ʼn hoë siektelas te werk. Ons het gewonder of ons die toetse op so ʼn manier kon aanpas dat ons steeds van hul reeds gestandaardiseerde platform gebruik kon maak. Dit het gelei tot die werk wat ons nou doen en wat behels om biomerkers te bekyk wat kan help om TB te diagnoseer en reaksie op behandeling te monitor.” 
 
Oor die belang van hierdie studies het Chegou gesê: “Die huidige instrumente wat ons gebruik om TB te diagnoseer het baie tekortkominge, veral in gebiede met min hulpbronne. Die mees gevorderde toets in die TB-mark lewer binne twee ure resultate, maar dit kan nie by ʼn versorgingspunt, langs ʼn siekbed of in afgeleë klinieke sonder elektrisiteit en goeie paaie gebruik word nie. As ʼn pasiënt se monsters met die goue standaardtoets getoets word, naamlik kultuur, wag hulle soms tot 42 dae vir die resultate.  
 
“Gedurende daardie lang wagtydperk dra die pasiënt die siekte steeds na ander mense oor. Baie mense wat die kliniek besoek, sê hulle hoes al weke lank. Ons neem monsters en stuur dit vir laboratoriumtoetse en dan moet die verpleegkundige wag.  
 
“As ʼn toets dadelik resultate lewer – wat bevestig dat daar ʼn baie goeie kans is dat die pasiënt TB het – kan die gesondheidsorgverskaffer die pasiënt oortuigend meedeel ‘daar is ʼn baie hoë waarskynlikheid dat jy TB het, so ek sal ʼn monster neem om dit te bevestig en jy kan binne twee of drie  dae terugkom wanneer dit bevestig is’. Die pasiënte sal dan dink hulle moet terugkom. Dit is baie belangrik dat ons versorgingspunttoetse moet hê. Dit is waaraan ons werk.  
 
“Die toetse waaraan ons werk het die potensiaal om binne 30 minute resultate te lewer. Hierdie is nie bevestigende toetse nie, maar bloot siftingstoetse wat gesondheidsorgwerkers in staat stel om aan te dui dat daar ʼn goeie kans is dat die pasiënt TB het, of alternatiewelik dat die kanse skraal is. Hulle kan ook, indien nodig, alternatiewe behandeling begin verskaf, sonder dat die pasiënt weke lank moet wag.  
 
“Die studies wat ons in ses Afrika-lande gedoen het, het getoon dat net 30% van pasiënte wat klinieke besoek met die sterk vermoede dat hulle TB het, wel dié siekte onder lede het. Dis hoekom ons meen die soort toets wat ons ontwikkel sal ʼn goeie impak hê. Dit is nie net vinniger nie, maar sal kostebesparing vir die pasiënt en die gesondheidsorgstelsel meebring.” 
 
Chegou, wat vroeër vanjaar tot medeprofessor bevorder is, sê sy langtermynplanne behels om die werk aan sy toetse voort te sit. “Ons doen tans kliniese proewe om die toetse in vyf Afrika-lande te evalueer, met inbegrip van Suid-Afrika.  
 
“Ek fokus ook op TB-meningitis, ʼn baie ernstige vorm van TB wat meestal by kinders voorkom. Navorsing deur ander US-kollegas het getoon dat versorgers van kinders met TB-meningitis ses keer kliniek toe gaan voordat die siekte uiteindelik gediagnoseer word, wat onaanvaarbaar is.  
 
“Ons probeer ʼn toets ontwikkel wat sal help om TB-meningitis by daardie kinders vinnig te diagnoseer. Ek wil die toetse oor die volgende paar jaar verfyn sodat kinders en volwassenes vinniger gediagnoseer kan word. Ek sal aanhou om instrumente te bestudeer om reaksie op TB-behandeling te monitor en ander werk te doen wat ons sal help om die meganismes betrokke by mense wat aan TB ly, te verstaan.” 
Sue Segar