Riaan Wassung en prof Willie Perold

Eeufeeswyn

Die Universiteit Stellenbosch (US) het as deel van sy Eeufees ’n beperkte Pinotage bekendgestel. Slegs 2 200 bottels Eeufees Pinotage – die amptelike Eeufeeswyn – is deur die US se Welgevallen-kelder gebottel. Elke bottel is individueel genommer.

Volgens Riaan Wassung, wynmaker by die Welgevallen-kelder, is die wyn van die beste Pinotage-wingerdstokke van Welgevallen gemaak en is dus van uitstekende gehalte, met ’n donker robynkleur. Die wyn het intense bessie- en woudbodem-aromas, met subtiele pittigheid danksy die eikehout. Die wyn is lywig met ’n ferm, maar sagte tannienstruktuur, goeie suur en ’n blywende nasmaak.