Matiestemme

Dean John Smith

Akteur en alumnus van die US Dramadepartement


“Dit was nie ? geval van óf ek [drama en teater] gaan doen nie; dit was net ek gáán.”

Op die verhoog was hy al enigiets van ? bendelid tot ? tienerseun. Dis geen wonder nie dat die bekroonde akteur Dean John Smith gehore aangryp en pryse wen vir sy talent om uiteenlopende karakters te vertolk.

Dis moeilik om Dean mis te kyk. En dit het niks met sy statuur te doen nie – hy het presence; ? mens sien hom raak as hy ? vertrek binnestap. Is dit sy jeugdige energie? Sy intense groen oë? Dalk ? kombinasie van die twee. Maar selfbewus is hy nie. En dít maak dat ? mens na hom wíl kyk; ? pluspunt vir enigeen wat hom as akteur in die vermaakbedryf begewe.

Dean (23), wat in 2015 ? honneursgraad in Drama aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het en as een van die nuwe jong talente in die bedryf gereken word, is egter nie so nuut in hierdie bedryf nie. Op skool in Malmesbury in die Wes-Kaap het hy reeds talent getoon, hoewel blootstelling aan teater nie deel van sy kinderjare was nie. Dean se pa, John, het ? sakeonderneming waar hy televisies regmaak. “So my pa is ook in die TV- bedryf,” spot hy. “Ek sê dit altyd vir mense as hulle vra wat my pa doen, en dan wil hulle dadelik weet wie hy is en waarin hy al gespeel het.”

As Dean terugdink aan sy kleintyd was die belangstelling in toneelspel nog altyd daar – sedert hy in Graad 4 die prins in Sneeuwitjie gespeel het. In Graad 7 het hy by ? nuutgestigte dramagroep by die skool aangesluit, en daarna is hy na Schoonspruit Sekondêre Skool op Malmesbury, ? fokusskool vir die kunste. So, sedert Graad 8 was sy lewe vol drama. “Dit was nie ? geval van óf ek dit gaan doen nie; dit was net ek gáán.” Die koeël was deur die kerk toe hy op hoërskool die Nasionale Toneelspelkompetisie gewen het. Daarna het hy as skoolkind ? rol gekry in die toneelstuk Vaselinetjie en het hy met professionele akteurs soos Vinette Ebrahim die verhoog gedeel.

Baie ouers kan nogal skrikkerig raak as hul kinders in die kunste wil studeer, maar Dean s’n was nog net ondersteunend. En hulle gaan kyk gereeld sy produksies, selfs al raak dinge effens riskant, soos in die toneelstuk A Cock ? Bullshit Story, waarin hy naak op die verhoog was terwyl sy familie – ouma inkluis – in die gehoor was!

Dean het al in vele in toneelstukke gespeel: Vaselinetjie, Braai, Die dag is bros (waarvoor hy ? Fiësta-prys vir beste manlike byspeler ontvang het) en Die Gangsters, om ? paar te noem. Daar is ook TV- en filmwerk op sy kerfstok, en deesdae is hy in die gewilde KykNET-sepie Suidooster te sien.

As ? mens rondvra, blyk dit dat mense in die bedryf net lof het vir Dean se talent en werksetiek. Die teatermaker en regisseur Nico Scheepers, wat die beligting vir Die dag is bros behartig het, sê: “Dean se talente ken geen perke nie, en ? mens sou dit nie sê as hy nie op die verhoog is nie. Almal word sy beste vriend, en dis nie ? fake vriendskap nie.”

Daar is egter geen kans dat Dean binnekort blasé sal raak oor die bedryf nie. “My excitement level vir dinge is nog báie hoog.” As Dean weer op die verhoog is, kan jy maar gerus jou gaan; dis iets om te beleef.

- Deur Naudé van der Merwe -