Honderd jaar lank staan die Universiteit Stellenbosch (US) (aanvanklik die “Universiteit van Stellenbosch”) en die dorp se stewige ou eike reeds sy aan sy. In dié tyd het die instelling tot ’n toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit op die Afrikavasteland gegroei. Die US wat op 2 April 1918 met vier fakulteite, naamlik Lettere, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Landbou (deesdae Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en AgriWetenskappe), 503 studente en 40 dosente begin het, spog vandag met tien fakulteite, vyf kampusse en ’n lewendige en kosmopolitaanse gemeenskap van meer as 30 000 studente en 3 000 personeellede.

Met ons Eeufees in 2018 herdenk ons groot prestasies en baanbrekeruitvindings. Ons salueer die meer as 250 000 alumni en studente, opvoeders, navorsers, professionele en administratiewe steunpersoneel sowel as ons bestuur- en beheerstrukture wat die US help vorm en sy reputasie as ’n wêreldklas- akademiese instelling help vestig het.

As ’n openbare instelling het die US sy hoëronderwysrol midde-in die verskillende politieke, sosio-ekonomiese, kulturele en opvoedkundige realiteite en ontwikkelings van die 20ste eeu vervul, onder meer ook die spesifieke vorm van ongeregtigheid wat destyds in Suid-Afrika geheers het. Sedertdien het die US “sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede” erken en hom tot “gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe” verbind, soos sy Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en Daarna van 20 Maart 2000 dit stel. Ons vereer ook die kritiese Matiestemme van daardie tyd wat ondanks verguising aanhou praat het, en later bakens op die reis na ’n regverdige samelewing sou word.

Teen hierdie agtergrond van uitnemende prestasie en waardevolle lesse uit ons komplekse geskiedenis, verteenwoordig die Eeufees met sy tema “100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg” ’n nuwe begin vir die Universiteit Stellenbosch. Ons streef daarna om ’n relevante universiteit te wees wat ’n kernrol in die ontwikkeling van ons nasie en ons vasteland speel. Daarbenewens is ons daartoe verbind om ’n samelewing van waardigheid, genesing, geregtigheid, vryheid en gelykheid vir almal te help skep.

saam vorentoe • forward together • masiye phambili