Matie-stemme

Dr DF Malan

US-kanselier 1941–1959

Dr Daniël Francois (DF) Malan is op 22 Mei 1874 op die plaas Allesverloren in Riebeek-Wes gebore en het 18 jaar lank die posisie van kanselier van die US beklee. Dit is tot hede die langste dienstermyn van enige US-kanselier.

Malan het sy studies aan die Victoria Kollege in Stellenbosch begin, waar hy ’n BA in musiek en wetenskap verwerf het voordat hy by die kweekskool aangesluit het om ’n predikant van die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) in Suid-Afrika te word. Hy het in hierdie tydperk ook ’n MA in filosofie aan die Victoria Kollege voltooi.

In 1900 het Malan Suid-Afrika verlaat om ’n doktorsgraad in teologie te verwerf en dit is vyf jaar later deur die Universiteit van Utrecht aan hom toegestaan. Toe hy in 1905 na die land terugkeer, is hy as predikant van die NGK aangestel. Hy het die volgende ses maande die posisie van assistent-predikant in die Heidelbergstreek van Transvaal (vandag bekend as Gauteng) beklee.

Daarna was hy in Montagu (1906 tot 1912) en in Graaff-Reinet (1912 tot 1915) gesetel. Hy het namens die NGK ’n geloofstog na Afrika onderneem en met Afrikaner Christengemeenskappe in Noord-Rhodesië, Suid-Rhodesië en die Demokratiese Republiek van die Kongo vergader.

Buite die kerk het Malan hom met passie beywer vir die aanvaarding van Afrikaans as ontluikende taal en hy was diep betrokke by die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Met die stigting van die koerant De Burger (later Die Burger) in 1915 is hy byvoorbeeld as die eerste redakteur aangestel, en toe die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) in 1930 op die been gebring is, was hy ook ’n stigterslid.

Die Kaapse tak van die Nasionale Party is in 1915 ingestel en Malan het toe van teologie na die politiek verander en is as provinsiale leier van die NP verkies. Drie jaar later, in 1918, is hy verkies tot die parlement as LP vir die Calvinia-setel in die Volksraad.

Malan het vir die res van sy politieke loopbaan die posisies van minister van binnelandse sake, onderwys en openbare gesondheid (1924 – 1933), en eerste minister van Suid-Afrika (1948 – 1954) beklee. Hy is op 7 Februarie 1959 by sy huis Môrewag op Stellenbosch oorlede.

– Deur Steyn du Toit