Matie-stemme

Dr F Van Zyl Slabbert

US-kanselier 2008–2010

Dr Frederik Van Zyl Slabbert is op 2 Maart 1940 in Pretoria gebore en het in Pietersburg (nou Polokwane) in die Limpopo Provinsie grootgeword. Hy het in 1958 aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer en was hoofseun en kaptein van die eerste rugby- en krieketspan. Die volgende jaar het hy aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) ’n BA in klassieke tale studeer met die voorneme om ’n predikant van die Nederduits Gereformeerde Kerk te word.

Slabbert het in sy tweede jaar oorgeskuif na die Universiteit Stellenbosch (US) waar hy sy studies in sosiologie, Latyn, Grieks en Hebreeus voortgesit het. Hy het egter die jaar daarop besluit om sy teologiese studies op te gee en eerder op sosiologie te fokus en het in 1964 sy verwante MA met onderskeiding ontvang. Gedurende sy studentejare het hy die eerste inwonende hoof van die manskoshuis Majuba geword. Slabbert het sy doktorsgraad in 1967 voltooi.

In die jare daarna het hy as sosiologie-dosent by die universiteite van Stellenbosch, Rhodes en Kaapstad gewerk voordat hy in 1973 by die Universiteit van die Witwatersrand as hoof van die Departement Sosiologie aangestel is.

Nadat hy die jaar daarop by die Progressiewe Party (PP) aangesluit het, het Slabbert se loopbaan na die politiek geneig toe hy die setel vir die Rondebosch-kiesafdeling in die land se algemene verkiesing gewen het. In 1979 het hy die leier geword van die party, destyds bekend as die Progressiewe Federale Party (PFP), en het hierdie amp tot en met Julie 1986 beklee, waarna hy saam met ’n voormalige PFP-kollega Alex Boraine die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (Idasa) gestig het.

Hy het in 1986 as parlementslid bedank en sy loopbaan het ’n handelskoers ingeslaan toe hy as dosent by die Wits-sakeskool begin werk en by politieke raadpleging betrokke geraak het. In 2002 is Slabbert byvoorbeeld deur president Thabo Mbeki aangewys om ’n span te lei wat die moontlikheid van ’n nuwe kiesstelsel vir Suid-Afrika moes ondersoek. Hy was ook in 1990 die medestigter van Khula, ’n swart beleggingstrust. Op 12 Mei 2008 is hy as kanselier van die US aangestel, ’n amp wat hy tot sy afsterwe op 14 Mei 2010 beklee het.

Eredoktorsgrade is deur sy lewensjare deur die universiteite van KwaZulu-Natal, Vrystaat en Simon Fraser in Kanada aan hom toegeken. Hy was ook ’n besoekende geleerde aan die Massachusetts Institute of Technology (MIT) en het beide die American Cultural Exchange Scholarship en die Abe Bailey Travel Scholarship ontvang.

– Deur Steyn du Toit