Matie-stemme

Hoofregter JAJ de Villiers

US-kanselier 1931–1932

Hoofregter Jacob Abraham Jeremy (Jaap) de Villiers is in 1868 op Fauresmith in die Oranje-Vrystaat (vandag bekend as die Vrystaat Provinsie) gebore. Hy het sy nagraadse studie aan die Victoria Kollege (vandag bekend as die Universiteit Stellenbosch [US]) voltooi voordat hy na die buiteland gereis het om aan die Universiteit van Amsterdam en die Universiteit van Londen in die regte te studeer.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het De Villiers as regsadviseur by die Vrystaatse weermag aangesluit. Hy is tydens die oorlog gewond, gevange geneem en het agtien maande as ’n krygsgevangene in ’n kamp in Bermuda deurgebring.

Vanaf 1910 het De Villiers as bykomende appèlregter vir die Hoërhof van Appèl in Kaapstad gedien. Hy het hierdie pos vir 10 jaar beklee totdat die Wet op Appèlafdeling, Wet 12 van 1920 bepaal het dat die aantal (gewone) appèlregters van twee tot vier moet verhoog (die poste van bykomende appèlregters is toe geskrap). De Villiers en Sir Henry Juta is gevolglik tot die nuwe poste bevorder.

Na die dood van Sir William H Solomon in 1929 is De Villiers as Suid-Afrika se vierde hoofregter aangestel en het hierdie pos beklee totdat hy op 16 September 1932 in die amp gesterf het. Hy is deur Sir JW Wessels opgevolg.

Die US het die vorige jaar, 1931, ’n eredoktorsgraad in die regte aan De Villiers toegeken. Hy het ook die amp as die Universiteit se derde kanselier aanvaar, maar het gesterf voor hy ingehuldig kon word.

’n Borsbeeld van De Villiers wat deur Moses Kottler gebeeldhou is, staan vandag in die biblioteek van die Hoërhof van Appèl in Kaapstad. Daarbenewens verskyn die volgende aanhaling deur hom (wat tydens die hofopening gemaak is) in klip bo die hof se hoofingang: “… the Helmet of the armour of Faith, symbolical of the nation’s fast faith in the justice and the power of the law; the Keys of Emancipation from Tyranny, where there is no law; and the Lamp and the Torches of Truth”.

– Deur Steyn du Toit