Matie-stemme

Prof A Moorrees

US-visekanselier 1918–1932 en US-kanselier 1932–1938

Prof Adriaan Moorrees, gebore in Malmesbury op 18 Augustus 1855, het die onderskeiding dat hy die enigste visekanselier in die US se geskiedenis is wat ook een van sy kanseliers geword het. Voor hy in 1908 by die instelling aangesluit het, het hy hom reeds elders as digter, prediker, taalkundige, akademikus, navorser, wetenskaplike en stryder vir sosiale regte gevestig.

Na voltooiing van sy studies aan die South African College in Kaapstad, die kweekskool op Stellenbosch, asook die Universiteit van Utrecht in Nederland, het Moorrees as predikant van die NG Kerk in Noorder-Paarl, Richmond en Kaapstad gedien.

Moorrees het sy eerste boek van poësie in 1908 gepubliseer. Die boek, genaamd Zevenjaartjes, is grootliks beïnvloed deur die weelderige Paarlvallei en sy kenmerkende omliggende berge. Moorrees het in dieselfde jaar by die Victoria Kollege in Stellenbosch as professor in teologie aangesluit en as lid van die kollegeraad gedien.

’n Ander lewenslange belang van Moorrees was die behoud van taal, veral Nederlands, wat hy tot sy aftrede as hoofvoertaal vir kommunikasie sou gebruik. Hy was een van die stigters van De Zuid Afrikaansche Taalbond en voorsitter van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. Tot vandag word sy 1937 publikasie van Die Geskiedenis van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika as ’n waardevolle bydrae tot die veld voorgehou.

Met Victoria Kollege se formele naamsverandering na die Universiteit Stellenbosch in 1918, is Moorrees as die eerste visekanselier aangestel en het vir 14 jaar hierdie posisie beklee tot en met sy bevordering tot kanselier in 1932. Eregrade is deur Unisa, UK en die US aan hom toegeken.

– Deur Steyn du Toit