Matie-stemme

Prof HB Thom

US-kanselier 1983 en US-rektor 1955–1969

Skrywer, historikus, kulturele waarnemer, administrateur en diplomaat. Prof Hendrik Bernardus (HB) Thom, geken aan die bynaam Quintie, is op 13 Desember 1905 in die Oos-Kaap gebore en het vir die eerste keer in 1924 by die Universiteit Stellenbosch (US) aangekom. Hy was ’n student in Afrikaans, geskiedenis, ekonomie, Duits, Engels en geografie, en het later sy studies in Berlyn, Parys en Amsterdam voortgesit.

Weg van die biblioteek was hy ’n gereelde rugby- en tennisspeler, asook ’n lid van die verteenwoordigende studenteraad. Hy het in 1931 as dosent in geskiedenis by die US begin werk en is vier jaar later tot senior dosent bevorder, gevolg deur ’n volle professorskap in 1937. Hy het hierdie posisie beklee totdat hy in 1955 die amp van rektor aanvaar het.

Gedurende Thom se termyn as rektor het die Universiteit aansienlike groei ervaar. Waar die studentesyfer aan die begin van 1954 op 2 355 gestaan het, was dit teen 1966 byna drie keer soveel op 6 700. In 1983 is Thom as kanselier van die US aangewys, ’n amp wat hy tot sy ontydige dood later dieselfde jaar beklee het.

As historikus, voorsitter, trustee, beskermheer en skrywer kan Thom se bydraes en invloed vandag op talle kulturele terreine gevind word, waaronder die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Erfenishulpbronne, Simon van der Stel Stigting, Van Riebeeck Vereniging en Stellenbosch Museum, die FAK, en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).

Onder sy vele geskrewe werke is Die Lewe van Gert Maritz (1947), Die Geloftekerk en Ander Studies oor die Groot Trek (1949), Jannie Marais (1950), asook die Daghregister van Jan Antonisz van Riebeeck (1952). Laasgenoemde is deur hom en sy vrou Maria vertaal.

Thom het gedurende sy leeftyd erelidmaatskap van verskeie vooraanstaande organisasies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap en die Historiese Vereniging van Suid-Afrika, asook ’n lys belangrike toekennings ontvang. Dit sluit die DF Malan Medalje en die Kuns en Wetenskap-toekenning vir Geskiedenis in.

– Deur Steyn du Toit