Matie-stemme

Prof HR Botman

US-rektor en -visekanselier 2007–2014

Prof Hayman Russel (HR) Botman is op 18 Oktober 1953 in Bloemfontein gebore. Nadat hy by die Kliptown Senior Sekondêre Skool in Johannesburg gematrikuleer het, het hy by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ingeskryf om teologie te studeer. Terwyl hy ’n voorgraadse student was, is hy tot die verteenwoordigende studenteraad as openbare skakelbeampte verkies en het talle betogings teen apartheid onder sy eweknieë gereël.

Die kwalifikasies wat hy in die loop van sy lewe aan die instelling verwerf het, is ’n BA (1978), BTh (1979), BTh Lisensiaat (1981), MTh cum laude (1984) en DTh (1994).

Nadat hy in 1982 ingeseën is, het Botman predikant van die NG Kerk se Wynberg-gemeente geword. Hy het die volgende dekade ’n belangrike rol gespeel om die Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika en die Gereformeerde Kerk in Afrika te verenig. Die gevolg was die nuutgestigte Uniting Reformed Church of Southern Africa (URCSA).

Botman het gedurende 1994 die oorgang van kerk na akademie gemaak toe hy die pos van senior dosent in praktiese teologie by die UWK aanvaar het. Hy is 1999 tot medeprofessor en dekaan van die Fakulteit Godsdiens en Teologie bevorder. Die volgende jaar (2000) het hy oorgeskuif na die Universiteit Stellenbosch (US) om as professor in missiologie, ekumenisme en publieke teologie aan te sluit. Tydens hierdie verskuiwing het hy 38 UWK-studente saam met hom na die US gebring, aangesien die UWK besig was om teologie af te skaal.

Twee jaar na sy aanstelling by die US is Botman as viserektor vir onderrig aangewys, ’n pos wat hy vir vyf jaar beklee het tot en met sy geskiedkundige verkiesing in 2007 as die US se eerste rektor en visekanselier van kleur. Hy het gedurende hierdie tydperk ook as president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gedien.

Een van Botman se belangrikste fokuspunte as rektor was die instelling se ontwikkeling en transformasie na ’n multikulturele universiteit. Onder die inisiatiewe wat hy gehelp implementeer het, is die 2010 HOPE-projek wat daarop gemik is om die Universiteit se bewese kundigheid op ’n doelgerigte wyse en op groot skaal tot voordeel van die samelewing aan te wend. ’n Ander prestasie was die aanvaarding van Visie 2030 wat op vier strategiese gebiede fokus: verbreding van die US se kennisbasis, bevordering van studentesukses, uitbreiding van diversiteit, en om stelselmatig meer volhoubaar te word.

Botman is in 2012 vir ’n tweede vyfjaartermyn aangestel, maar is onverwags op 28 Junie 2014 in sy slaap oorlede.

– Deur Steyn du Toit