Matie-stemme

Prof JJ Smith

US-rektor 1918–1919

Prof Johannes Jacobus (JJ) Smith is op 5 Oktober 1883 in Roodezandskloof in die Tulbagh-distrik gebore. Nadat hy by die Paarl Gimnasium gematrikuleer het, het hy in 1905 ’n BA-honneursgraad in moderne tale aan die Victoria Kollege (vandag bekend as die Universiteit Stellenbosch) verwerf. Dit het daartoe gelei dat hy die Hiddingh-beurs ontvang het, wat hom in staat gestel het om sy studies aan die Universiteit van Londen voort te sit. Hy het hier ’n BA-honneursgraad in Engels behaal, met Anglo-Saksies, Antieke Yslands en Goties van sy byvakke.

Terwyl hy in Londen was, het Smith as navorser vir die Britse Museum gewerk en ’n reeks lesse in Afrikaans vir His Master’s Voice ontwikkel. Hy het terselfdertyd vir ’n loopbaan in die regte voorberei en, nadat hy sy Inns of Court-eksamen geslaag het, het hy ’n advokaat van die Honourable Society of the Middle Temple geword. Geïnspireer deur CL Leipoldt het hy gedurende hierdie tydperk ook sy eie gedigte uitgegee.

Na sy terugkeer na Suid-Afrika is Smith in 1914 as professor in Frans en Duits by die Victoria Kollege in Stellenbosch aangestel. Toe die instelling in 1918 amptelik die Universiteit Stellenbosch (US) word, is hy as voorsitter van die Senaat aangestel (die posisie van rektor was op daardie stadium nog nie ingestel nie) en die volgende jaar is die instelling se eerste leerstoel in Afrikaans aan hom toegeken.

Hy het tussen 1914 en 1923 ’n pos as een van drie redakteurs van Ons Moedertaal (wat later Die Huisgenoot geword het) beklee. Smith was ook betrokke by die stigting van die dagblad De Burger in 1915, wat later Die Burger geword het. Hy het ’n uitnodiging aanvaar om die volgende jaar na Nederland te reis, waar hy lidmaatskap van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden ontvang het.

Gedurende 1925 is wetgewing aan die parlement voorgelê om die verklaring van Afrikaans as ’n amptelike taal te ondersteun, en Smith het vanaf 1926 die reusetaak aangepak om die eerste woordeboek van die Afrikaanse taal te skep. Hy het tot 1943 die redakteur van die woordeboek gebly, maar moes noodgedwonge as gevolg van swak gesondheid in ’n amptelike hoedanigheid aftree.

Smith was in die loop van sy lewe ’n lid van verskeie professionele liggame en instansies, waaronder die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Letterkunde en Kuns, en die Akademie se Woordelyskommissie. Hy was ook een van die taaladviseurs van die Vereniging vir Afrikaanse Bybelvertalers.

Prof Smith is op 18 Junie 1949 oorlede. Die Universiteit van die Witwatersrand het in dieselfde jaar ’n eredoktorsgraad in letterkunde aan hom toegeken.

– Deur Steyn du Toit