Matie-stemme

Regter HS van Zyl

US-visekanselier 1933–1950

Regter Hendrik Stephanus (HS) van Zyl is op 27 Januarie 1876 op die plaas Hexrivier in die Clanwilliam-distrik gebore. Hy het tot 14-jarige ouderdom feitlik geen formele skoolopvoeding gehad nie, maar het wel in 1890 die Blaauw Vallei Skool naby Wellington begin bywoon. In Junie 1892 het hy by die Victoria Kollege in Stellenbosch ingeskryf. Hy het na voltooiing van matriek ’n B-graad aan die Universiteit van Kaap die Goeie Hoop behaal voor hy vir die regering van die destydse Kaapkolonie begin werk het.

Van Zyl het Suid-Afrika gedurende 1898 verlaat en begin met wat ’n lewenslange loopbaan in die regte en politiek sou word. Hy het by St John’s College, Cambridge vir ’n LLB-graad ingeskryf. Na verwerwing van dié kwalifikasie het hy teruggekeer huis toe en is in 1903 tot die balie toegelaat. Hy was in hierdie tydperk aktief in die politiek en is reeds in 1905 as parlementslid vir Paarl verkies.

Met Suid-Afrika se Uniewording in 1910 het Van Zyl die rol as die Unie se eerste parlementêre wetgewer beklee. Hy het vyf jaar later een van die stigterslede van die Nasionale Party in die destydse Kaapprovinsie geword. Maar ná sy aanstelling as regter van die Kaapse hooggeregshof in 1920 het hy weggebreek van politiek om hierdie funksie te verrig. Hy het 26 jaar in hierdie posisie gebly, waarvan die laaste 11 tot sy aftrede in 1946 as regterpresident was. Een van die take waarmee hy tydens sy ampstermyn as regterpresident belas was, was om die moontlikheid te ondersoek om Suidwes-Afrika (vandag Namibië) as ’n vyfde provinsie van die Unie te inkorporeer.

Van Zyl het in sy leeftyd ook ’n passie vir die bewaring van kultuur gehad. Hy was tussen 1941 en 1955 voorsitter van die Kommissie vir Historiese Monumente (later die Raad van Nasionale Memorabilia), asook van die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek. Verder was hy ’n stigterslid van die Riebeeck Vereniging en het van 1941 tot 1955 as die organisasie se voorsitter gedien. Ná sy aftrede is hy op die plaaslike raad van Barclays Nasionale Bank aangestel.

Daarbenewens het Van Zyl vir 32 jaar (tussen 1918 en 1950) op die raad van die US gedien, en die laaste 17 jaar daarvan was as visekanselier van die instelling. Hy is vyf jaar later op 26 Oktober 1955 in Kaapstad oorlede.

– Deur Steyn du Toit