1. Die beginjare

‘n Terugblik oor die geskiedenis van die Chemiedepartement laat mens dink aan die woorde van die Griekse filosoof Heraclitus (500 vC): ‘Panta rei!’ – alles vloei, alles verander...


Die Chemiedepartement se storie begin eintlik al in 1903 (dus 115 jaar gelede) toe dit ‘n volwaardige, onafhanklike departement geword het en ‘n man met die formidabele volle naam Berthault de St. Jean van der Riet as die eerste professor in Chemie aangestel is. Voorheen was die professoraat in Chemie gekoppel aan dié van ander departemente soos Fisika en Geologie. Berthault van der Riet was van 1895 tot 1902 hoof van die Geologiedepartement en daarna, tot die destydse vrywillige aftree-ouderdom van 73 jaar, hoof van die Chemiedepartement. Tot en met sy aftrede in 1940 was elke Stellenbosse chemiedosent ‘n oud-student van Van der Riet.

Vanderier.jpg

Prof. Berthault van der Riet

Van der Riet behaal in 1890 die M.A.-graad in Natuurwetenskap (Chemie) aan die University of the Cape of Good Hope onder leiding van P.D. Hahn – slegs die tweede student, naas Charles F. Juritz (1886), om ‘n meestersgraad in natuurwetenskap in suidelike Afrika te ontvang. Soos vele Suid-Afrikaanse studente ná hom, sit hy sy nagraadse studies met behulp van ‘n beurs in Europa voort en voltooi in 1893 sy Ph.D.-graad in Chemie met onderskeiding aan die Universiteit Halle-Wittenberg. Sy studies het geologie en mineralogie ingesluit en hy het ook petrografie aan die Universiteit Heidelberg studeer.

Die aanvanklike fokus in die Chemiedepartement was onderrig en opleiding, alhoewel Van der Riet se persoonlike siening was dat onderrig en navorsing beide ewe belangrik is. Hy het veral in Organiese Chemie belanggestel en het wye bekendheid verwerf vir sy werk op die essensiële olies van inheemse Suid-Afrikaanse plante, alhoewel hy die meeste van sy navorsing maar in sy vrye tyd gedoen het omdat onderrig, administrasie en die vestiging van ‘n jong departement die meeste van sy werktyd in beslag geneem het. Dit was destyds (soos vandag?) blykbaar ‘n algemene probleem, soos blyk uit ‘n brief wat reeds in 1919 aan Van der Riet geskryf is deur E.J. Goddard van die Soölogiedepartement, waarin hy die gebrek aan navorsing deur akademici (en selfs hul gebrek aan entoesiasme) toeskryf aan ‘excessive teaching and administrative work, lack of literature, the inability to retain post-graduate students’ en ‘geographical difficulties’.

Hy het in 1896 lid geword van die South African Philosophical Society (wat in 1908 die Royal Society of South Africa geword het), is in 1912 verkies tot Genoot van hierdie vereniging en het baie jare in die vereniging se raad gedien. In 1906 is hy as die eerste president van die Cape Chemical Society gekies en in sy presidentsrede het hy hom uitgespreek oor die netelige kwessie van suiwer vs. toegepaste wetenskap: ‘But in whatever manner we apply our energies, let us keep in mind that science yields its highest rewards to those who pursue it for its own sake, or at any rate, when they apply science, keep the scientific aspect clearly in view.’ Hy was ook ‘n raadslid en president (1933/4) van die South African Chemical Institute. In 1918 maak die Universiteit se Senaat bekend dat Van der Riet deur die regering versoek is om in die Scientific and Technical Committee te dien en spreek sy ingenomenheid uit dat die regering op hierdie wyse ‘n meer direkte band tot stand probeer bring ‘tussen zuiver wetenschappelik onderzoek en de praktiese ontwikkeling van de natuurlike hulpbronnen van het land.’

Berthault van der Riet, bekend onder sy studente en kollegas as ‘oubaas Fenol’, was nog een van daardie geslag van perfect gentlemen. Dat hy ‘n goeie dosent was, blyk onder andere uit ‘n getuigskrif deur ‘n voormalige kollega, R. MacWilliam, van Gill College: ‘... he gained the respect and esteem of his pupils in quite an extraordinary degree,...’ Daar word vertel dat ‘Fenol’ oor die 60 was toe hy sy eerste motor gekoop het en toe daar aan hom gesê is dat hy mense gaan doodry, hy geantwoord het: ‘I have been dodging them for many years , now it’s time they start dodging me.’

Berthault van der Riet was vir agt jaar die enigste professor in Chemie totdat prof. C.D. (Sarel) van der Merwe in 1911 as professor in Anorganiese Chemie aangestel is. En nog agt jaar later, in 1919, het die aanstelling van prof. D.F. du Toit as professor in Fisiese Chemie gevolg. ‘n Sterk Chemiedepartement was reeds op Stellenbosch gevestig teen die tyd dat hierdie drie pioniers, Van der Riet, du Toit en Van der Merwe, opgevolg is deur proff. J.M. (Joey) Joubert (1940), G.J.R. (Gideon, ‘Vriend’ onder studente) Krige (1944), en E.F.C.H. (Egmont) Rohwer (1951).

‘n Oudstudent, J.G. Meiring, vertel in die Matieland artikel ‘Toe Afrikaans US se taal geword het’ dat die eerste chemiedosente, Van der Riet, Van der Merwe en du Toit, hul lesings in Engels aangebied het, totdat een van die studente in 1917 vir Sarel van der Merwe in die klas gevra het om sy lesing in Afrikaans aan te bied. Hy het ‘n rukkie stilgebly en toe op Afrikaans gevra waar die klas die vorige dag afgelas is. Van toe af is al die chemielesings in Afrikaans aangebied. Voorgraadse chemielesings is eers weer jare later, in 1996, in Engels aangebied, aanvanklik net vir eerstejaar-Bosboustudente. Toe die Engelssprekende B.Sc.-studente dit agterkom, het hulle hierdie klasse in sulke groot getalle begin bywoon dat daar toe met ‘n volwaardige Engelse eerstejaargroep parallel aan die Afrikaanse groep begin is.

Teen 1917 het die Victoria College altesaam 503 studente en 40 dosente gehad en studente het toe nog ‘n B.A.-graad in Wetenskap gekry. Sedert 1918, die ontstaansjaar van die Universiteit van Stellenbosch en die Fakulteit Wiskunde en Fisiese Wetenskap, word ‘n B.Sc.- graad toegeken. Die Fakulteit is in 1957 hernoem na die Fakulteit Natuurwetenskappe.

Soos kontak en oorvleueling tussen Fisika en Chemie gelei het tot die veld van Fisiese Chemie, het die veld van Biochemie mettertyd ontwikkel tussen Fisiologie en Chemie en in 1934 is ‘n senior lektoraat in Biochemie in die Chemiedepartement geskep wat in 1964 gevolg is deur ‘n leerstoel in Biochemie met die aanstelling van prof. J.H. (Hannes, ‘Liefie’ onder studente) Barnard. In 1974 het Biochemie ‘n onafhanklike departement geword toe Landboubiochemie (van die Fakulteit Landbou) en die bestaande Biochemie-afdeling kragte saamgesnoer het.

‘n Besondere eienskap van die Departement gedurende sy vroeë jare (en trouens grotendeels dwarsdeur sy geskiedenis) was kwaliteitonderrig. Die impak van die eerste generasies van akademici wat hul doktorsgrade in Europa en Amerika verwerf het, kan nie onderskat word nie. Hulle het goeie gehalte opleiding gebied aan die opkomende geslagte jong chemici wat deur hulle onderrig is, alhoewel hulle nie self veel navorsing gedoen het nie. ‘n Naam wat dadelik by oud-studente opkom, is dié van die besonder gewilde en gerespekteerde akademikus, Joey Joubert, wat sy doktorsgraad aan die Massachusetts Institute of Technology, een van die mees vooraanstaande universiteite in die VSA, behaal het. Dan was daar onder andere ook P.W. van der Merwe (Universiteit Göttingen), Gideon Krige (Göttingen) en J.H. Kritzinger (Dr. Ing. Chem., Aachen). Dosente van die Departement het ook later ‘n belangrike bydrae gelewer tot die verskyning van die eerste voorgraadse chemiehandboeke in Afrikaans. Die Inleiding tot die Anorganiese en Fisiese Chemie was die eerste en het in 1981 die lig gesien, terwyl die Inleiding tot Organiese Chemie in 1982 gevolg het.

Dr J.H. Kritzinger was een van Stellenbosch se groot geeste. Studente van oor die hele kampus – nie net chemiestudente nie – het die legendariese ‘Krit’ of ‘Krittie’, soos hy onder die studente bekend was, se lesings volgepak. Met sy aftrede in 1971 het een van sy oud-studente geskryf: ‘Met verwondering besef ek weer eens dat hy die lewende karikatuurvoorbeeld van die storieboek wetenskaplike is – effens verstrooid en tog dierbaar, intens betrokke by sy vak, met tog 'n wye algemene belangstelling, en natuurlik net so effens misterieus- eksentries. ‘Krit’, ons gaan u mis!’ Kritzinger het inderdaad, naas chemie, ook ‘n wye belangstelling in die wetenskap as sulks gehad. Hy het onder andere ‘n deeglike kennis van die sterrekunde gehad, was alombekend as ‘n kenner van die slyp van edel-en halfedelgesteentes en het ook teleskooplense geslyp.

Chemie kry sy eie gebou

Die heel eerste gebou wat op die kampus opgerig is nadat die Universiteit in 1918 tot stand gekom het, was die De Beersgebou vir Chemie, geleë op die hoek van Merrimanlaan en De Beerstraat.

Voor die oprigting van die De Beersgebou

Toe die nuutgestigde Universiteit in 1918 met sy werksaamhede begin het, het hy oor slegs ses akademiese geboue beskik. Een hiervan was die Laboratorium voor Scheikunde, geleë op die perseel van die huidige H.B. Thomteater. Dit het voorheen bekend gestaan as die Hollandse Saal en het die departemente Chemie, Dierkunde en Toegepaste Wiskunde vanaf 1908 gehuisves. Vanaf 1918 het die departement Chemie die hele gebou in beslag geneem en dit het in daardie stadium beskik oor algemene laboratoria asook 'n spesiale laboratorium vir Fisiese Chemie, twee klaskamers, 'n skaalkamer en vyf kleiner vertrekke vir die gebruik van personeel en stoorruimte.

Die De Beersgebou

Die planne vir die nuwe gebou is reeds in 1919 opgestel ‘geheel naar de eisen van de tijd ingericht’. Teen 1920 is die fondamente gelê, maar die gebou, plus ‘n steenkoolgasinstallasie, is eers vroeg in 1923 voltooi danksy ‘n skenking van £25,000 deur die De Beers Maatskappy van Somerset-Wes en op 4 Junie van dieselfde jaar plegtig geopen deur Sir David Harris, ‘n mynmagnaat en direkteur van De Beers. Die goeie verstandhouding tussen De Beers en die Chemiedepartement het ook daartoe gelei dat die maatskappy baie jare lank al die anorganiese sure wat deur die Departement benodig is, geskenk het.

Finalyearstudent1923.png

Die dosente en derdejaarstudente van 1923 – die eerste finalejaarklas in die De Beersgebou. Die vyf dosente sit in die twede ry van voor, vanaf die derde van links: dr. D.B. Joubert, prof. C.D. van der Merwe, prof. B. de St. J. van der Riet, prof. D.F. du Toit en dr. (later prof.) J.M. Joubert

‘n Opvallende kenmerk van die De Beersgebou was dat daar nie afgeskeep is met materiaal wat destyds beskikbaar was nie. Daar is op ruim skaal gebruik gemaak van egte Birmaanse kiaat en die laboratoria en leeskamers het almal Jarravloere gekry. Die ingangsportaal se vloer is van wit en swart ingevoerde marmer, die fondamente en ingangstrappies van graniet. Daar kan gesê word dat daar, soos in paleise, met ruimte gemors is, maar dit is juis hierdie eienskap wat aan die gebou sy sjarme verleen, soos byvoorbeeld die binneplein met sy breë, gewelfde gange. In al die jare van sy bestaan is daar aan sy uiterlike geen veranderinge aangebring nie – die De Beersgebouw vir Gemie is in een bou klaar gebou! In sy ‘hart’ het daar egter baie veranderinge en vernuwings plaasgevind.

In 1990 het die De Beersgebou teen ‘n koste van R5.5 milj ‘n totale vernuwing ondergaan om voorsiening te maak vir veranderende behoeftes en veral ook veiligheidsvereistes. Die gebou is heeltemal ontruim en die personeel is vir bykans ‘n jaar lank op verskeie plekke elders op die kampus gehuisves. Die vernuwing het onder andere ‘n gesofistikeerde analitiese laboratorium vir Ekologiese Chemie o.l.v prof. Ben Burger en moderne lesingsaal (die De Vriessaal) ingesluit.

In 2009/2010 word twee voorgraadse laboratoriums heeltemal nuut ingerig om hoofsaaklik die groeiende navorsingsgroepe in Supramolekulêre Chemie (o.l.v. prof. Len Barbour) en Organiese Chemie (o.l.v. prof. Willem van Otterlo) te akkommodeer. En éindelik word daar in 2014 aandag gegee aan die toeganklikheid van die gebou vir fisies gestremde persone: ‘n hysbak, kleedkamer en rolstoel-oprit word toegevoeg. So het die De Beersgebou tred gehou met ontwikkelinge in chemiese navorsing deur opgradering en modernisering, maar terselfdertyd ook daarin geslaag om iets van sy ouwêreldse aantrekkingskrag te behou.

Debeersorignal.png

De Beersgebou na voltooiing in 1923

Oldandnew.png

Die oue... ... en die nuwe

3. Die 1950 – 1980’s

As gevolg van beperkte personeel en fasiliteite, is belowende studente tot omtrent 1950 aangeraai om in hul eie belang oorsee te gaan vir gevorderde navorsingstudies en dan op Stellenbosch te kom promoveer. Maar sedert 1954 is D.Sc.-grade in Chemie hoofsaaklik toegeken vir navorsing wat uitsluitlik in die Departement self gedoen is en is die heel eerstes in daardie jaar toegeken aan F. van Zyl (in Biochemie), D.M. (Daan) Kemp (dosent aan US en later hoof van die Chemie Afdeling van die Raad op Atoomkrag) en J.G.H. (Jan) du Preez (Springbok rugbyspeler en later professor in Anorganiese Chemie aan die Universiteite van Wes-Kaapland en Port Elizabeth). Die promotor van eersgenoemde kandidaat was dr. Hannes ‘Liefie’ Barnard en van laasgenoemde twee kandidate was prof. E.F.C.H. (Egmont) Rohwer wat sy doktorsgraad aan die Universiteit Freiburg behaal het en professor in Anorganiese Chemie was tussen 1951-1977. In een stadium was daar 14 professore in chemie gelyktydig by verskillende Suid-Afrikaanse Universiteite in diens wat hulle opleiding in die Departement ontvang het en waarvan meer as die helfte van hulle Egmont Rohwer as studieleier vir 'n M.Sc. of Ph.D.-graad gehad het. Een van sy studente en sy opvolger as professor in Anorganiese Chemie, prof. J.J. (Joh) Cruywagen, was vir sowat 40 jaar betrokke by navorsing in die veld van molibdeenchemie. Rohwer en Cruywagen se ontdekking dat daar (anders as wat destyds algemeen aanvaar is) ‘n koördinasiegetalverandering in die eerste ionisasiestap van molibdeen plaasvind, het die komplekse gedrag van molibdeen verklaar.

Rohwergarbersmikedevries.png

Van inks na regs: Prof. Egmont Rohwer Prof. Chris Garbers Prof. Mike de Vries

'n Unieke kenmerk van die Departement was sy Radiochemie-afdeling wat deur dr. Daan Kemp begin is en later deur prof. C. (Len) Olivier uitgebou is om opleiding vanaf derdejaar- tot Ph.D.- vlak te voorsien.

Van Stellenbosch se ‘groot geeste’ gepraat: tydgenote van mnr. Frits Stegmann sal hom onthou as veel meer as net ‘n senior dosent in Fisiese Chemie (1948-1984). Hy was briljant – op skool is hy as ‘n tweede Einstein beskryf – en daar is na hom verwys as ‘n lewende musiekensiklopedie. Sy plateversameling was die grootste in die land, selfs groter as dié van die destydse SAUK. Hy was onder andere skrywer van die standaardwerk Die Afrikaanse Operettegids. Merkwaardig was sy groot persoonlike vriendekring van wêreldberoemde musici met wie hy gereeld gekorrespondeer het en vir wie hy soms besoeke aan Suid-Afrika help bemiddel het, onder andere Sir Thomas Beecham, Igor Stravinsky, Richard Tauber, Jean Sibelius, Benjamin Britten, Herbert von Karajan, om maar ‘n paar te noem.

Al die chemie-afdelings is omtrent 35 jaar lank onder een dak in die De Beersgebou gehuisves totdat groeiende studentegetalle die oprigting van die sogenaamde Eerstejaargebou (ook in De Beerstaat) in 1958 genoodsaak het. Dit is in 1964 gevolg deur ‘n gebou in Bosmanstraat wat hoofsaaklik deur anorganiese chemici beset is en ook die chemiebiblioteek en die werkswinkels van die glasblaser en elektronikus gehuisves het.

In die sewentigerjare het die Departement die dienste van mnr. Geiling, ‘n meester-glasblaser uit Duitsland, bekom. Twee van sy opvolgers, Frank Lyons en Eric Ward, albei meester-glasblasers uit Brittanje en twee van die Departement se gewilde en interessante karakters, het die trotse tradisie op Stellenbosch voortgesit.

Soos die glasblasers, het die tegniese personeel oor die jare ‘n onmisbare rol in die navorsing en opleiding gespeel. Die heel eerste laboratoriumassistent wat in die Departement aangestel is, was die legendariese John Biscombe, wat oorspronklik ‘n loodgieter van beroep was en reeds voor die eerste wêreldoorlog deur Sarel van der Merwe van ‘n inmaakfabriek in Wellington afgerokkel is. Deur sy ervaring het John waarskynlik net soveel van die praktiese sy van die anorganiese en organiese chemie geweet as die meeste voorgraadse studente, alhoewel sy teoretiese kennis baie gevaarlik was. Toe William Adonis in 1975 by Egmont Rohwer aanmeld vir diens en wou weet wat sy pligte behels, het die professor hom sonder meer na Neels Kannemeyer, die anorganiese chemie laboratoriumassistent, gestuur met die woorde: ‘Gaan vra vir Neels – hy sal jou alles sê.’ Adonis self het ‘n deskundige op die gebied van eerstejaarpraktika geword in die 42 jaar wat hy in die Departement se diens was. Glen de Jongh wat vanaf 1985 in die Departement se diens is as senior en hoof tegniese beampte, het tussen 2003 en 2014 as verteenwoordiger van die Universiteit se nie-akademiese personeel op die US Raad gedien.

Die Departement beset tans ook ‘n deel van die Mike de Vriesgebou in Merrimanlaan en die Polimeerwetenskapgebou (meer hieroor later), wat beteken dat die Departement in vyf afsonderlike geboue op die kampus gehuisves word – inderdaad ‘n logistiese uitdaging.

In 1958 het prof. C.F. (Chris) Garbers by die Departement aangesluit nadat hy die D.Phil.-graad in 1954 met onderskeiding onder die Nobelpryswenner Paul Karrer aan die Universiteit van Zurich voltooi het. Hy was professor in Organiese Chemie vanaf 1966 tot sy uittrede in 1978 en het ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van navorsing in die Departement gespeel met die totstandkoming van die Navorsingseenheid vir Polieenchemie, waarvan hy hoof was. Gedurende 1964 was hy ‘n medewerker van die 1969-Nobelpryswenner, Derek Barton, aan die Imperial College of Science and Technology in Londen.

Chris Garbers was tussen 1980 en 1990 President van die WNNR. Sy voorganger by die WNNR, Chris van der Merwe Brink, was ‘n Stellenbosch gegradueerde en word onthou as een van Suid-Afrika se vooraanstaande wetenskaplikes. Garbers was ‘n lid van die UNESCO/IUPAC International Chemistry Council, hy het op pres. Nelson Mandela se Nasionale Kommissie vir Hoër Onderwys gedien en die Staatspresident se Orde vir Voortreflike Diens is aan hom toegeken. Hy was ook in 1980 die ontvanger van die Suid-Afrikaanse Medalje (Goud) van die South African Association for the Advancement of Science en die Havengaprys van die Suid- Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1977. Toe die toonaangewende H van Eck- medalje in 1991 deur die Chemiese Instituut aan hom oorhandig is, is die seremonie in Pretoria bygewoon deur 12 van sy oud-studente wat almal op daardie stadium senior poste by universiteite en navorsingsinstansies in Pretoria en Johannesburg beklee het. ‘n Bewys van die hoë agting wat Garbers in Suid-Afrika geniet, is die vier ere-doktorsgrade waarmee hy vereer is deur die Universiteite van Suid-Afrika (1989), Kaapstad (1990), Stellenbosch (1991), en Pretoria (1994) onderskeidelik.

Chris Garbers se opvolger was prof. R.R. (Reinhardt) Arndt wat gedurende 1979 en 1980 professor in Organiese Chemie was en in 1990 die eerste President van die Stigting vir Navorsing en Ontwikkeling (SNO) (nou die Nasionale Navorsingstigting, NNS) geword het. Hy het saam met prof. Jack de Wet ‘n leidende rol gespeel in die vestiging van die NNS se evaluering- en befondsingstelsel wat navorsing in Suid-Afrika fundamenteel verander het. Arndt se bydrae tot die ontwikkeling van navorsing sedert die 1980’s kan nie oorbeklemtoon word nie. Die NNS het in 2004 erkenning hieraan gegee deur hom met die President’s Award for Lifetime Achievement te vereer en die Universiteit van die Vrystaat in 1993 deur ‘n ere- doktorsgraad aan hom toe te ken. In 1987, gedurende die vroeë stadiums van Suid-Afrika se verbinding met die Internet, het Arndt die behoefte ingesien om universiteite en navorsers aan ‘n nasionale netwerk te koppel en het hy hierdie proses geïnisieer.

In die jare kort na die Tweede Wêreldoorlog was tweede-, derdejaar- en nagraadse chemie studentegetalle relatief hoog, maar namate die klem verskuif het na die toegepaste wetenskappe, veral ingenieurswese, het getalle in die chemie oor die jare gekrimp, terwyl getalle in dienskursusse aan ander departemente en fakulteite toegeneem het. In die vyftigerjare was geld skaars, tegniese hulp in die laboratoriums min en navorsing nie ‘n prioriteit nie; onderrig wel. Die meeste van die leerplanne was verouderd en toerusting, gebruiksapparaat en wetenskaplike instrumentasie moes opgradeer word. Dit was egter van groot hulp dat die WNNR sy moderne instrumentasie tot beskikking van universiteite gestel het. En van deurslaggewende belang was die finansiële ondersteuning van die WNNR se Afdeling Universiteitsnavorsing, addisioneel tot die Universiteit se bydrae, om navorsing aan die gang te kry. ‘n Massiewe sprong in beskikbaarheid van toerusting was die besluit van die Universiteit om `n AEI hoë-resolusie massaspektrometer aan te koop en kort daarna `n skenking deur die Mielieraad van `n hoë-resolusie Varian 60 MHz Kernmagnetiese Resonansiespektrometer vir, onder andere, navorsing oor die verbetering van die voedingswaarde van mielies as stapelvoedsel. Hierdeur, en met toerusting reeds aangeskaf met WNNR-steun, was die Departement eindelik goed toegerus vir navorsing. Die goedkeuring in 1969 deur die WNNR van `n US/WNNR Navorsingseenheid vir Polieenchemie in die Chemiedepartement het navorsing `n verdere hupstoot gegee.

Dit is interessant om die pryse van die eerste groot apparate wat deur die Departement aangekoop is, te vergelyk met huidige pryse. Die bogenoemde hoë-resolusie massaspektrometer is byvoorbeeld in 1970 vir die bedrag van R72 000 aangekoop, terwyl die huidige koste van ‘n X-straaldiffraktometer (waarvan Len Barbour vier in sy laboratorium het) sowat R9.5mlj is. Die vervangingskoste van die 600 MHz KMR apparaat wat in 1998 teen R10milj* aangekoop is, en wat binnekort nodig sal wees, beloop reeds meer as R20milj. [*Die Universiteit het egter net R5milj daarvoor betaal nadat Varian ‘n 50% korting toegestaan het. In ruil hiervoor moes die apparaat deur mnr. Hendrik Spies, die Departement se KMR- tegnikus en gerekende KMR-spesialis, in werking gestel en bedryf word as ‘demonstrasiemodel’ met die oog op verdere verkope van die apparaat in Suid-Afrika.

Die instelling van B.Sc.(Honneurs)-grade gedurende die 1960’s kan ook gesien word as ‘n stap om navorsing aan die Universiteit te stimuleer. Ten einde aan te pas by die WNNR-befondsing van beurse vir nagraadse studie, is die gevestigde sisteem van ‘n 3-jaar B-graad gevolg deur ‘n 2-jaar M-graad verander na ‘n 3-jaar B-graad, gevolg deur ‘n 1-jaar Honneursgraad en daarna ‘n navorsingsgebaseerde M-graad.

In ‘n ondersoek na die stand van ingenieurswese in Suid-Afrika, is bevind dat alle fakulteite van ingenieurswese wel ook chemiese ingenieurswese moes aanbied. Die resultaat hiervan was die instelling van Chemiese Ingenieurswese op Stellenbosch in 1969 as ‘n gesamentlike oefening tussen die twee fakulteite – ‘n instelling wat talle voortreflike studente vir chemie studie opgelewer het, onder andere Ed Jacobs wat sy B.Sc.-B.Ing. in 1976 behaal het en sy Ph.D. in Polimeerwetenskap in 1988.

Chris Garbers was instrumenteel in die aanstelling van prof. (toe dr.) M.J (Mike) de Vries as senior lektor in die Departement nadat hy met ‘n Landboubeurs sy doktorsgraad in Fisiese Chemie summa cum laude aan die Albert Ludwig Universiteit van Freiburg verwerf het. Met die uittrede van Gideon Krige is De Vries in 1964 op jeugdige ouderdom as professor in Fisiese Chemie aangestel en in 1975 deur een van sy voormalige navorsingstudente, prof. W.J. (Willem) Engelbrecht, opgevolg. Mike De Vries se loopbaan as chemikus was relatief kort, maar die uitwerking was groot. Hy was ‘n groot dryfkrag in vernuwing van leerplanne en die lansering van navorsing. Hy was van 1976 tot 1979 Vise-Rektor van die Universiteit, Rektor vanaf 1979 en Vise-Kanselier vanaf 1981 tot sy aftrede in 1993. Die lesingsaal in die De Beersgebou is in 1992 na hom vernoem en die Mike de Vriesgebou in 2005.

Twee van Garbers se eerste navorsingstudente het albei later professore in Organiese Chemie in die Departement geword: prof. D.J. (Dawie) Schneider wat Reinhard Arndt as professor opgevolg het, het in die veld van organofosforchemie gespesialiseer, terwyl prof. B.V. (Ben) Burger sy kundigheid in beide Organiese en Analitiese Chemie saamgespan het om ‘n nuwe navorsingsveld, naamlik Chemiese Ekologie, in die Departement te vestig. Sy werk op die gebied van semiochemie het aan hom onder andere die Havengaprys (in 1989) en die Suid- Afrikaanse Chemiese Instituut se Medalje vir Chemie (Goud) (2004) besorg. In 2001 is die Internasionale M.J.E.Golay Silwermedalje in die VSA aan hom toegeken vir pionierswerk in die ontwikkeling van kapillêre chromatografie.

Ben Burger was die eerste dosent in die Departement om in 1979 ‘n na-doktorale navorser uit Europa onder sy toesig te laat werk. Een van sy buitelandse studente, Wolfgang Mackenroth, het in 1985 as voltydse na-doktorale navorser met behulp van ‘n WNNR-beurs in die Laboratorium vir Ekologiese Navorsing ingeskryf. Prof. Mackenroth, wat tans Vise-President van BASF is, het sedertdien jaarliks na Stellenbosch teruggekeer om lesings in Industriële Chemie as Buitengewone Professor aan te bied.

Toe die nuwe evalueringstelsel in 1984 deur die NNS geïmplementeer is, was Ben Burger en Dawie Schneider die eerste navorsers in die Departement wat ‘n evaluering gekry het en twee jaar later was Ben Burger en Fritz Hahne (Fisika) die eerste twee navorsers in die Fakulteit om A-evaluerings te ontvang .

‘n Mens kan nie die ontwikkeling van Polimeerwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch bespreek sonder om die rol van prof. R.D. (Ron) Sanderson daarby in te sluit nie; die twee is onlosmaaklik verweef. Ron Sanderson het pas sy Ph.D. aan die Universiteit van Akron in die VSA behaal en was op daardie stadium die enigste polimeerwetenskaplike in Suid- Afrika, toe hy in 1970 as senior dosent in die Departement aangestel is.

Navorsing in polimeerwetenskap het in ‘n enkele laboratorium in die ou Anorganiese gebou begin. Danksy Sanderson se dryfkrag, leierskap en entoesiasme, het dit uitgebrei totdat die Instituut vir Polimeerwetenskap in 1977 gevestig is as ‘n afsonderlike entiteit binne die Universiteit. Dit het as deel van die Chemiedepartement gefunksioneer, maar met befondsing uitsluitlik van buite die Universiteit. Sanderson is in 1978 as direkteur aangestel en het die pos tot sy aftrede in 2008 beklee. Twee van sy eerste Ph.D.-studente het later professore in Polimeerwetenskap geword: Prof. E.P. (Ed) Jacobs het internasionale erkenning ontvang vir die ontwikkeling van mikrofiltrasie membraan-tegnologie vir watersuiwering en prof. A.J. (Albert) van Reenen, wie se navorsing op die struktuureienskappe van poli-olefiene fokus, was die eerste akademikus, naas Sanderson, wat binne die Instituut aangestel en ten volle deur die Universiteit befonds is.

Soos die Instituut in statuur gegroei het, is die volgende mylpaal bereik, naamlik die instelling in 1982 van ‘n Honneursgraad in Polimeerwetenskap. Dit was die eerste, en is steeds die enigste, honneurskursus in Polimeerwetenskap op tersiêre vlak in Suid-Afrika.

Albert van Reenen vertel dat hy pas besluit het om vir die nuwe honneurskursus in polimeerwetenskap aansoek te doen, toe die Instituut se gebou tot op die grond afgebrand het (met skouspelagtige ontploffings – ‘n gebarste gassilinder is die volgende dag meer as ‘n kilometer van die vuur af gevind). Ron Sanderson het hom nie laat afskrik nie en sy werksaamhede na ‘n ou werkswinkel van Ingenieurswese verskuif. Dit is hier waar Van Reenen vir Sanderson die eerste keer ontmoet het; omring deur hope roetbesmeerde laboratoriumtoerusting en glasware. Hy het Sanderson uitgevra oor die honneursprogram en 30 minute later was hy besig om glasware skoon te maak; blykbaar reeds de facto ‘n honneursstudent...

Daar is veral twee inisiatiewe van Ron Sanderson wat ‘n reuse-impak gehad het op ontwikkelinge oor die afgelope twee dekades. Eerstens het hy twee groot maatskappye (Plascon en Mondi) oortuig om hul navorsing- en ontwikkelingsfasiliteite binne die Instituutgebou te huisves en hul aangekoopte toerusting aan die Instituut te skenk. Hierdie ooreenkoms, tesame met die THRIP program, het die algehele vernuwing van die Instituut se toerusting gedurende die 1990’s moontlik gemaak. Tweedens het hy die UNESCO Associated Center for Macromolecules and Materials begin en dit, tesame met sy verbintenis met die International Union of Pure and Applied Chemistry (IUPAC), het gelei tot ‘n reeks internasionale konferensies waarvan die eerste in 1998 op Stellenbosch gehou is. Hierdie inisiatief het gelei tot grootskaalse internasionale navorsingsamewerking en goeie verhoudinge met uitstaande internasionale akademici. Twee van hulle, Bert Klumperman en Harald Pasch, sou later ook poste in die Departement beklee. ‘n Meetbare effek van hierdie twee ontwikkelinge is byvoorbeeld dat die getal publikasies wat deur die Instituut gelewer is en voor 2000 baie beperk was, tussen 2000-2009 met bykans 230 toegeneem het en teen 2016 weer verder verdubbel het.

Laasgenoemde ontwikkelinge het saamgeval met die aanstelling van Helgard Raubenheimer as Hoof van die Chemiedepartement in 1999. Hy het begin werk maak daarvan om groter finansiële steun vir die Instituut te werf en terselfdertyd aandag gegee aan die akademiese kwelpunte. ‘n Addisionele akademiese pos vir Polimeerwetenskap is ingestel, waarin die huidige Hoof van die Departement, prof. (toe dr.) P.E. (Peter) Mallon aangestel is, en in 2008 is die Instituut formeel ontbind en die naam van die Departement verander na die huidige Departement Chemie en Polimeerwetenskap.

Peter Mallon vertel hoedat hy van die VSA gevlieg het vir sy onderhoud vir die nuwe pos, op ‘n Vrydag gearriveer het en gereed gemaak het om Ron Sanderson die Saterdag te ontmoet vir ‘n ‘kenmekaar’ sessie. Sanderson het hom by die gastehuis ontmoet, geklee in kortbroek, verf-besmeerde T-hemp en plakkies. ‘n Rukkie later bevind Mallon homself in Sanderson se huis, besig om hom te help verf.

Die impetus wat deur die ontwikkelinge in die laat-1990’s geskep is, het die bemiddeling van ‘n R25milj vernuwing van die infrastruktuur en sekere instrumentasie in die Polimeergebou moontlik gemaak. Tans beskik die Polimeerafdeling oor 5 moderne, goed-toegeruste laboratoria en ultramoderne toerusting. Daar is nou 8 akademiese personeellede in die afdeling (2 buitengewone professore wat navorsingstoele beklee, 2 volle professore, 1 navorser, 1 navorsingsgenoot en 2 dosente), met ‘n goeie getal ondersteunende personeellede (insluitend die laaste oorblywende, ten volle ekstern-befondsde, werknemer in die afdeling). Verder is daar nie minder nie as 51 nagraadse studente in die afdeling. Dit is nogal ‘n aansienlike entjie verwyder van een klein laboratorium in 1977...

4. Aan die vooraand van ‘n nuwe millennium

Burgersandersraubenheimer.png

Van links na regs: Prof. Ben Burger, Prof. Ron Sanderson and Prof. Helgard G. Raubenheimer

In 1998 het prof. H.G. (Helgard) Raubenheimer, ‘n Stellenbosch gegradueerde, as professor in Anorganiese Chemie by die Departement aangesluit. Hy was voorheen van die Randse Afrikaanse Universiteit (tans Universiteit van Johannesburg) en het met sy navorsingspan, bestaande uit vyf na-doktorale studente van Duitsland en ‘n aantal Ph.D.- en M.-studente, Stellenbosch toe verhuis om navorsing in organometaalchemie van hoofsaaklik goudverbindings, hier te vestig – ‘n navorsingsveld wat heeltemal nuut was in die Departement. Hy het ook sy ondervinding in bedryfskoppeling – die suksesvolle koppeling van industrie met universiteitsnavorsing – Stellenbosch toe gebring. Dit sou ‘n groot impak op die groei van die Departement gedurende sy termyne as Departementshoof (1999-2008) hê (soos trouens reeds hierbo ten opsigte van die ontwikkeling van die Polimeerafdeling genoem is).

Helgard Raubenheimer se navorsing van wêreldgehalte het grootliks gebaat by sy medewerking met Nobelpryswenner Ernst Otto Fischer aan die Tegniese Universiteit van München in 1973 en 1980 en met Dieter Seebach aan die ETH in Zurich in 1985. Hy was die ontvanger van onder andere die Havengaprys in 2008 en die SACI Goue Medalje vir Chemie in 2002. Ter erkenning van sy navorsing met betrekking tot ligandontwerp en toepassing in katalise en medisyne, is ‘n Spesiale Uitgawe van Zeitschrift für Naturforschung B ter geleentheid van sy 65ste verjaarsdag aan hom opgedra.


Met sy aftrede in 2008 is Raubenheimer as professor in Anorganiese Chemie opgevolg deur prof. S.F. (Selwyn) Mapolie, ‘n gegradueerde van die Universiteit van Kaapstad (1989) en voorheen vir bykans 17 jaar verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), onder andere as Vise-Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe. Sy navorsing fokus op organometaalsintese, dendrimeerchemie, homogene katalise en polimeriese hibriedmateriale.

Toe ‘n nuwe leerstoel in Analitiese Chemie in 1998 ingestel is, is prof. K.R. (Klaus) Koch, wat voorheen aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was, in die pos aangestel. Koch was met sy aanstelling reeds ‘n gevestigde anorganiese chemikus in die veld van platinumgroepmetale asook ‘n KMR-spesialis. Hy lewer ‘n groot bydrae tot hoë gehalte navorsing asook die onderrig van molekulêre spektroskopie, in besonder KMR spektroskopie, in die Departement. Klaus Koch het tussen 2009-2013 as Hoof van die Departement gedien.

Die Analitiese afdeling het ‘n besondere hupstoot gekry met die buitengewone aanstelling van prof. P. (Pat) Sandra van die Universiteit van Ghent en die Eindhoven Tegnologiese Universiteit, en toonaangewende skeidingswetenskaplike aan wie die gesogte LCGC Lifetime Achievement Award in 2017 toegeken is. Sandra was die eerste navorser aan die Universiteit wat die hoogste A1-evaluering van die NNS ontvang het en hy het ‘n betekenisvolle bydrae gemaak tot die gevorderde onderrig en navorsing in Analitiese Chemie in die Departement.

Die kapasiteit en kundigheid in die Analitiese afdeling is in 2007 verder uitgebou deur die aanstelling van prof. (toe dr.) A.J. (André) de Villiers, ‘n skeidingswetenskaplike en voormalige student van Pat Sandra, wat veral in wynnavorsing spesialiseer. De Villiers het wêreldwye erkenning vir sy navorsing ontvang toe hy in 2014 die ontvanger was van die gesogte LCGC Emerging Leader in Chromatography Award, wat erkenning gee aan ‘a talented young professional who has made strides early in their career towards the advancement of chromatographic applications and techniques.’ Hy is ook die 2015 ontvanger van die SACI Raikes Medalje.

‘n Belangrike stap is in 1999 geneem met die aanstelling in die Fisiese Chemie afdeling van prof. J.L.M (Jan) Dillen uit België, ‘n spesialis in struktuurchemie, rekenaargesteunde molekulêre modellering en kwantummeganika. Hy het sy doktorsgraad in 1981 aan die Universiteit van Antwerpen verwerf en was voorheen verbonde aan die WNNR en die Universiteit van Pretoria.

In die jaar 2000 het die Departement ‘n proses van eksterne evaluering ondergaan en die lede van die evalueringspaneel was dit eens dat, alhoewel hulle beïndruk was met die kwaliteit van die akademici se onderrig, dit in sommige gevalle moontlik tot nadeel van navorsing was. In werklikheid was op daardie stadium slegs 10 van die 17 akademici NNS-geëvalueerdes.

5. ‘n Tydperk van ongekende groei: 2000 – 2008

In 2003 vier die Departement sy honderdjarige bestaan! ‘n Funksie is op 4 Februarie 2004 gehou wat deur genooide oud-dosente en -studente bygewoon is en waartydens Chris Garbers, Reinhard Arndt, Ben Burger, Helgard Raubenheimer, Joh Cruywagen, Dawie Schneider en Erick Strauss die gassprekers was. Voorwaar ‘n aand van nostalgie en trotse herinneringe...

In 2008 het die paneel verantwoordelik vir die eksterne evaluering van die Departement, anders as met die 2000 evaluering, die goeie gehalte navorsing in die Departement en toename in uitsette erken en die Departement daarmee gelukgewens. Die paneellede het na drie individue (Burger, Sanderson en Raubenheimer) verwys as ‘the three giants of this Department’ en gesê: ‘Prof Raubenheimer‘s vision and management have rendered this one of the of the leading teaching and research Departments in South Africa.’ Die Departement ondergaan vanaf 1998 aansienlike herstrukturering teen groot koste (investering van meer as R10milj reeds teen 2006) veral ten opsigte van die aankoop van nuwe navorsingstoerusting en die aanstelling van sleutel-personeellede. Nadat feitlik alle professore in die voorafgaande tydperk afgetree het, het die dekane Fritz Hahne (veral) en Albert van Jaarsveld en die rektore Andreas van Wyk en Chris Brink, in die daaropvolgende jare belangrike motiverende en finansieel ondersteunende rolle gespeel by die heropbou van die Departement.

Vyf chemici is gedurende hierdie periode deur die NNS uitgesonder as internasionale leiers in hul onderskeie velde (met A of B1 evaluerings) en twee gesogte NNS/DWT SARChI Leerstoele aan is in die Departement gevestig. Hierdie erkennings het dit moontlik gemaak om aansienlike finansiële befondsing van die Universiteit, privaatindustrieë en die NNS te bekom, hoofsaaklik vir kapasiteitsontwikkeling, die opgradering van bestaande laboratoriums en vir die strategies belangrike omskepping van bestaande voorgraadse laboratoriums in moderne navorsingsruimtes.

Fondse is ook beskikbaar gestel vir die aanstelling van die nodige ondersteuningspersoneel, die aankoop van belangrike gesofistikeerde kapitaaltoerusting (bv. ‘n 500 MHz vastetoestand KMR spektrometer) en die aanstelling van ‘n nuwe professor in Polimeerwetenskap in ‘n SASOL-geborgde Navorsingsleerstoel. Hier is dit gepas om erkenning te gee aan SASOL se betekenisvolle betrokkenheid oor baie jare by die uitbouing van die Departement en veral ook later, die afdeling Polimeerwetenskap. SASOL Polymers se ruim borgskap oor etlike jare was bydraend tot die besondere groei en produktiwiteit van hierdie afdeling.

Die drie Navorsingsleerstoele is inderdaad hoogtepunte in die meer onlangse geskiedenis van die Departement. Die SA Navorsingleerstoele is in 2006 en 2007 aan onderskeidelik Bert Klumperman (Gevorderde Makromolekulêre Argitekture) en Len Barbour (Nanogestruktureerde Funksionele Materiale) toegeken, terwyl die SASOL-leerstoel in 2008 aan Harald Pasch (Analitiese Polimeerwetenskap) toegeken is.

Klumpbarnerpasch.png

Van links na regs: Prof. Bert Klumperman, Prof. Len Barbour, and Prof. Harald Pasch

Prof. L. (Bert) Klumperman het sy Ph.D. aan die Eindhoven University of Technology (Nederland) in 1994 behaal en sy D.Sc. aan die Universiteit van Stellenbosch in 2012, met prof. Peter Mallon as sy promotor. Toe hy in 2006 aan die Universiteit aangestel is, was hy reeds as Buitengewone Professor in die Departement betrokke by die aanbied van lesings en begeleiding van nagraadse studente. Klumperman, wat sedert 2007 ‘n NNS A-geëvalueerde navorser is, is die redakteur van die European Polymer Journal (Elsevier) en hoofredakteur van Transactions of the Royal Society of South Africa. Hy het die SACI Goue Medalje in 2013 ontvang en is ook die ontvanger van die 2016 NSTF Lifetime Award en die 2018 John F.W. Herschel Medalje van die Royal Society of South Africa, wat die senior medalje van die Vereniging is.

Prof. L. J. (Len) Barbour het in 2003 by die Departement aangesluit en ‘n splinternuwe navorsingsveld, supramolekulêre chemie en materiale, gevestig. In 2007 is een van die eerste DWT/NNS Navorsingsleerstoele aan hom toegeken en kort daarna is aansienlike veranderinge aan ‘n vleuel van die De Beersgebou aangebring om sy navorsingsgroep en gesofistikeerde instrumentasie te akkommodeer. Barbour het sy Ph.D. in 1994 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en ‘n D.Sc. aan die Universiteit van Stellenbosch in 2013, met promotor prof. Catharine Esterhuysen. Hy is ‘n NNS A-geëvalueerde navorser, ‘n Genoot van die Royal Society of Chemistry (VK), en ontvanger van ‘n SACI Goue Medalje (2014). Hy is ook vereer met die NSTF-toekenning vir Research and its Outputs Over the Past 5 Years or Less (2007/8) en die SASOL Innovator of the Year Award (2013).

Prof. H. (Harald) Pasch het sy Ph.D. in Makromolekulêre Chemie aan die German Academy of Sciences (Berlyn) in 1982 behaal en sy D.Sc. (Habilitasie, Makromolekulêre Wetenskap) aan dieselfde inrigting in 1987. Soos Bert Klumperman, het Pasch lesings aangebied en nagraadse studente begelei in sy hoedanigheid as Buitengewone Professor voordat hy in 2008 permanent in die Departement aangestel is. Pasch is die 2017 ontvanger van die SACI Goue Medalje.

In 2003 is dr. Erick Strauss, ‘n gegradueerde van die Cornell Universiteit, in die Departement aangestel, waar hy ‘n nuwe navorsingsgroep met die fokus op chemiese biologie gevestig het en die aanbieding van Chemiese Biologie as ‘n nuwe voorgraadse stroom in die Departement geïnisieer het. In 2008 het hy na die Departement Biochemie verskuif waar hy eers as mede- professor en later (in 2014) as professor in Biochemie aangestel is.

‘n Nuwe graad, BSc Tekstiel- en Polimeerwetenskap, is in 2003 in die Departement bekendgestel en het later ontwikkel in ‘n 3-jaar B.Sc. in Chemie: stroom Tekstiel- en Polimeerwetenskap. Die ontwikkeling van hierdie unieke graad is deur Adine Gerickegekoördineer, met die entoesiastiese leiding en ondersteuning van Ron Sanderson en sleutelrolspelers in die SA Tekstielindustrie.

Dit is beduidend dat, soos reeds genoem, die volledige integrasie in 2008 van die Polimeerinstituut binne die hernoemde Departement Chemie en Polimeerwetenskap ook in hierdie gebeurtenisvolle periode plaasgevind het.

Teen 2007 was nie minder nie as 72% van die akademici in die Departement NNS- geëvalueerdes, wat ‘n aansienlike toename in navorsingskapasiteit sedert die vorige eksterne evaluering (in 2000) verteenwoordig het. Daar was byvoorbeeld ‘n beduidende toename in eweknie-geëvalueerde, subsidiedraende publikasies, wat dié van die res van die Fakulteit vir die periode 2005-2007 oortref het. In 2006 het die Departement homself oortref met ‘n rekordgetal publikasies in erkende tydskrifte in een jaar, naamlik 86.

Die meeste van die navorsing in die Departement het op daardie stadium binne nie minder nie as 15 navorsingsgroepe plaasgevind! Daar is besef dat minder en groter groepe waarskynlik nodig was om ‘n groter internasionale impak te maak en die vestiging van groter samewerkende fokus het dus ‘n doelwit vir die volgende vyf jaar geword.

Hierdie is miskien die gepaste plek om daardie fokusareas wat besondere internasionale aandag op die Departement gevestig het en waarbinne publikasies gereeld aangehaal is en steeds aangehaal word, uit te lig. ‘n Paar hoort reeds tot die verlede, maar die meeste is steeds aktief. Die eerstes was sekerlik Rohwer en Cruywagen se ionisasie-ewewigte en koördinasiechemie van molibdeen (o.a. uitgebreid aangehaal in die gesaghebbende Advanced Inorganic Chemistry van Cotton en Wilkinson), en Garbers se polieenchemie (1960’s en 1970’s). Dit is gevolg deur Burger se semiochemie (1976-hede, veral ook die werk op miskruiers tussen 1983-2007), polimeerchemie deur Sanderson (1970’s-onlangs), Raubenheimer se karbeen- en goudchemie (1998-hede), en Koch se KMR-werk (1998-hede). Publikasies deur Klumperman oor ontwerp, sintese en karakterisering van komplekse polimeerargitekture (2002-hede), Barbour en mede-werkers oor supramolekulêre chemie (2004-hede), en Pasch oor analitiese tegnieke vir polimere (2008-hede) word internasionaal as gesaghebbend in hul onderskeie velde beskou. Meer onlangs het veral Willem van Otterlo en André de Villiers ook duidelike voetspore op die internasionale terrein gelaat.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat elkeen van hierdie leidende wetenskaplikes ook ‘n hele span nagraadse studente, navorsers en akademiese medewerkers verteenwoordig wie se onmisbare insette bydraend tot hul sukses was.

6. En steeds is daar groei [2009 – hede]

Drie van die Departement se personeellede dra nou die ere-titel: Uitgelese Professor, op grond van hul internasionale statuur en ander kriteria van uitnemendheid: Bert Klumperman en Harald Pasch (vanaf 2014) en Len Barbour (vanaf 2016).

‘n Groot aanwins vir die Departement, en veral die Organiese Chemie afdeling, was die aanstelling van prof. W.A.L. (Willem) van Otterlo in 2010 vanaf die Universiteit van die Witwatersrand, waar hy ook sy Ph.D. in 1999 behaal het. Van Otterlo, ‘n SACI Raikes medaljewenner (2004), het sedertdien ‘n aktiewe, groeiende navorsingsgroep, die Groep vir Medisinale en Organiese Chemie (GOMOC), in die Departement gevestig deur kragte saam te snoer met die bestaande groep van dr. Gareth Arnott. Die groep se navorsing fokus op gerigte organiese sintese en sluit navorsing in medisinale chemie, chemiese biologie en biochemie in, asook toenemende samewerking met die navorsingsgroep van Bert Klumperman t.o.v. nuwe polimeergebaseerde farmaseutiese toedieningsisteme. Daar is omtrent 20 nagraadse studente in die GOMOC-groep, tans die tweede grootste groep in die Departement naas die groepe in polimeerwetenskap.

Belangrike aspekte van groei gedurende hierdie periode is steeds uitstekende navorsingsuitsette en ook die Departement se inisiatiewe ten opsigte van veiligheid en gemeenskapsinteraksie – veral SUNCOI (SU Chemistry Outreach Initiative) onder leiding van Rehanna Malgas-Enus en Klaus Koch. Die herstrukturering van die Departement onder ‘n Uitvoerende Departementshoof werp positiewe vrugte af en die twee Hoofde, Klaus Koch (2009-2013) en Peter Mallon (2013-hede) speel belangrike rolle hierin.

Afgesien van die reeds gemelde reuse-investerings in die infrastruktuur van die De Beers- en Polimeerwetenskapgeboue, het die Departement ook grootliks gebaat by ‘n meer onlangse investering ten opsigte van die Eerstejaargebou. Die gebou het grootskaalse vernuwing ondergaan en is omskep in ‘n eerstejaar-onderrigkompleks wat in hierdie, die Universiteit se eeufeesjaar, in bedryf gestel word.

Alhoewel hierdie hoofstuk uiteraard fokus op die hoogtepunte ten opsigte van navorsingsprestasies in die Departement, kan nie nagelaat word om weereens melding te maak van die tradisie van toewyding aan kwaliteitonderrig wat teruggaan tot sover as die ontstaan van die Departement en vandag steeds voortleef, ofskoon op ‘n ietwat groter skaal! In die vroeë jare was daar slegs ‘n handjievol eerstejaarstudente en vandag het die Departement sowat 1000 eerstejaarstudente per jaar. In 2010 is die Eerstejaar Prestasietoekennings deur die Universiteit ingestel en sedertdien is vyf van die Departement se dosente al genomineer en vereer vir hul passie en toewyding in die onderrig van hul vak, sommige by meer as een geleentheid. Vroeër (tussen 1994-2009) is vier voormalige chemiedosente met die Rektor se Toekenning vir Voortreflike Onderrig vereer vir hul besondere bydrae tot onderrig.

Die Departement Chemie en Polimeerwetenskap is tans een van die grootste departemente van die Universiteit met altesaam 59 akademiese en ondersteuningspersoneellede. Die gemiddelde ouderdom van die akademiese korps – 46 jaar – is relatief jonk en die gemiddelde ouderdom neem nog verder af as die navorsingstudente deel vorm van die berekening: 54 M.Sc., 65 Ph.D. en 16 na-doktoraal.

Toe die Universiteit in 1978, 60 jaar ná sy totstandkoming, sy deure amptelik vir studente van alle bevolkingsgroepe oopgestel het, was daar daardie jaar slegs twee swart studente in die eerstejaar chemieklas. Daar was op daardie stadium geen swart dosente in die Departement nie. Tans is 45 (sowat 38%) van die Departement se nagraadse studente swart, terwyl 4 akademiese personeellede, waaronder ‘n professor en senior lektor, swart is.

Vandag is dit nogal komies om te dink dat die Anorganiese gebou in 1964 aanvanklik ingerig is met drie stelle kleedkamers: een vir mans, een vir dames en een vir dosente. Die implikasie was natuurlik dat alle chemiedosente van dieselfde geslag, naamlik manlik, was. Dit was dan ook die geval totdat die eerste vrou, dr. Maritha le Roux, in 1977 as deeltydse dosent aangestel is. Daarna is wel mettertyd vroulike personeellede permanent aangestel en vandag lyk die prentjie aansienlik anders (beter!): van die 24 dosente is 10 vroue, waaronder ‘n professor en ‘n mede-professor. Prof. C. (Catharine) Esterhuysen, ‘n spesialis op die gebied van struktuurchemie, het haar Ph.D. in 2000 aan die Randse Afrikaanse Universiteit behaal en in 2000 by die Departement aangesluit. Sy is die eerste vrou wat die pos van mede-professor (vanaf 2012) en volle professor (vanaf 2018) in die Departement beklee. Prof. D.A. (Delia) Haynes, wat haar Ph.D. in 2002 aan die Universiteit van Cambridge (VK) verwerf het, is in 2007 in die Departement aangestel en in 2014 tot mede-professor in Anorganiese Chemie bevorder. Sy spesialiseer in kristalmanipulering.

‘n Oorsig van die Departement se navorsingsaktiwiteite bevestig dat die Departement een van die twee leidende chemiese navorsingsdepartemente in Suid-Afrika en Afrika in die breë is en die Departement tans die hoogste getal NNS-geëvalueerde navorsers (altesaam 18) in die land het. Die twee A-geëvalueerdes in die Departement verteenwoordig die helfte van al die A- geëvalueerde chemici in Suid-Afrika, en die vyf B-geëvalueerdes 16.6% van B-geëvalueerde chemici. Alhoewel die drie Navorsingsleerstoele ‘n baie groot bydrae tot die Departement se navorsingsuitset maak, is daar tans ook ‘n breë basis van kwaliteitnavorsing in die Departement wat nie altyd die geval was nie.

Bostaande stelling word gedeeltelik bevestig deur die feit dat die Departement onlangs (2015) aangewys is as die leidende Chemiedepartement in Afrika op grond van sy bydrae tot die Nature Index, wat in die Nature joernaal gepubliseer word. Hierdie internasionale indeks neem slegs publikasies wat in 68 geselekteerde, toonaangewende wetenskaplike joernale gepubliseer is, in ag. Belangrike bydraes is gemaak deur die navorsingsgroepe verbonde aan die Navorsingsleerstoele in die Departement, in besonder dié van Len Barbour. Alhoewel hierdie leidende posisie in latere jare gehandhaaf sou kon word, is dit belangrik dat die Departement homself in die toekoms teen klein departemente buite Afrika sal meet. Die uitdaging is verder om die nodige finansiële ondersteuning te vind om meer chemici deurlopend in staat te stel om hoë-kwaliteit publikasies by te dra.

Alhoewel die vestiging van Navorsingsleerstoele in die Departement aansienlike konsolidasie van navorsingsaktiwiteite meegebring het, is die doelwit wat aan die einde van 2008 gestel is ten opsigte van die vermindering van die aantal navorsingsgroepe, slegs gedeeltelik bereik. Dit sal in die toekoms waarskynlik toenemend nodig word vir meer groepe om hul navorsingspogings te kombineer om voldoende finansiële ondersteuning te bekom om wêreldklas navorsing te genereer.

ans is daar ‘n baie goeie balans van senior navorsers en jonger, entoesiastiese opkomende navorsers en opvoeders, wat nou besig is om die Departement se storie te skryf ‒ die storie wat in die toekoms sy geskiedenis sal word. Wanneer die tweede eeufees van die Departement oor ‘n honderd jaar van nou af gevier sal word, sal teruggekyk kan word op die huidige tydperk as een van groei as ‘n leidende navorsings- en onderrigdepartement in Suid- Afrika en op die Afrika-kontinent. En daar sal gesê kan word dat hierdie suksesverhaal die resultaat is van ‘n spanpoging waarin elke individuele akademiese en nie-akademiese spanlid ‘n onmisbare bydrae gelewer het.


‘n Laaste woord... In ‘n interessante artikel in die Matieland, vertel Hannes (‘Liefie’) Barnard van die De Beersgebou en sy mense in die jare 1922-1972 en dit is nogal opvallend hoe ingenome sy tydgenote en voorgangers met die Departement en sy dosente was. Volgens oorlewering was dit byvoorbeeld ‘n tradisie dat die vriende, kollegas en senior studente van prof. Sarel van der Merwe elke jaar op 4 September almal welkom was by sy verjaardag. Daar was daardie dae klaarblyklik ‘n gemoedelike, gelukkige atmosfeer in die Departement.

En ‘n honderd-plus jare later? Toe Albert van Reenen onlangs gevra is waarom internasionaal gerekende chemici soos dié wat die navorsingsleerstoele beklee, kies om in Suid-Afrika te bly en te werk, was sy antwoord: ‘Want hulle is gelukkig hier! Stellenbosch is ‘n mooi dorp om in te woon en werk en ons is ‘n gelukkige departement!’

Panta rei! – alles vloei , alles verander... maar tog is daar dinge wat bly...

BRONNE

  • Africana collection, JS Gericke Library, Stellenbosch University
  • S2A3 Biographical Database of Southern African Science
  • Stellenbosch 1866-1966: Honderd Jaar Hoër Onderwys, HB Thom et al., 1966
  • Stellenbosch University Archives
  • Matieland 1957- 2014
  • Prof MJ de Vries. Stellenbosch University, 1993
  • Personal communication: Chris Garbers, Joh Cruywagen, Helgard Raubenheimer, Ben
  • Burger, Albert van Reenen

Departmental external evaluation report 2000; 2008

Dr Maritha le Roux

Stellenbosch