Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 2 | Lente 2017

Namate ons die einde van 2017 nader is ons verheug om te berig dat die Universiteit Stellenbosch (US) meer as 170 000 alumni oor 123 lande heen het. Maties is in toenemende mate wêreldburgers met groter internasionale mobiliteit en dit het ’n hooffokusarea van ons alumni-betrekkingespan geword om in die aanloop tot die US-eeufeesviering in 2018 weer met Maties in aanraking te kom en hulle te betrek.

In my hoedanigheid as die Bestuurder: Alumni-betrekkinge het ek die afgelope jaar die voorreg gehad om heelwat van ons alumni van oor Suid-Afrika, Namibië en die res van die Afrika-kontinent heen, die VK en Europa, die VSA en Kanada, sowel as Hong Kong en Singapoer, te ontmoet en hulle te leer ken. Ons Maties-alumni stel nooit teleur nie – hulle is altyd instinktief verwelkomend, warm, nuuskierig, oop en passievol daaroor om ’n verskil in die wêreld te maak – waar hulle hul ook al bevind.

Al het bepaalde dinge oor die afgelope 100 jaar by die US verander, sal een ding altyd dieselfde bly: Maties-trots. Die vermoë om uit te blink, die impak wat ons op die wêreld het, die waarde en die ingebore sukses wat Maties in hulle dra – oor die hele wêreld – sal bly staan.

Daar is vele sport- en ontspanningsgebeure wat in 2018 plaasvind. As jy dus beplan om vir jou gunsteling sportgebeurtenis in te skryf (soos die Kaapstadse Fietstoer), onthou om by ons #Maties100-uitdaging aan te sluit en jou steun aan jou alma mater te betoon terwyl jy terselfdertyd fondse insamel vir beurshulp aan die US. Vir meer inligting oor hierdie spesifieke Kaapstadse Fietstoer #Maties100-inisiatief, besoek gerus: http://www.capetowncycletour.com/ en kies US #Maties100 Alumni as die saak wat jy wil ondersteun.

My mede-Matie, as jy passievol oor jou alma mater is en die verbintenis wil behou met die plek wat jy “huis” noem, is daar ’n menigte maniere waarop jy op die hoogte van gebeure en betrokke kan bly. Afgesien van die wye reeks alumni-gebeure, klubs en internasionale hubs wat ons oor die wêreld heen vestig, kan jy met die US in kontak bly deur:

Stuur asseblief vir ons ’n e-pos na alumni@sun.ac.za of skakel ons by 021 808 9265 indien jy enige navrae het.

Ons verwelkom jou terugvoer, so moet dus nie huiwer om met ons in aanraking te kom nie.

Vriendelike groete

Shaun Stuart

Bestuurder: Alumni-betrekkinge