Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 2 | Lente 2017

En waar hulle vandag eenders aangetrek op 'n rusbank by die De Rust Aftree-oord in Durbanville sit, gesels die twee alte lekker oor hul jonger dae as studente - al moet hulle mekaar so nou en dan reghelp met die feite. Die tweelingsusters het grootgeword op Leeuwberg - 'n plaas in die Karoo tussen De Aar en Phillipstown en vertel dat hulle na Stellenbosch getrek het om hul grade in Huishoudkunde aan te pak.

"Ons was onafskeidbaar as kinders en op universiteit het dit maar voortgegaan want ons was weer saam in een koshuiskamer," vertel Anna. "Maar ons het darem nog 'n kamermaat bygekry," laat Elise van haar hoor.   

So wat presies onthou hulle nog van hul tyd op Matieland? "In ons dae was daar nog ontgroening en ons was sotte genoem. Dan was die koshuis kos maar treurig, klasloop was lekker en ook intervarsity, fliek en daardie kuiers in die dorp," sê Anna. En op 'n vraag oor wie nou eintlik die stoutste was, is daar nou nog nie juis uitsluitsel nie, want die een wys skertsend vinger na die ander.
Na Stellenbosch het die twee se paadjies geskei en Anna het saam met haar man in die Kaap gewoon terwyl Elise Riversdal toe getrek het. Maar Stellenbosch het nie ver agtergebly nie - Anna se man was 'n Stellenbosser en haar seun Carl Schelhase, dogter Ilse Koeslag en twee kleinkinders Francois Koeslag en Karin Koeslag het almal op Maties kom studeer, so ook Elise se drie dogters Laurentia, Theresa en Annelise.

Anna bly al sedert 1997 by De Rust Aftreeoord nadat haar man oorlede is en in 2002 is die susters weer herenig by die einste De Rust, nadat Elise ook haar man verloor het.
Volgens Elaine Johnson, 'n versorger by die aftreeoord, spandeer die twee susters baie tyd in mekaar se geselskap, al bly elkeen in haar eie woonstel. Elaine sê hulle roetine is gewoonlik middagete in die eetsaal om 13:00, dan rus hulle 'n bietjie en teen 15:30 drink hulle tee en speel Scrabble of kyk tennis en diere-programme. En vir siek-wees is daar nie juis tyd nie, die tweetjies geniet nog goeie gesondheid en gaan ook so dan en wan uit met hul kinders.

En hulle raad aan vandag se jongmense? "Studeer, studeer en studeer want om 'n opvoeding te kry is baie belangrik. Maar onthou tog ook om naweke te gebruik om bietjie pret te hê."