Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 2 | Lente 2017

Jy begin volgende jaar met jou studies, waarna sien jy die meeste uit?
'n LLM aan die Universiteit van Cambridge gee my toegang tot dosente met jare se ondervinding op hul vakgebied. Dit is ook ‘n goeie geleentheid om met studente van verskillende agtergronde te kan skakel. Die waarde en kennis wat jy van hierdie tipe betrokkenheid kry, kan nie in 'n handboek gevind word nie. Chevening bied ‘n ongelooflike netwerkplatform en ek sien uit daarna om my mede-klasmaats te ontmoet. Dit was nog altyd ‘n droom van my om by die Universiteit van Cambridge te studeer, nie net vir hul uitstekende akademiese reputasie nie, maar vir die geskiedenis en tradisie wat Cambridge so spesiaal maak. Verder is ek opgewonde om 'n ander land en kultuur te kan ervaar.

Wat is jou studieveld en waarom?
Ek gaan my meesters in regte doen en wil spesialiseer in Internasionale Reg. Ten spyte van  Suid-Afrika se progressiewe en transformerende Grondwet, het die meerderheid van Suid-Afrikaners steeds nie toegang tot hulle basiese regte nie. Ek glo dat 'n doeltreffende beleid, en toekomsgerigte litigasie, wat beide voorkomende maatreëls nastreef en regsoortredings van die verlede regstel, noodsaaklik is om ons doelwitte vinniger te bereik. My posisie as regsnavorser by die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika en skakelingskommissaris vir die Venesië-kommissie in 2015, het my passie vir internasionale en buitelandse reg bevestig. Ek het gereeld van hierdie bronne gebruik gemaak om regsadviesargumente te ontleed en memorandum op te stel. Beide is uitsonderlike hulpmiddels wat gebruik kan word om beleid in te lig en vir die ontwikkeling en spesifieke interpretasie van ons wette.

Wat is jou drome vir die toekoms?
Ek sal graag as 'n advokaat wil optree vir organisasies van publieke belang in Suid-Afrika. My droom is om by te dra tot die ontwikkeling van die reg in Suid-Afrika, die regering aanspreeklik te hou en om die beskerming van fundamentele regte deur middel van litigasie te verseker.

Wat is jou drome vir ons land?
My droom vir ons land is vir ‘n goeie verstandhouding van regte. Dit is ons plig om as jong Suid-Afrikaners hierdie doel na te streef en om in ons onderskeie sektore die land te ontwikkel.

Hoekom is dit belangrik om verder te studeer?
Ek glo vas dat jy nooit moet ophou leer nie, of dit nou by ‘n universiteit of deur praktiese ervaring is. Daar is altyd ‘n manier om jou vaardighede te ontwikkel en meer kennis te verkry.

Wat sal jy die meeste van jou tyd by US mis?
Ek was altesaam 6 jaar by die US. Ek het eers 'n BSC-graad behaal en daarna het ek my nagraadse LLB gekry. In hierdie opsig sal Stellenbosch altyd vir my ‘n tuiste wees. Nie net was die standaard van onderrig uitsonderlik nie, maar die studentelewe en ervaring was onbeskryflik. Ek verlang dikwels terug na die goeie tye saam met my vriende op die Rooiplein.

Wat was een van die hoogtepunte tydens jou studies?
Ek sal nooit my eerste paar weke op kampus vergeet nie. Die opwinding van registrasie, Vensters en om ander studente te kon ontmoet, sal my ewig bybly. My onderskeie gradeplegtighede was ook beslis 'n hoogtepunt.

Sal jy ooit terugkeer na die US om dalk jou PhD te doen?
As ek ooit besluit om my PhD te doen, sal ek dit beslis oorweeg om terug te keer na Stellenbosch. Die Regsfakulteit en die professore is briljant. Ek is ewig dankbaar vir die kennis wat my professore met ons gedeel het, asook vir die passie wat hulle aangevuur het by hulle studente. Ek sal altyd 'n Matie wees.