Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 2 | Lente 2017

Oud-Dagbrekers het hul hande diep in hul beursies gesteek en gewys hulle is meer as bereid om terug te ploeg toe hulle oor die R200 000 tydens 'n onlangse veiling ingesamel het.

Die veiling, bygewoon deur huidige en oud-Dagbrekers, was 'n fondsinsamelingsgeleentheid ten bate van die Oud-Dagbreker Bond Beursfonds Trust en ook 'n geleentheid om afskeid te neem van Dagbreek se inwonende hoof van die afgelope 23 jaar, Dr De Wet Strauss. "Dis 'n jaarlikse veiling waartydens ons geld insamel vir die Trust wat studente in Dagbreek ondersteun," vertel Henno Vermaak, een van die ODB-trustees.

Volgens Vermaak, is daar 'n totaal van R213 000 ingesamel. "Die fondse wat ingesamel is word 100% aangewend vir die ODB Beursfonds wat beurse aan behoeftige studente toeken. Die beursfonds is in 2006 gestig met die doel om behoeftige studente in Dagbreek te ondersteun. Ons poog om hulle finansieel in staat te stel om hul studies te voltooi en ook om 'n gesonde studentelewe te kan geniet – iets wat na ons mening 'n sleutel-faktor in elke student se persoonlike ontwikkeling is," sê hy.

In hul oorweging van die kandidate is finansiële behoeftigheid 'n voorvereiste. Alle behoeftige kandidate word dan op meriete oorweeg, met akademie as die grootste oorweging. Die toekenning van die beurs in enige jaar is nie 'n gegewe nie, en indien daar nie gepaste kandidate is nie, staan die beurs eenvoudig oor. Tot op hede het die beursfonds al 24 studente gehelp deur middel van die 36 eenjaarbeurse wat toegeken is.

Francois Fouché, ODB-raadslid en een van die organiseerders van die veiling, sê hulle het gevind dat daar bekwame studente is wat as gevolg van finansiële nood nie hul kursusse voltooi nie. "Dis ons droom om te verhoed dat studente moet opskop as hul finansies opdroog. Dis 'n manier waarop oud-Dagbrekers terugploeg in die volgende generasie en ons glo dat dit tot voordeel van die land as 'n geheel sal wees."

Hy sê voorts: "Ons is dankbaar vir elke persoon wat die beursfonds ondersteun (skenkers, kopers, en studente) en dis werklik 'n voorreg om deel te wees van hierdie positiewe projek. Ons het 'n wonderlike ondersteunersnetwerk wat die veiling ondersteun en elke lot wat opgeveil is was 'n skenking aan die veiling."

Meer oor die beursfonds

  • Die beurs betaal beide studiegeld en sakgeld.
  • Sommige studente het reeds gunstige finansiering vir hul studenterekening, maar het ‘n geweldige behoefte aan sakgeld. Vir sulke studente word slegs sakgeld betaal.
  • As dit kom by die betaling van studiekostes. kompeteer hulle nie met banke nie - daar word eerder probeer om die gapings te vul waarvoor die banke nie kans sien nie.

Wil jy graag betrokke raak? Kontak gerus vir Francois Fouche by francois_fouche@hotmail.com en Henno Vermaak by hennovermaak@gmail.com.