Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 3 | Somer 2017

Dankie aan elke Matie wat met ons kom netwerk het by die verskillende byeenkomste wat ons die afgelope jaar gehou het. Dit inspireer ons om te sien dat ons alumni steeds ’n positiewe impak op die samelewing het, waar ook al hulle hulle bevind.

Ons 2017-alumnigeleenthede het oor Suid-Afrika en die hele wêreld heen plaasgevind – van skilderagtige dorpe soos Knysna, Ceres en Hermanus in die Wes-Kaap tot Upington in die Noord-Kaap, van Port Elizabeth in die Oos-Kaap tot Johannesburg en Pretoria in Gauteng, en so ver as Windhoek in Namibië. Ons het ook alumnigeleenthede oor die hele VSA aangebied, onder meer in New York, Washington DC, Boston, Seattle, Atlanta, Chicago, Los Angeles en San Francisco. Daarna het ons Londen en Oxford in die Verenigde Koninkryk besoek, terwyl München in Duitsland, Amsterdam in Nederland en Brussel in België ook ’n beurt gekry het. Ons was veral ingenome om by ons alumni in Hongkong en Singapoer te kon aansluit.

Verder het die tweede Tuiskoms- en Gesinsnaweek vir alumni vanjaar plaasgevind. Hierdie geleentheid vir alumni om na die kampus te kan terugkeer, raak al hoe gewilder en daarom nooi ons u nou reeds om u alma mater in Maart 2018 te besoek en aan allerhande aktiwiteite deel te neem wat spesiaal vir u beplan is. Die Tuiskomsnaweek bied alumni die geleentheid om weer met ou vriende kontak te maak en daardie wonderlike studentedae te herleef. Kom kyk self hoeveel dinge verander het en hoeveel dieselfde gebly het.

Volg ons gerus op die onderskeie sosialemediaplatforms (Facebook, LinkedIn, Twitter, YouTube en Instagram) vir die jongste nuus oor aanstaande jaar se Tuiskomsnaweek van 1 tot 5 Maart wat tydens die US Woordfees op die Stellenbosch-kampus plaasvind.

Net om u belangstelling te prikkel: Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Laurika Rauch, Arno Carstens, Gloria Bosman, Brandon October en Mi Casa (en vele meer) gaan by die Tuiskoms-eeufeeskonsert optree. Die konsert gaan beslis groot aftrek kry, so bespreek asseblief u kaartjies vroegtydig om ’n sitplek te verseker. Gaan na www.matiesalumni.com vir meer inligting.

Ek sien uit daarna om u in ons eeufeesjaar op die kampus terug te verwelkom. Alles van die beste vir u en u gesin oor die komende vakansieseisoen, en mag 2018 voorspoedig verloop.

Kom ons beweeg saam VORENTOE as Maties.

Baie dankie / Many thanks / Enkosi kakhulu / Ngiyabonga kakhulu

Shaun Stuart

Bestuurder: Alumni-betrekkinge