Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 3 | Somer 2017

Higgo, wat in 1997 aan die Hoërskool Calitzdorp gematrikuleer het, het voor, tydens en ná sy BA Regte-studies aan die Universiteit Stellenbosch (SU) by verskeie proekamers en kelders gewerk om sy uitgawes te betaal.

’n Uitstekende werksaanbod as verkoopsbestuurder vir Hoopenburg Wyne – 'n boetiekwynplaas naby Stellenbosch – kort nadat hy gegradueer het, het hom ’n rukkie langer op hierdie pad gehou.

“Ek het nooit aan ’n werk in die wynbedryf gedink as ’n langtermynopsie nie. Ek het dit as ’n oorbruggingstyd beskou – ’n manier om my studielening af te betaal, om te reis en om ondervinding op te doen.”

Die wynbedryf het egter vir hom ’n paspoort na die wêreld gegee. Sy eerste vlug ooit was na Londen om Hoopenburg Wyne by ’n geleentheid daar te verteenwoordig. Hy het in 2006 na die Verenigde Koninkryk verhuis nadat Anthony Byrne Fine Wines, ’n wyninvoerder in Londen, hom ’n werk aangebied het en hy het uiteindelik ’n werknemer by die eersterangse wynkleinhandelaar Jeroboams in Notting Hill geword.

Higgo beskryf dié tyd as ’n besondere hoogtepunt in sy lewe. Hy is aan wyne van reg oor die wêreld blootgestel en sy belangstelling in wat BINNE die bottel aangaan, het begin groei. Hy het gereeld wynproe-sessies bygewoon en het begin wynkursusse doen om sy kennis uit te brei.

Sy eerste poging om as sommelier te kwalifiseer, was egter nie suksesvol nie.

“Ek het die teorie- en proekategorieë met vlieënde vaandels geslaag, maar het die bedienkategorie hopeloos gedruip. Dit was baie moeiliker as wat ek verwag het!” Vir sy tweede poging het hy geoefen deur saans sommeliers by restaurante dop te hou en by te staan en hy het uiteindelik sy kwalifikasie as ’n gesertifiseerde sommelier van die Court of Master Sommeliers ontvang.

By sy terugkeer, was daar minder as tien sommeliers in Suid-Afrika wat internasionaal gekwalifiseer was. Terwyl hy by die Steenberg Hotel in Constantia gewerk het en vir sy LLB deur UNISA gestudeer het, was Higgo ’n belangrike rolspeler in die stigting van die Suid-Afrikaanse Sommeliersvereniging (SASA), waarvan hy tans die voorsitter is. Die vereniging se doel is om die bediening van wyn in Suid-Afrika te verbeter en te bevorder. Dit bied ook opleiding en mentorskap om die voortgesette ontwikkeling van professionele standaarde te waarborg. Dit is lid van die Association de la Sommellerie Internationale (ASI) en gaan van die begin van volgende jaar (2018) af ook ’n ASI-diploma aanbied.

“Deur hierdie hele proses het ek heeltyd gedink ek gaan ‘grootword’ en ’n ‘ernstige werk’ kry. Ek was bang dat ek nie genoeg uitgedaag en gestimuleer gaan word nie. Maar toe SASA gestig is – ’n vereniging vir ’n beroep wat tot in daardie stadium nie regtig in Suid-Afrika erken is nie – is al hierdie vrese begrawe. Ek kon die vaardighede gebruik wat ek op universiteit geleer het, maar met ’n heeltemal ander invalshoek.

“Ons het nou ongeveer 400 lede, en 30 sommeliers in Suid-Afrika wat internasionaal gekwalifiseer het. Ons is betrokke by geleenthede soos die Interhotel-uitdaging, sowel as kompetisies vir die Beste Jong Sommelier en die Beste Sommelier in Suid-Afrika. Die wenner van die Beste Sommelier in Suid-Afrika-kompetisie ding ook internasionaal mee.”

As jy hom oor suksesstories uitvra, vertel hy jou van Tinashe Nyamudoka wat vier jaar gelede die Wynkelner-kategorie in die Interhotel-uitdaging gewen het. Nou werk hy as sommelier by The Test Kitchen in Woodstock, wat die afgelope ses jaar as "Restaurant van die jaar" in Suid-Afrika bekroon is. Hy is ook ’n SASA-direksielid.

Die ontwikkeling van jong sommeliers en die bedryf as geheel, is die hoofrede waarom Higgo nie verveeld raak met sy loopbaankeuse nie.

Wanneer hy nie met sy pligte as SASA-voorsitter besig is nie, bedryf hy onder meer sy eie besigheid as sommelier, tree op as ’n konsultant, gee raad oor wynlyste aan kliënte, lei personeel op, organiseer geleenthede en kies wyne vir die jaarlikse Nederburg-wynveiling. Hy tree ook op as ’n beoordelaar by internasionale kompetisies. Om die waarheid te sê, sy dagboek is vol met huidige verantwoordelikhede en toekomsplanne.

“Die bedryf is jonk en die beroep bied so baie geleenthede. Ek moet myself voortdurend herposisioneer en ek geniet die uitdaging.”