Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 3 | Somer 2017

Ons nooi graag alle geesdriftige fietsryers om saam met die Universiteit Stellenbosch (US) se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, die voormalige Springbok-fietsryer, Carinus Lemmer, en Maties Fietsry se voorsitter, Nicky Giliomee, by die wegspring aan te tree ter ondersteuning van ʼn goeie saak!

Soos jy seker reeds weet, is Maties in 2018 ‘n honderd jaar oud, en maak ons gereed om dié enorme mylpaal behoorlik te herdenk. Een van die hoogtepunte sal wees om as 'n groep alumni, studente, personeel en vriende van die Universiteit op 11 Maart 2018 aan die Kaapstadse Fietstoer deel te neem.

Help ons om minstens R1-miljoen vir beurse met sportgeleenthede in ons Eeufeesjaar in te samel. Deur by die #Maties100-span aan te sluit, sal jy jou deel doen om geleenthede te skep vir die volgende geslag talentvolle Stellenbosch-gegradueerdes wat regoor die wêreld impak maak.

Jy kan dié saak op die volgende drie wyses ondersteun:

  1. Koop 'n #Maties100-groepinskrywing: Verseker jou plek in die Kaapstadse Fietstoer van 2018 teen R3 000, betaalbaar aan die Universiteit Stellenbosch. Jy sal dan saam met ons liefdadigheidsgroep voor die ope-groepe kan wegspring, 'n gesogte #Maties100-fietsryhempie en ʼn ondersteuners-T-hemp ontvang, en geselligheid na afloop van die resies kan geniet. Volg asseblief die instruksies hieronder en ons stuur 'n skakel aan jou om te kan inskryf.
  2. Of, gaan oor na die #Maties100-groep: Indien jy reeds vir die Kaapstadse Fietstoer van 2018 geregistreer het, kan jy steeds by die #Maties100-groep aansluit deur aan die Universiteit die verskil (R2 460) te betaal om sodoende jou inskrywingsfooi van R3 000 op te maak. Indien 'n gekeurde wegspringtyd aan jou toegedeel is, is jy welkom om in dié groep te bly, of jy kan ook saam met ons groep ry. Ongeag die groep waarin jy ry, ontvang jy steeds ʼn gesogte #Maties100-fietsryhempie en ondersteuners-T-hemp, asook toegang tot die geselligheid na afloop van die resies. Volg asseblief die instruksies hieronder en ons sal aan jou die skakel vir oorskakeling stuur.
  3. Of, doen 'n skenking aan #Maties100: Talle ryers wil graag dié uitdaging aanvaar, maar kan nie die inskrywingsfooi bekostig nie. Jou skenking van R3 000 per fietsryer kan hul wiele aan die rol sit. Indien jy iemand in gedagte het wat jy graag wil borg, laat ons gerus weet. So nie, sal ons sorg dat iemand ʼn geleentheid met jou bydrae kry, en dat dit ook vir beursondersteuning gebruik word. Volg asseblief die instruksies hieronder.

“Dankie vir jou ondersteuning van dié unieke geleentheid om die US se Eeufees te gedenk. Kom ons gaan saam vorentoe vir beurse," het Prof De Villiers gesê.

= = = = = = = =

INSTRUKSIES:

Net 'n beperkte aantal inskrywings is beskikbaar en die spertyd word deur die organiseerders bepaal. Rig navrae aan marvin@sun.ac.za.

  • Lig eerstens ons Alumni-kantoor in dat jy graag wil saamry en/of gaan inskryf om vir #Maties100 te ry deur 'n e-pos aan marvin@sun.ac.za te stuur.
  • Volg dan hierdie skakel na die GivenGain-blad (https://www.givengain.com/cause/3063/campaigns/18079/) waar jy dié saak kan steun. Die Alumni-kantoor sal outomaties ingelig word.
  • Jy of die persoon wat jy borg sal dan 'n skakel ontvang om vir die Fietstoer te registreer, of om na #Maties100 oor te skakel.

As jy klaar is daarmee, stuur vir ons die groottes van jou fietsry-hempie en T-hemp. Dit kan afgehaal word wanneer deelnemers hul nommers optel kort voor die Fietstoer in Kaapstad.