Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 3 | Somer 2017

Mnr Omar Badsha het die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, ontvang in erkenning vir sy baanbrekerswerk in dokumentêre fotografie in Suid-Afrika. As een van die land se voorste dokumentêre fotograwe, het Badsha al vir dekades Suid-Afrika se geskiedenis in beelde vasgelê. Hieronder tel 'n versameling fotografiese opstelle getiteld A Letter to Farzanah (1979) saam met wyle Fatima Meer, en Imijondolo (1984), 'n fotografiese rekord van sy werk in die Inanda-gebied in Durban. A Letter to Farzanah is destyds onmiddellik verban. In die 1980's was Badsha die medestigter van Afrapix sowel as die Sentrum vir Dokumentêre Fotografie aan die Universiteit van Kaapstad. Hy was die hoof van die fotografie-eenheid van die Tweede Carnegie-kommissie oor Armoede en Ontwikkeling en in 1999 stig hy die hoogs suksesvolle en bekroonde geskiedenisprojek, South African History Online (SAHO), die grootste geskiedeniswebwerf in Afrika. Badsha bestuur steeds SAHO, hou plaaslike en buitelandse uitstallings, en is in 2015 met die Departement van Kuns en Kultuur se Arts and Cultural Trust Lifetime Achievement Award for Visual Arts bekroon.

Prof Glenda Gray, Hoof- uitvoerende beampte en President van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, het die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, ontvang vir haar grensverskuiwende navorsing in die voorkoming van MIV-oordrag van moeder na kind. Gray geniet internasionale aansien en het in 1996 die Wits Perinatale MIV-navorsingseenheid in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal op die been gebring. Sy was ook hoof van die kliniese ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse vigs-entstofinisiatief oor MIV-entstowwe en het die eerste toetse in Suid-Afrika en die VSA uitgevoer. Gray is 'n mede-ontvanger van die Nelson Mandela Gesondheids- en Menseregte-toekenning vir navorsing oor MIV-oordrag van moeder na kind, en die 'Heroes in Medicine'- toekenning van die International Association of Physicians in Aids Care. As ʼn toonbeeld van toewyding om die lewensgehalte van mense wat met MIV/vigs leef te verbeter, het sy vermelding in die Time-tydskrif geniet.

Prof Markus Reuter, direkteur van die Helmholtz Instituut vir Hulpbron-tegnologie in Freiberg, Duitsland, is met die graad Doktor in Ingenieurswese (DEng), honoris causa, vereer vir sy uitstaande bydraes tot die wetenskap en tegnologie rakende die produksie en herwinning van metale, sowel as die integrasie van akademiese navorsing en praktyk. Sy werk oor herwinning, ontwerp vir herwinning en hulpbrondoeltreffendheid het bygedra tot die skep van prosesse en instrumente om 'n volhoubare samelewing te ontwikkel. Reuter is in Stellenbosch gebore en getoë, en is met verskeie prominente tersiêre instellings in Suid-Afrika, Europa, China en Australië geaffilieer. Hy was studieleier vir 130 nagraadse studente, het meer as 200 artikels in eweknie-geëvalueerde vakjoernale gepubliseer, en het meer as 200 geëvalueerde internasionale konferensiepublikasies die lig laat sien. Reuter het 37 patente in 5 patentfamilies, en was die hoofskrywer van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) se Verslag oor Herwinning (2013). Hierdie verslag is 400 000 keer tussen April 2013 en Oktober 2015 afgelaai. Deur sy werk in die akademie, industrie en die regering bereik en inspireer hy sleutelrolspelers op alle vlakke, en bemagtig hy jong ingenieurs, nyweraars en beleidmakers om ingeligte besluite te neem om​ die samelewing te help om skaars hulpbronne meer volhoubaar te benut.

Regter Mervyn King, ʼn voormalige regter van Suid-Afrika, sal sy eregraad in 2018 by die US se Maart-gradeplegtigheid ontvang.