Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2018

As voorsitter van die US se Juridiese Vereniging was sy een van 18 Matiestudente wat in 1989 na Lusaka gereis het om die ANC, ’n organisasie wat toe nog in Suid-Afrika verban was, te ontmoet. Dit was ’n besluit wat haar by baie mense ongewild gemaak het, maar een wat ’n diepgaande invloed op haar lewe en loopbaan gehad het.

Vandag is Liesl 'n vennoot in die internasionale regsfirma Quinn Emanuel Urquart Sullivan LLP, wat in komplekse internasionale en oorgrensbelastingondersoeke, belastingdispute en arbitrasie spesialiseer. Voordat sy in 2017 by dié firma se Londen-kantoor aangesluit het, was Liesl hoof van die Belastingondersoeke en Dispute-praktyk by die VK “wondersirkel”-firma Clifford Chance LLP. Sy is een van die voorste  kundiges in komplekse internasionale belastingdispute en het beduidende hof- en tribunaal-ondervinding, wat die aanvoer van sake in verskeie Belastingtribunale, Appèlhowe en die Europese Unie se Geregshof insluit.

Liesl, wat aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein gematrikuleer het, is deur haar prokureurpa aan die regswêreld blootgestel. Haar ma, wat altyd by haar plaaslike gemeenskap betrokke was, het haar laat besef dat ’n regstelsel die vermoë het om menseregte te beskerm.

Nadat sy aan die US gegradueer en ’n LLM in die Verenigde State verwerf het, het sy ’n lid van die Kaapse Balie geword. Sy het as voorsittende beampte van die Belastinghof en later waarnemende regter in die Hooggeregshof in Kaapstad gedien en het ook pro bono as streeklanddros in die Wynberg-streekhof opgetree.

“Regte is ’n wonderlike beroep, maak nie saak waar jy dit beoefen nie. Suid-Afrika het briljante prokureurs en ek is baie gelukkig om saam met van hulle te kon werk.”

Sy het vroeg in haar praktyk as ’n advokaat in die Kaapse Balie op belasting begin fokus.

“Belasting was nie baie gewild nie en baie min advokate het dié werk gedoen. Ek onthou een van my eerste sake was oor melkheffings – of dit betaalbaar was of nie. Niemand wou die saak aanpak nie en my opponent was Peter Hodes SC. Ek het vir dae nie geslaap nie maar uiteindelik die appèl gewen.”

Sy het in 2005 Londen toe getrek en dien nou as ’n trustee van die VK US Trust.

“Ek het wonderlike jare as ’n student op Stellenbosch gehad en kan deur die VK US Trust as alumna my verbintenis met die US behou. Dit is ’n manier om ’n klein bydrae te maak en iets terug te gee aan die US.”

Haar raad aan huidige studente is: “Wees sterk – jy sál foute maak en jy sál verkeerde besluite neem – leer net daaruit en beweeg aan. Dit gaan oor die reis en nie die bestemming nie.”

  • Liesl se storie sal ook op ons Eeufeeswebblad in die kategorie Matiestemme verskyn. Van wêreldbekende navorsers tot baanbrekers in die bedryf ΜΆ  jou alma mater spog met ’n multikulturele gemeenskap van alumni, studente, personeel en ander belanghebbendes. Volg hul stories hier: http://www0.sun.ac.za/100/af/matie-voice/