Vertel ons meer van jouself.
Ek is in Kaapstad gebore, maar het ’n deel van my kinderjare op George en ’n deel in Kaapstad gewoon voordat ek as student Stellenbosch toe gekom en later ook by die Universiteit Stellenbosch gewerk het. My man, Jean-François, is Frans. Ons het twee kinders, Benjamin (14 jaar) en Emma (11 jaar).
Julle woon in Brussel...
Ons het 14 jaar gelede België toe getrek. Voorheen het ons in Duitsland en Switserland gewoon. Nadat my man ’n pos by die Europese hoofkantoor van ’n Japannese maatskappy aangebied is, het ons na Brussel verhuis.
Kan jy ons meer vertel van jou werk in Brussel?
Brussel is ’n stad wat verskeie wêrelde byeenbring. Met die Europese instellings en NAVO, die teenwoordigheid van internasionale maatskappye, die diversiteit in ons gasheerland en die arm immigrantgemeenskappe kan dit uitdagend wees om tussen al die verskillende “borrels” te beweeg.
Vir my was vrywilligersdiens ’n goeie manier om in te skakel en Frans en Nederlands te leer. As ’n vrywilliger by Serve the City en Oasis Belgium, het ek meer bewus geword en ’n beter begrip gevorm van die vele maatskaplike, ekonomiese en kulturele hindernisse – die mentaliteit van “ons” en “hulle” – in die stad. Ek was betrokke by projekte wat op ’n praktiese manier welwillendheid betoon aan behoeftiges in die stad. Deur hierdie projekte het ek persoonlik te doen gekry met haweloses, asielsoekers, bejaardes, persone met gestremdhede, vroue wat slagoffers was van mensehandel, en minderbevoorregte kinders. Soos die slagspreuk van Serve the City sê: “We know them by their needs, what if we knew them by name?”
Ek het ook met voetsoolvlakorganisasies sonder winsoogmerk saamgewerk om vrywilligerdae en spanbougeleenthede vir die Europese instellings en privaatsektor te reël. Die doel was om sinvolle gemeenskapsgedrewe inisiatiewe te ondersteun wat die swaarkry kan help verlig van diegene wat deur die samelewing verstoot is, en wat mense daardie onsigbare dog hoogs verdelende grense in die stad kan help oorsteek. Deesdae het ek ’n uitgebreide netwerk in Brussel wat oor al die verskillende sektore heen strek.
Wat reken jy is jou passie in die lewe?
Wat my soggens uit die bed kry, is die gedagte dat ek elke liewe dag ’n verskil kan maak. Ek konsentreer op hoe my werk daartoe kan bydra om ander se lewens op die een of ander manier te verbeter.
Ek is ’n spanspeler en is oortuig dat sukses iets is wat jy saam met ander behaal. Ek hou daarvan om deel te wees van iets groters en om saam na ’n gemeenskaplike doel te streef wat uiteindelik ’n positiewe impak op die samelewing sal hê.
Boaan my prioriteitslys is om vriendskappe en verhoudings te koester en tyd in te ruim vir die klein vreugdetjies in die daaglikse lewe.
Hoe onthou jy jou tyd as ’n Matiestudent?
Ek het aan die US gestudeer in die opwindende dog onseker jare toe ons land die einde van apartheid beleef en ons eerste demokratiese verkiesing gevier het. Hoewel ek oor die algemeen positiewe herinneringe aan die studentelewe het, was dit by tye ook baie moeilik. In die lig van my familieagtergrond het ek gesukkel om verhoudings met ander swart studente te bou. Terselfdertyd was ek dikwels die enigste gekleurde persoon in ’n origens wit groep en het ek my soms in die ongemaklike posisie bevind dat wit studente onbedagsame, soms kwetsende aanmerkings oor swart mense gemaak het.
Op voorgraadse vlak en oor ’n tydperk van ses jaar het ek twee BA-grade voltooi met Musiek, Sielkunde, Politieke Wetenskap en Ekonomie as hoofvakke. Ek het die voorreg gehad om by mense soos die legendariese Sampie Terreblanche, Colin McCarthy, Jannie Gagiano, Hennie Kotzé, Acàma Fick en vele ander te kon klas hê. Boonop was ek aktief betrokke by studenteaktiwiteite. Uiteindelik het al hierdie ervarings my die mens help maak wat ek vandag is. En binnekort vier ek 30 jaar van vriendskap saam met my voormalige Matieklasmaats!
Wat is jou toekomsdrome en -strewes?
Ek is geneig om in die oomblik te leef. So, ek het nou die geleentheid om die Universiteit Stellenbosch te verteenwoordig. Ek is van plan om die sigbaarheid en teenwoordigheid van die Universiteit te versterk, bande met alumni te verstewig en soveel moontlik deure hier in die Benelux-lande oop te maak.
My benadering is eenvoudig: Wees vreesloos – geleenthede is daar om benut te word. En moenie die menslike element vergeet nie – alles draai om die bou van verhoudings.
Terselfdertyd hou ek my oog op die toekoms, want ek wil graag nog lank ’n invloed hê, sukses behaal en ’n verskil maak. En as ek dalk eendag verlengde tydperke in sowel Europa as Afrika kan deurbring, sal dit ’n fantastiese bonus wees.