Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2018

Prof De Villiers het saam met meer as 50 personeellede, studente, alumni en vriende deelgeneem. Die groep het onder die vaandel #Maties100 gery om die Universiteit se honderdjarige bestaan te gedenk en geld vir studiebeurse in te samel.

Prof De Villiers het die wedren in 5 uur, 10 minute en 6 sekondes voltooi. Sy dogter Gera, swaer Charles Linnegar, en prof Arnold Schoonwinkel, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, het saam met hom oor die eindstreep gery.

“Dit was so ʼn mooi dag. Ons kon nie vir beter gevra het nie. Ons was wel jammer om na die tyd te hoor daar was ongevalle tydens die Toer. Ons meegevoel aan die naasbestaandes,” het prof Schoonwinkel gesê.

Dr Le Roux van der Westhuizen, wat in 1985 Studenteraadsvoorsitter was, het vinnig klaargemaak met ’n tyd van 3 uur, 21 minute en 7 sekondes, en US-alumnus Grant Neser vyf sekondes later.

“Dit was ʼn baie lekker ervaring. Ek ondersteun graag die saak van beurse en moedig ander aan om dieselfde te doen,” het Van der Westhuizen gesê. Dit was sy 16de Kaapstadse Fietstoer.

Bykans R105 000 is reeds op die GivenGain-platform ingesamel, en regstreekse skenkings aan die Universiteit word nog verwerk. Die fondswerwing duur voort (besoek http://bit.ly/Maties100 om te skenk).

Prof Sophia du Plessis, ʼn US-dosent in Ekonomie, en haar man, Francois, het op ʼn tandem deelgeneem. “Dit was baie lekker. Dankie aan al die betrokkenes,” het sy gesê.

Sewe fietsryers van die resiesspan verbonde aan die BMT-fietswinkel van US-alumnus Chris Norton in Dorpstraat, Stellenbosch, was ook deel van die #Maties100-groep. Siyabulela Tutu het in 3 uur, 21 minute en 55 sekondes klaargemaak, en Luyanda Thobegunya ʼn enkele sekonde later.

“Ons het geweet hulle sal goed vaar, want hulle berei tans voor vir die Cape Epic (18-25 Maart),” het die BMT-spanbestuurder Unathi Msophi gesê. Die span bestaan uit ʼn groep vriende van Kayamandi op Stellenbosch. “Ek is bly ons kon tot beursgeld bydra, want dit help skep ʼn beter toekoms vir die jeug,” het hy bygevoeg.

Die span se moreel is voor die tyd versterk deur ’n Twitter-boodskap van adv Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer en deesdae ʼn professor in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, wat soos volg gelui het: “Sterkte #Maties100. Dankie vir julle bydrae tot #maatskaplikegeregtigheid vir behoeftige studente.”

Ná die fietstoer het die Alumnikantoor Matiedeelnemers in ʼn gasvryheidstent onthaal.

Andrew le Roux, ʼn alumnus van Johannesburg en een van die Universiteit se gereelde skenkers, het saam met sy seun, André, gery. “Julle sal ons beslis weer sien. André wil volgende jaar by Maties studeer,” het Andrew gesê.

Nog ʼn pa-en-seun-kombinasie was Maartens en Daniel Heynike van Randburg, albei alumni. “Dit was my lekkerste rit ooit, en dis ʼn wonderlike Matie-fietshemp,” het Maartens gesê. Dit was sy 5de Kaapstadse Fietstoer.

Dr Henk Groenewald, op 76 waarskynlik die oudste ryer in die span, se tyd was 04:28:51. “Ek het 20 jaar laas aan die Argus deelgeneem, maar wou graag nog ʼn keer ry om terug te gee aan my alma mater,” het hy gesê.

“Daar was ʼn wonderlike gees op die pad, en die Universiteit se handelsmerk is duidelik sterk. Keer op keer is ons met ‘Maties!’ aangemoedig wanneer mense ons hemde raakgesien het,” het Desmond Thompson van die Afdeling Korporatiewe gesê.

Net 100 hemde is eksklusief vir die Maties100-inisiatief in die US se Eeufeesjaar gemaak. ʼn Beperkte aantal is nog te koop teen R2 000 elk om die beursfonds aan te sterk. Belangstellendes kan ʼn boodskap stuur na marvin@sun.ac.za.