Digitale Alumni-Nuusbrief | Herfs 2018

Darren vertel dat sy lewe boordensvol is van sy ervarings as pa, korporatiewe spreker en fasiliteerder, en mediapersoonlikheid op verskeie platforms. Laasgenoemde behels televisie (as Expresso Show op SABC 3 se permanente kundige oor gesondheid en lewensgehalte) sowel as radio (hy gee die weeklikse dosis mediese advies op Heart104.9 FM, en behartig ’n mediese insetsel op 567 Cape Talk). Dan is daar sy werk vir Mediclinic SA se Spesiale Geleenthede-span, wat mediese steundienste by alle groot gebeure op die sportkalender in Kaapstad verskaf: die Sewesrugby-wêreldbeker, Cape Epic, Kaapstad Fietstoer, Wêrelddriekampreeks en Double Century, asook die Twee Oseane- sowel as die Kaapstad-maraton.


Sjoe!

Wanneer hy nie in die openbare oog is nie, ruim hierdie man van vele talente tyd in om sy kliniese vaardighede te slyp: “Ek hou my kliniese vaardighede opgeskerp deur noodgeneeskundige werk by ’n toonaangewende Vlak 1- politrauma-eenheid te doen, soms drie keer per week, en tussendeur met ortopediese chirurgie by te staan. Ek het ook SA Rugby-akkreditasie as een van hulle spandokters vir verskeie rugby-akademies en ‑oefenkampe. Die oorblywende tyd tot my beskikking is gewy aan afsprake as geleentheidspreker, veral oor die toepassings van die neurowetenskap op sakeleierskap en hoëvlaksport.

“Wat my betref, is die volgende fundamentele waardes die dryfvere agter prestasie: getrouheid aan jou ware self, opregtheid, billikheid, die bereidheid om te leer, en betekenisvolheid,” voeg hy by.

Om aan so ’n volgepakte skedule én ’n gesinslewe reg te laat geskied, verg toewyding. Dit is vir Darren baie belangrik om sy werkslewe en sy persoonlike lewe in ewewig te hou. “Gee voorkeur aan dinge wat jou waardes en oortuigings opbou. Leer om grense te stel wat verhoed dat jou karakter aangetas word, en omring jou met mense wat dieselfde ingesteldheid as jy het. Laat jou gedagtes stil raak sodat jy kan nadink en jou vermoë kan uitbrei om kreatief en nuutskeppend te dink.”

   
   
 

Sy lewenspassies dek ’n breë spektrum. “Ouerskap is na my mening een van die grootste voorregte wat die lewe ’n mens kan bied,” verklaar hy, en noem dan nog ’n aantal op: “om saam met ’n lewende orkes op te tree (onder meer die Kaapse Filharmoniese Orkes); om die oomblik te fasiliteer wanneer mense ontdek hoe om tot hulle ware lewensdoel deur te dring; om met erkentlikheid diegene te onthou wat jou help groei het …” en, natuurlik, “die mediese wetenskap, media, ons innerlike beweegredes (neurowetenskap) en musiek”.

Ondanks alles wat hy al bereik het, is Darren se doenlysie nog glad nie deurgewerk nie. “Ek wil graag deur middel van die neurowetenskap en leierskapverrigting platforms met wêreldwye impak tot stand bring, nog musiek komponeer en opnames maak – veral opera, ballades en big band, ’n boek skryf, my twee ongelooflike seuns grootmaak … en probeer om die lyf en spoed wat ek in matriek gehad het, terug te kry!”

Onder sy aangenaamste herinnerings aan sy jare as ’n Matie tel die kennismaking met sy vrou, Monique (voorheen Minnaar). Monique is ook ’n oud-Matie; sy het arbeidsterapie aan die US gestudeer en spesialiseer deesdae in psigiatriese arbeidsterapie. “Ons het mekaar by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus leer ken toe sy oor die raakrugbyveld langs Hippokrates [die manskoshuis] gestap het op pad om fotokopieë te gaan maak. Van daar af het ek op haar spoor gebly met aankondigings oor Huis Francie Van Zijl [die vrouekoshuis] se interkomstelsel,” onthou hy.

“Ek het ook op universiteit vriende gemaak wat tot vandag toe deel van my lewe is en dit lewenslank sal bly. Ek onthou hoe het ons gaan draf op die Bergpad by Coetzenburg, die sokkies in die Neelsie en die huisdanse, my eerste “her” [tweede eksamengeleentheid]­ – wat ook nie die laaste was nie, die vier jaar wat ek in Hippo se Sêr-groep gesing het, hoe die US vir my en Heinz Winckler gedurende die eindrondes van SA Idols se eerste seisoen ondersteun het, en die tyd as inwonende hoof van Hippokrates in my nagraadse jare. En dán: my oudste, Daniel, wat in daardie tydperk gebore is. Van die gelukkigste tye in my lewe was in my Tygerberg-jare; tien jaar altesaam.”

Sy boodskap aan jongmense in Suid-Afrika? “So baie van ons laat toe dat ander mense se persepsies bepaal wie ons is – ander mense se goedkeuring raak die dryfkrag agter alles wat ons doen, en op die ou end kan ons nie daarsonder klaarkom nie. Die grootste beloning lê egter in die reis na selfontdekking en selfkennis. Die oomblik wat die koers van my hele lewe sou bepaal, was toe ek ervaar het hoe alles bymekaarkom wanneer ’n mens getrou aan jou ware self is en hoe dit met my hoër roeping verweef is. Dis nie genoeg om jou vermoëns en godgegewe talente te ontdek nie. Dissipline en ’n toekomsblik trek die lewe tot ’n afgeronde geheel saam.”