Digitale Alumni-Nuusbrief | Herfs 2018

Dit was onder meer ’n aanstelling in die Departement van Onderwys se projek vir jaarlikse nasionale assessering (ANA) wat haar bewus gemaak het van die behoeftes van laerskoolleerders wat met hulle skoolwerk sukkel. Daar het sy besef “ons kinders het hulp nodig”.

“Ek het agtergekom kinders in graad 3 kan nie tel, lees óf hulle name en vanne skryf nie, wat nog te sê iets van die bord af skryf. Dit het my hartseer gemaak en ek was teleurgesteld. En net daar het ek besluit ek wil ’n positiewe verskil maak om hierdie kinders te help uitblink,” onthou sy.

So het dit dan gekom dat Mama, nadat sy uit die Wes-Kaap terug is Limpopo toe, in 2015 ’n kans gewaag en haar Ubuntu-nasorgsentrum in Ga-Marishane Village op die been gebring het, ondanks ’n gebrek aan geriewe en geld. Die nasorgsentrum help tans 54 leerders met ekstra skoolwerk. “Ek bedryf die sentrum uit my twee motorhuise met twee personeellede en help leerders van die skole in ons omgewing. Die kinders kom direk ná hulle skooldag hierheen om onderrig in vakke soos Sepedi, Engels en Wiskunde te ontvang. Ons konsentreer op lees, skryf en rekenkunde as aanvullende aktiwiteite wat die leerders hulle skoolwerk beter laat verstaan,” sê sy.

Sy glo haar eie opvoeding het haar toegerus om hierdie leerders te help. Mama het ’n magistergraad in Lewenslange Onderwys en Opleiding sowel as ’n nagraadse diploma én magistergraad in MIV- en vigsbestuur verwerf – alles aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het haar eerste kwalifikasies (’n BA in Pedagogie en ’n BEd) onderskeidelik aan die universiteite van die Noorde en Kaapstad voltooi. Intussen het sy ook ’n kursus oor wiskundeonderrigmetodes aan die Universiteit van Leeds in die Verenigde Koninkryk gevolg.

“My ouers het my geleer om alle geleenthede in die lewe so goed moontlik te benut, so ek het besluit om ’n afgeronde akademikus te word. En dis waarom ek uiteindelik aan hooggeagte instellings studeer het,” voeg sy by.

Mama het goeie herinneringe aan haar tyd by die US – eers as student en later as personeellid. “Ek het ’n goeie opvoeding ontvang en studente sowel as dosente het my met respek behandel. Jan Louw en Nomusa Hlogwa het my rekenaarvaardighede geleer, prof Chris Kapp het my bekend gestel aan Connie Park, wat my met my tesisskryfwerk gehelp het, en ek was bevoorreg om prof Annie Gagiano te kon ontmoet, wat vir my Engels gegee het.

“Ek het in 2006 ’n US-personeellid geword toe ek aangestel is as adjunk- inwonende hoof van Metanoia, destyds ’n nuwe koshuis vir sowel vroue- as manstudente. Dít is waar ek die naam Mama gekry het,” onthou sy.

"Die studente het my Mama begin noem nadat ek begin het om spesiale maaltye vir hulle oor naweke te kook. In 1984 terwyl ek in Leeds in die Verenigde Koninkryk studeer het, het ek erg huis toe verlang. Ons dosente het toe moeite gedoen om ons vir spesiale etes by hul huise te nooi, wat baie gehelp het. En dit is juis om hierdie rede dat ek toe ons studente op dieselfde wyse wou laat tuis voel."

Noudat sy terug is in Limpopo is Mama vasberade om beleggers te kry om haar ’n reusesukses van die Ubuntu-nasorgsentrum te help maak en sy nooi ook internasionale studente en navorsers in die sosiale wetenskappe om hul navorsing by haar Sentrum te kom doen. “Ek sukkel steeds om borge te kry vir strukture sowel as vir onderrig-en-leermateriaal. Dis baie moeilik sonder ondersteuning, maar ek sal vir eers deurdruk.”

  • Wil jy graag help om saam met Mama 'n verskil te maak? Kontak haar by mmonanana@gmail.com.