Digitale Alumni-Nuusbrief | Herfs 2018

Vertel ons asseblief meer oor jouself.

Ek is ’n Kapenaar wat in Durbanville grootgeword en in 2009 aan Hoërskool Stellenberg gematrikuleer het. Ná ’n taamlike ompad het ek uiteindelik in 2013 Stellenbosch toe verhuis om BSc Sportwetenskap te studeer.

Wat het daardie ompad alles behels?

Ek was eers vir ’n rukkie Johannesburg toe, waar ek as lid van die Dimension Data-span (wat voorheen as MTN Qhubeka bekend was) voltyds aan fietsrenne deelgeneem het. Maar ek was ongelukkig. So ek het besluit om terug te trek Kaapstad toe, waarna ek ’n beurs ontvang het om aan ’n universiteit in Amerika te studeer. Ek is in 2012 Verenigde State toe, maar dit was frustrerend om daar te woon terwyl ek eintlik op bergfietsrenne wou konsentreer, wat meestal in Europa beoefen word. Eers tóé het ek vir die Sportwetenskap-graad by Stellenbosch ingeskryf, wat uiteindelik die volmaakte keuse was vir my loopbaan as ’n sportvrou. Ek wou eintlik nog altyd weet hoe my “enjin” werk, en die Sportwetenskap-program het my dit help verstaan.

Jy het ’n bedrywige jaar tot dusver met jou deelname aan die ABSA Cape Epic, die Wêreldbekerbergfietstoernooi op Stellenbosch, en die Statebondspele in Queensland, Australië. Vertel ons van jou ervarings by hierdie byeenkomste.

Dit is weliswaar ’n taamlik bedrywige jaar, en daar lê nog baie fietsrenne voor. Die Epic was soos gewoonlik fantasties, en afgesien van ’n omgekrapte maag op die tweede en die laaste dag, het die resies vlot verloop. Die organiseerders bied werklik ’n wêreldklasgeleentheid aan, en dit is altyd so ’n groot voorreg om die Wes-Kaap op al daardie asemrowende roetes te deurkruis. Die Wêreldbekertoernooi op Stellenbosch was ewe wonderlik. Dit was ongelooflik spesiaal om reg voor my ou fakulteit verby te ry en die ondersteuning van ’n tuisskare te kon ervaar.

En dan was daar die Statebondspele … soos altyd, wat ’n eer om my land te verteenwoordig. Ongelukkig het ek nie die beste dag op my fiets beleef nie, en ek wou uiteindelik maar net die eindstreep haal. Tog glo ek vas dat ons die goeie saam met die slegte moet aanvaar. Daardie slegte dag het my net daardie tikkie ekstra oemf gegee vir die Wêreldbekerbyeenkomste wat nog kom.

Waarom het jy fietsry gekies?

Wel, ek het as kind eintlik aan enige en alle skoolsport deelgeneem. My bergfietsloopbaan het met my pa en ouer broer begin. Ek het altyd die renne bygewoon om hulle te ondersteun, tot ek die dag besef het ek kan dit mos óók doen … Die gogga het gebyt en ek het nog nooit teruggekyk nie. Ek was tien jaar oud toe ek op nasionale vlak begin deelneem het.

Is fietsry jou voltydse werk?

Ja, dit is – danksy my span en borge, Silverback OMX Pro Team. Sonder hulle sou ek nie my geliefde sport kon beoefen nie. My graad wat ek in 2016 aan die US verwerf het, kom ook goed te pas as afrigter en werker vir Science to Sport/Ergofit by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sportwetenskap (Nuweland) saam met my eie afrigter, dr Jeroen Swart. Dit help hou my kop aan die gang en gee my ook ’n gevoel van normaliteit.

Wat verg dit om ’n beroepsfietsryer te wees?

Wel, baie oefening – intellektueel, fisies én emosioneel. Dit is ’n betreklik eensame pad, maar een wat ek weer en weer sal kies. My geloof vervul ook ’n massiewe rol in hierdie deel van my lewe. Ek is mal oor wat ek doen en die vryheid wat dit my bied. Die pakket behels baie opofferinge, maar dít geld enige sport of beroep as jy besluit om op die hoogste vlak mee te ding. Sport op internasionale vlak beteken natuurlik ook jy reis baie, maar noudat ek dit reeds 17 jaar lank doen, is dit mý normaal en kan ek my nie regtig enigiets anders voorstel nie.

Watter boodskap het jy vir jongmense?

In my tyd op universiteit het ek twee groot beserings opgedoen. Noudat ek terugkyk, is ek eintlik dankbaar daarvoor, want dit het my ’n meer afgeronde persoon en atleet help maak. Nie dat ek ’n besering as ’n loopbaanskuif sou aanbeveel nie!

Ek weet dit klink afgesaag, maar my boodskap is om na jou hart te luister en jou drome na te jaag, wat dit ook al is. Met gebed, geloof en harde werk word die klaarblyklik onmoontlike kort voor lank die onafwendbare.