Digitale Alumni-Nuusbrief | Herfs 2020

Ek is besonder trots op hoe die Universiteit Stellenbosch- (US-)gemeenskap saamstaan om op die ramp te reageer: So byvoorbeeld het ons Voedselwetenskapnavorsers handontsmetmiddel uit ou brood vervaardig; honderde Tygermaties het uit vrye wil aangebied om gesondheidswerkers se hand te sterk; 45 multidissiplinêre koronavirusverwante navorsingsprojekte en -aktiwiteite is tans in verskillende omgewings Universiteitswyd aan die gang, en ’n rekordgetal van 3 278 graduandi het hulle kwalifikasies by ’n virtuele plegtigheid ontvang – ’n historiese eerste vir die Universiteit. Dís die Matie-gees!

Toe die COVID-19-uitbreking kort ná die aanvang van die jaar in die nuus kom, het die US ontwikkelings in verband met die virus fyn begin dophou. Ons het vroeg reeds ’n oorhoofse Institusionele Komitee vir Bedryfskontinuïteit saamgestel om die Universiteit se reaksie op die krisis te koördineer, die US volhoubaar te hou en alles moontlik te doen om te sorg dat ons die akademiese jaar 2020 suksesvol voltooi.

Soos ’n mens kan verwag, skenk ons nou heelwat aandag aan voorbereidings om op 20 April met aanlyn onderrig en leer te begin – niemand weet immers hoe lank die pandemie sal voortduur nie. Die US het in ieder geval die afgelope paar jaar ons hibridiese en aanlyn onderrig-en-leeraanbod geleidelik uitgebrei. Die koronaviruspandemie het sake nou bloot bespoedig.

Hierdie oorgang sal uiteraard bepaalde uitdagings inhou. Ons dosente het deelgeneem aan webinare oor aanlyn onderrig, en ’n spesiale webblad is geskep om studente aanlynleerwenke te bied. Die Universiteit het ook bevestig dat sommige selfoonnetwerke gratis toegang aan studente sal verskaf om ons aanlyn platforms vir leer en onderrig te gebruik.

Dit is bemoedigend om te sien wat ons kan vermag as ons saamwerk. Sowel akademiese as professionele administratiewe steunpersoneel werp alles in die stryd om te sorg dat ons akademiese projek aanlyn voortgaan. En ons studente maak reg om ná die huidige reses hulle studie op hierdie manier te hervat.

Ek bedank graag alle alumni vir hulle ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd. Die boodskappe van onderskraging en ander vorme van bystand is vir ons personeellede en studente ’n riem onder die hart. Ons waardeer dit. Besoek gerus die COVID-19-blad op die US-webtuiste vir die jongste nuus.

Ons beleef ’n uitdagende tyd, maar ons vind troos in die wete dat ons nie alleen is nie. Die hele wêreld is saam hierin. En ons moet saam vorentoe beweeg.

Pas jouself op en bly veilig.

Vriendelike groete

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier