Mike Horn se verhaal is eenvoudig fassinerend. Dit sit nie in enigeen se broek om 5 100 km van Antarktiese wildernis binne 57 dae met slegs ’n slee en 200 kg kos oor te steek nie.
As agtjarige het Mike dit geniet om soggens te gaan draf saam met sy pa, wat destyds vir Transvaal rugby gespeel het. So kon hy vele spesiale oomblikke met sy pa deel.
Dit was met een so ’n oggenddrafsessie wat sy pa hom vertel het waarom hý elke oggend gaan draf. “Ek draf omdat jy wakker is; jy inspireer my,” onthou Mike sy pa se woorde. Dit sal altyd vir hom ’n belangrike dag bly – die dag toe hy besef het hy inspireer sy held. Dit het hom aangespoor om die beste moontlike weergawe van homself te word. “As jy die heel beste probeer wees in wat jy doen, hoef jy nie Antarktika oor te steek nie – wees net die beste wat jy kan wees, en alles sal reg uitwerk.”
Mike glo wat hy tot dusver bereik het, is nie omdat hy self groot is nie, maar omdat hy groot droom.
Hy vertel hoe teleurgesteld hy was omdat sy droom om Antarktika as ’n Suid-Afrikaner oor te steek in die wiele gery is deur burokratiese rompslomp en ’n algemene oortuiging dat hy nie daartoe in staat is om die ekspedisie aan te pak nie, al het hy by verskeie geleenthede sy vermoëns bewys. “Ek wou so graag die Suid-Afrikaanse vlag op Antarktiese bodem plant.” Hy het die Switserse president gebel om sy dubbele burgerskap te aktiveer, en kon op dié manier gelukkig steeds sy droom verwesenlik, hoewel as ’n Switserse burger.
Hy glo sy ervaring as ’n soldaat in die destydse Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het hom sy vele gevaarlike ekspedisies help oorleef. “Om lewend van die gevegsfront terug te keer was ’n kwessie van ingesteldheid. Jy kon hetsy kies om oorlog te voer of die oorlog te oorleef,” sê hy. Tot vandag toe is hy oortuig dat sy vasberadenheid om sy ekspedisies te “oorleef” hom telkens aan die lewe hou, want as jy kies om teen die elemente te baklei eerder as dit te oorleef, sal die elemente stellig terugbaklei.
Maar dalk die belangrikste is dat Mike steeds ’n aanwesige pa vir sy dogters was, al was hy in vyf jaar ’n skrale 32 dae by die huis. Dít was allermins maklik, sê hy, maar wanneer hulle ook al tyd saam kon deurbring, het hy daarop gekonsentreer om sy dogters die dinge te gee wat hulle slegs by hulle pa kon kry.
Meer oor Mike Horn