Digitale Alumni-Nuusbrief | Herfs 2020

Gabrielle se man, Anton Lubowski, was ’n Namibiese anti-apartheidsaktivis, advokaat en lid van die South West Africa People’s Organisation (SWAPO) toe hy in 1989 vermoor is. Hy was ook ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid. Om sy lewe te vier, het die instelling in September 2019 die eerste Anton Lubowski-gedenklesing aangebied. Volgens Gabrielle was dit ’n keerpunt in haar soeke na geregtigheid. “Uiteindelik was ek vry; Anton se nalatenskap is herstel. By hierdie jaarlikse geleentheid kan toekomstige geslagte nou herinner word aan ’n voormalige student van die Universiteit Stellenbosch wat sy lewe vir ’n vrye en demokratiese Namibië gegee het, en hulle kan deur sy waardes geïnspireer word.”

Gabrielle het nie alleen ’n boek geskryf ter ere van haar man se nalatenskap nie, maar sy en haar gesin het ook die Anton Lubowski Education Trust (ALET) begin. Verder beplan sy aan haar tweede boek en doen aanvoorwerk vir die stigting van die South African Parent Academy.

“Ek is bly dat ek volhard het om die ingesteldheid van moontlikheid te ontwikkel, nes Anton. Dit het baie, baie jare van harde werk en moeite geverg, maar ek het dit reggekry en is opreg dankbaar en opgewonde daaroor,” sê sy.

Gabrielle se eerste boek, On Solid Ground, is in 2011 gepubliseer. Sy het dit geskryf omdat sy geglo het iemand moet die wêreld vertel van Anton, wat onbaatsugtig ’n skynbaar onoorkomelike taak aangepak het omdat hy in ’n beter toekoms geglo het. “Hoe hy onvermoeid dag en nag gewerk het met die hoop om sy medemens te help. Dit was vir hom ondraaglik om te sien hoe ander ly, en hy was bereid om risiko’s te neem om verandering en geregtigheid vir almal te bring.”

Gabrielle sê dat sy uiters geskok was oor die stelsel wat dit kon regkry om die waarheid van wat werklik met haar man gebeur het, te verbloem. “Waarom is hy doodgemaak op die presiese oomblik toe Namibië duidelik op pad na onafhanklikheid was? Ek wou my gedagtes en vermoedens oor wat daar kon gebeur het, rugbaar maak. As ek nou terugkyk, dink ek dat ek net die punt van die ysberg aangeraak het. ”

Sy beplan haar tweede boek, wat die verhaal vertel van haar eie reis in haar kinderjare en hoe sy deur haar omgewing beïnvloed is, maar – soos sy dit stel – haar negatiewe en vernietigende selfbeeld verander het.

Gabrielle het ’n passie vir ouerskap en kinders. “Ek glo dat elke kind die beste begin in die lewe verdien. In sy laaste onderhoud het Anton die vraag ‘Wat is die belangrikste taak van ’n nuwe Namibiese regering?’ beantwoord met, ‘Onderwys, onderwys, onderwys.’

“In 2007 het my familie ALET begin, met die fokus op vroeë-kinderjare-ontwikkeling en hoe om die skool en die huis met mekaar in verbinding te bring. My funksie is om die ouer en die onderwyser deur ’n proses te neem waar hulle die eerste 18 lewensjare soos ’n oop boek voor hulle sien, en hul sodoende help om nie die kind te gebruik om hul gemoed te verlig as gevolg van die trauma van vele oomblikke van magteloosheid, vernedering, verleentheid, en in ernstiger gevalle, mishandeling as kind nie, ” verduidelik sy.

“Gedurende die jare 2007 tot 2013, toe ons oueropleiding in Philippi, Khayelitsha en Houtbaai gedoen het, het dit duidelik geword dat ouers in die donker rondtas en dat ouerskap ’n kwessie van beheer is –  hoe dinge van dag tot dag behartig word –  en met skuld en onsekerheid gepaard gaan.”

Gabrielle se werk by ALET ontwikkel nou geleidelik tot die South African Parent Academy. “In die jare ná Anton se wrede dood en die onopgeloste vrae rondom sy sluipmoord, het ek stadigaan begin bewus raak van die feit dat die meeste van my probleme hoofsaaklik te wyte was aan die behandeling wat ’n kind deur ouers en onderwysers ontvang, en die ingesteldheid waarmee ’n kind dan die groot, wye wêreld aandurf.

“Ek het begin navorsing doen op die gebied van ouerskap en was met afgryse vervul om te hoor hoeveel in die eerste 18 jaar van ’n mens se lewe verkeerd loop en hoeveel woede, gramskap, nydigheid, haat, apatie, opstand, verwarring en hartseer in ’n mens ophoop vanweë giftige, onkundige, onbevoegde en onbewuste ouerskap en opvoeding van kinders. ”

Sy sê die besef dat enigiemand in die wêreld waarin ons leef ’n ouer kan word, terwyl niemand opgelei is om ’n kind groot te maak nie, het letterlik haar asem weggeslaan. “Wat ’n ouer moet leer, is só omvangryk dat dit ’n tweejaaropleidingsprogram sou verg om ’n vaardige ouer te word wat reg aan die kind laat geskied.”

Haar wens is dat die South African Parent Academy sal floreer, maar sy besef ook deeglik dat sy borge sal moet vind om te help. Vir eers doen sy haar deel deur op ’n kleiner skaal klasse aan te bied. “Die wete dat ouers –  en onderwysers  –  leer hoe om kinders te behandel, groot te maak en op te voed om glimlaggende, selfversekerde, gelukkige en bemagtigde jongmense te word wat weet wie hulle is en op pad is om die suiwerste, getrouste weergawe van hulself te word, is wat my aanspoor.”

Wie is Gabrielle Lubowski?

  • Sy is in die vyftigerjare in Namibië gebore, die eersteling van ouers wat die Tweede Wêreldoorlog meegemaak het.
  • Daar was nie ’n universiteit in Namibië in die 70’s nie, en daarom het sy aanvanklik die Universiteit van Kaapstad oorweeg, maar op Stellenbosch beland nadat ’n vriendin haar van die ongelooflike studentelewe op Maties vertel het.
  • Sy het vir ’n onderwysgraad ingeskryf.
  • Dit was inderdaad aan die US waar sy en Anton romanties betrokke geraak het, al het hulle mekaar van kleins af geken en in dieselfde gemeenskap grootgeword.
  • Sy woon tans in Houtbaai, Kaapstad, naby haar twee kinders Almo en Nadia, hul lewensmaats Marelize en Frederik, en haar vier kleinkinders, Amelie, Tariq-Anree, Anton Lucien en Freya Isabella.