Digitale Alumni-Nuusbrief | Herfs 2020

“Toe ek op ’n studierigting moes besluit, was musiek al so ’n integrale deel van my daaglikse lewe dat ek nie geweet het wat ek daarsonder sou wees nie. Die besluit om musiek te studeer was daarom baie natuurlik, en ek was gelukkig dat my ouers my keuse altyd heelhartig gesteun het.”           

Nadat sy aan Hoër Meisieskool Bloemhof gematrikuleer het, het Esthea haar studies voortgesit onder prof Nina Schumann aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Musiek.         

“Haar musikale bekwaamheid en wonderlike onderrig het ’n geweldige invloed op my gehad, en toe ek klaar was met skool, kon ek nie dink dat ek my musiekstudies saam met enigiemand anders sou aanpak nie. Ek was gelukkig om topgehalte-opleiding aan die US te ontvang, prakties sowel as akademies.”        

Esthea het in 2009 geskiedenis aan die US gemaak deur die eerste musiekstudent te word om die Kanseliersmedalje te ontvang. Dit was nie net vir haar ’n ongelooflike eer nie, maar ook besonder betekenisvol in haar studieveld.        

“Dit het my iets tasbaar gegee as erkenning vir die baie ure wat ek aan oefening en studies toegewy het. Ek dink baie mense is onder die indruk dat musiek relatief maklik is; prakties, maar nie regtig akademies uitdagend nie. Dis egter nie waar nie – musiekstudente werk ongelooflik hard om die intense praktiese vereistes van hul studies te balanseer met die akademiese lading.”        

Nadat sy verskeie kompetisies gewen het en die grade BMus en MMus (Klavieruitvoering) cum laude verwerf het, het Esthea vir ’n doktorsgraad in klavieruitvoering aan die Universiteit van Noord-Texas, VSA, ingeskryf. Daarna het sy ses jaar in Duitsland deurgebring waar sy twee meestersgrade aan die Hochschule für Musik Würzburg voltooi het.              

Haar eerste bywoning van ’n konsert deur die Berlynse Filharmoniese Orkes en die uitnodiging om in 2018 by ’n musiekfees in Davos, Switserland, op te tree, tel onder die hoogtepunte van haar tyd oorsee.           

“Die fees in Davos se ongewone konsep het dié ondervinding besonder verrykend gemaak – konserte is in enige moontlike venue aangebied, van hotelle tot in die buitelug, en ook in die ‘kleinste konsertsaal in die wêreld’ waar daar net plek vir ’n klavier en een gehoorlid is…”         

Aan die einde van haar studies het Esthea ’n fees vir kontemporêre kunslied (art song) in Würzburg, genaamd Neues Lied, begin. Kunslied is ’n vokale musiekkomposisie wat gewoonlik vir een stem met klavierbegeleiding geskryf is. Die eerste fees in Desember 2018 is baie goed ontvang en planne vir ’n Suid-Afrikaanse weergawe van die fees in die Baxter-teater in Kaapstad is reeds onderweg.        

Al was sy gelukkig in Duitsland, het Esthea altyd geweet sy wil na Suid-Afrika terugkeer: “Ek het gevoel ek kan ’n meer betekenisvolle bydrae hier lewer as in Europa, waar die mark vir klassieke musiek al so versadig is.”              

Haar droom het waar geword toe sy in 2019 as klavierlektor aangestel is by die SA College of Music aan die Universiteit van Kaapstad.        

“Ek is baie bewus van die groot invloed wat ’n onderwyser op ’n student kan hê, en ek wil graag, waar moontlik, my invloed tot voordeel van ons studente gebruik. Ek hoop dat die internasionale verbintenisse wat ek in my tyd oorsee opgebou het, ons studente sal bevoordeel. Ek wil ook die posisie van kunslied by die kollege versterk. Ek het in Duitsland gesien hoe dit vereer en gekoester word, en ek hoop ek kan bydra om dieselfde betekenis daaraan te verleen in Suid-Afrika, want ons het die vokale en pianistiese talent om dit te laat gebeur.”          

Persoonlik is Esthea dol op Schumann se klaviermusiek en -liedjies, en tel dit onder haar gunsteling-repertoire om te speel.        

Sy verduidelik hoe die lewe van ’n musikant terselfdertyd uitdagend en lonend is.      

“As ’n musikant het baie van jou daaglikse aktiwiteite nie regtig meetbare uitkomste nie. ’n Mens se werk is nooit klaar nie – om te oefen is nie soos ’n projek wat jy kan voltooi en inhandig nie. Daarin lê die mooi sowel as die moeilike deel van ons loopbaan.

“Van my gunstelingoomblikke in musiek gebeur wanneer ek ’n ‘vloeiende’ staat in ’n uitvoering bereik, waar alles moeiteloos voel en ek geheel en al aan die musiek sowel as die gehoor gebonde voel. Dit herinner my aan my doel as musikant en maak al die ure se oefen die moeite werd.”