Digitale Alumni-Nuusbrief | Herfs 2021

Carina het toe van plan verander en eerder musiek studeer, en meer as twee dekades later kan mens terugkyk en sê dat daardie woorde amper profeties was.

Dit het nog goed gegaan met die uitvoerende kunste in die 2000’s. Nadat sy ’n BMus-graad en ’n honneursgraad in musiek aan die US verwerf, het Carina die groep Sterling EQ begin wat plaaslik en internasionaal opgetree het. Sy het ook ’n besigheid op die been gebring waardeur sy eers haar eie groep, en later tot 500 kunstenaars en groepe bygestaan het met aspekte soos bemarking en besprekings.

Die langafstand-swemgogga het haar tydens haar studentejare gebyt, en sy het verskeie uitdagende swemme aangepak: Van Bloubergstrand na Robbeneiland, van Gordonsbaai na Simonstad en die "Everest van oopwaterswem" – die Engelse kanaal.

Ná die geboorte van haar kinders het die fokus van haar swemme egter verander – sy wou nie meer doelwitte najaag nie, maar eerder hê dit moet betekenis hê, en sy het begin om "te swem vir hoop" ten bate van verdienstelike organisasies: Eers die Little Fighters Cancer Trust, en later Muzukidz, ’n musiekprogram wat kinders uit minderbevoorregte omstandighede die geleentheid gee om ’n musiekinstrument te leer speel.

In die afgelope vyf jaar het die prentjie vir uitvoerende kunste egter begin verander. Moeilike ekonomiese toestande het begin om kunstenaars se lewensbestaan te bedreig, en die COVID-19-pandemie het die finale knou toegedien.

"Ek dink nie mense besef hoe swaar dit op die oomblik met kunstenaars gaan nie," sê Carina. Sy self het haar besigheidsvaardighede ingespan om ’n nuwe onderneming te begin wat regstreekse videostroming (live streaming) doen. Baie kunstenaars het egter niks om op terug te val en sukkel op die oomblik om ’n inkomste te verdien.

"Mense kies kuns nie vir geld nie, hulle kies dit vir kuns,” verduidelik sy. "As jy nie jou kuns kan beoefen nie, raak dit nie net jou lewensbestaan nie, maar ook jou lewensdoel. Jy kan nie ander mense se siele voed nie, en ook nie jou eie nie."

Daarom het Carina in Maart weer vir hoop geswem – hierdie keer ten bate van die Tribuo-fonds, ’n niewinsorganisasie wat geskep is weens die impak van COVID-19 op die uitvoerende kunste.

Sy het besluit om oor Walkerbaai, van die Ou Hawe in Hermanus na De Kelders, te swem en het die afstand van net minder as 21 km in ’n tyd van 6:36 afgelê volgens die Engelse Kanaal-reëls, wat beteken dat sy net ’n swembroek, swemkappie en swembrille aangehad het.

Hoewel sy al verskeie swemmylpale bereik het, is hierdie een boaan haar lys in terme van die waarde en betekenis wat sy daaraan heg.

"Ek het nodig om iets te doen om te help, en ek wil hê kunstenaars wat op ’n moeilike plek is, moet weet iemand sien hulle raak en voel hulle pyn."

Carina moes feitlik die hele pad teen die stroom swem, wat vir haar baie simbolies was.

"As jy ophou swem, gaan jy agteruit. Al wat jy het om aan vas te hou, is energie en hoop. As kunstenaars voel ons magteloos, maar hierdie poging het my bemagtig laat voel."

Altesaam R150 000 is al te danke aan hierdie poging ingesamel. Besoek https://www.tribuo.co.za/carina-swimsforarts/ vir meer inligting of om te skenk.