Digitale Alumni-Nuusbrief | Lente 2020

Jy is ’n sanger, skrywer, koskenner, uitvoerende kunstenaar, televisiepersoonlikheid... Vertel ons waarmee jy jou deesdae besig hou en watter projekte jou na aan die hart lê.

Ek het sopas TOEGANG, my nuwe TV-reeks klaargemaak, my nuwe boek verskyn in Oktober, ek het ’n reeks gesonde olies bekend gestel, ek begin met ’n food blog wat binne enkele dae vrygestel word, en ek skryf tans aan ’n nuwe verhoogproduksie. Ek is besig met baie dinge, maar musiek is die belangrikste en ná ses maande daarsonder mis ek dit erg. 

Ons neem aan jy is baie goed met tydsbeplanning. Hoe kry jy alles gedoen en het jy ’n paar wenke?

Ek het nie ’n lewe nie, ek het min vriende en my familie is ver, dus werk ek elke dag van my lewe. Ek maak lysies, hou dagboek en werk volgens ’n roetine. My daaglikse bestaan is ongelooflik georganiseerd en vervelig, selfs ek is af en toe geskok daaroor. Maar ek het baie energie, is vreeslik puntenerig en stel hoë eise aan myself. Ek is dus maar moeilik en put gereeld die mense om my uit.

Watter impak het die COVID-19-inperkingstyd op jou gehad?

Ek het uiteindelik tyd gehad om alles wat lê en wag het aan te pak. Ek het my argief op datum gekry en baie gestap. Ek het ook uitgevind hoe boos die wêreld se leiers is, hoe onnosel hulle volgelinge is en watter gek gedagtes mense wat ek goed ken, koester. Ek was verlig om op my eie te wees. Ek hoop hierdie krisis bring ongelooflike verandering. 

Wat staan vir jou uit as jy terugdink aan jou tyd op Stellenbosch?

Baie gedrink, baie gerook, baie gevry en baie, baie projekte aangepak. Het so min as moontlik klas bygewoon en soveel musiek as moontlik probeer maak. Ek was in dieselfde tyd as ’n ongelooflik opwindende groep sangstudente en drama- en kunsstudente op Stellenbosch. Ons het goed aangevang (op die verhoog) wat my nog steeds verbyster. Ek het nog kontak met die meeste van hulle. 

Hoekom het jy besluit om aan die Universiteit Stellenbosch te kom studeer?

Ek moes op ’n manier die weermag ontduik. Stellenbosch is ná aan Kuilsrivier waar ek orrelis was, asook ná aan Kaapstad waar ek so vroeg as moontlik probeer werk kry het. En dit is al op skool besluit dat Betsie Cluver my klavierdosent sou wees. 

Is daar ’n professor/mentor/rolmodel uit jou studentedae wat ’n impak op jou gemaak het?

Roelof Temmingh en Betsie Cluver was my twee mentors by die Konservatorium. Ek het ook baie geleer by ’n paar van die Dramadepartement se dosente. Ek was die heeltyd daar besig met die een of ander konsert of projek. Ek het alles van beligting geleer by Emile Aucamp; dis die belangrikste ding wat ’n verhoogkunstenaar kan leer! 

As student op Stellenbosch, het jy ooit kon dink dat jy vir meer as drie dekades so suksesvol sou wees?

Ek het nooit aan sukses gedink nie, ek het net geweet ek wil op die verhoog wees anders sal ek vergaan, daar was nooit ’n Plan B nie. Ek neem aan dis hoekom ek akademies so ’n disaster was, ek wou perform, nie in lang lesings rondhang nie.

Ons het pas Erfenismaand gevier. Wat beteken erfenis vir jou? En hoe vier jy dit?

My erfenis is dít wat ek kies, ek vier dus elke dag my eie erfenis. Geskiedenis was so ’n gemors toe ek op skool was, almal oor wie ons geleer het, was in kakie, dit het my so verveel. Ek het baie later – nadat ek begin reis en museums en ateljees begin besoek het – uitgevind dat geskiedenis totaal opwindend is en dat dit my mees geliefde tydverdryf sou word. Ek leef in ’n totale bubble, dit vervul baie mense met afgryse, maar ek woon in die verkeerde tydperk in die verkeerde deel van die wêreld; sou baie graag wou leef met kerse, koetse en vriende soos Chopin. My erfenis is dus my ouma se kombuis, my boeke, my versameling kostuums en die stemme in my kop – min te doen met ander se werklikheid. 

Het jy enige raad of woorde van wysheid wat jy met vandag se jongmense kan deel?

Wees regop, fier, driftig, sterk en vasberade. Vandag se jongmense het bitter min stamina, alles moet oornag gebeur of daar is ’n ineenstorting. (Daar is ’n paar uitsonderings!) Uithouvermoë is ALLES, dit bepaal wie bly staan en wie langdurige sukses beleef. 

Wat wil jy graag hê moet jou nalatenskap wees?

Dat ek genoeg gedoen het om ’n paar deure oop te skop vir die individue van die toekoms. Dit is seker nie reg nie, maar ek het bitter min tyd of respek vir instansies of organisasies wat die establishment verteenwoordig. Ons is groep-befoeterd, terwyl alles wat nog die aarde beter gemaak het, gedoen is deur merkwaardige individue. Ek is beslis nie een van hulle nie, maar ek hoop ek kon een inspireer. 

Hoe gereeld kom jy terug na Matieland? Sien ons jou dalk by die Universiteit se Tuiskomsnaweek vir alumni in September 2021?

Beslis nie. Daar is niks erger om jou aan jou ouderdom te herinner as enige vorm van ’n reünie nie! Ek sal aan julle dink en gaan lê vir Botox.

Nataniël se gunstelinge

Persoon: My bestuurder

Kos: Braaibrood met tamatie en uie (geen kaas nie!)

Liedjie: Ariana Grande se Leave Me Lonely (op die oomblik)

Film: Midnight in the Garden of Good and Evil

Boek: The Girl with Glass Feet deur Ali Shaw