Digitalisering het ’n kragtige instrument vir digitale beplanning en konstruksie geword. Alhoewel digitale transformasie groot potensiaal vir die bevordering van ekonomiese en doelmatige bouprojek‑lewensiklusse inhou, verg dit verantwoordelike hantering. My voortgesette proefskrifwerk bespreek die sosiale, opvoedkundige, ekonomiese en politieke impak deur die implementering van kunsmatige intelligensie (KI) vanuit ’n etiese perspektief. Die fundamentele heroorweging van tegnologiese vooruitgang in konstruksie en die volhoubare in voeling bly met digitalisering stel uitdagings aan alle betrokkenes.
Deur middel van oop gesprek met nuwe tegniese moontlikhede en proaktiewe en tegnies bekwame hulp rakende die vorming van so ’n tegnologiese landskap, kan maatskappye hierdie proses tot sukses aanvoer. Die aanpak van hierdie uitdaging is ’n topprioriteit in konstruksie. Nieteenstaande is daar ’n gebrek aan die herkenning van toepassings- en potensiaalvelde. Kennis van digitale tegnologieë en metodes moet eers op omvattende wyse verwerf word ten einde digitale verantwoordelikheid te kan aanvaar vir iets wat vir vele nog onbekend en ontoeganklik is. Dit is ’n voorvereiste vir die grootste moontlike sosiale voordeel, ekonomiese welvaart en vir die beskerming van ons natuurlike lewensfondasies. Die ontwerp daarvan moet sodanig wees dat maatskappye veilige databestuur kan waarborg, asook vir toegang tot en gebruik van nuwe tegnologieë deur almal.
Aanpassings in die onderwyslandskap
Die verband tussen moraliteit en tegnologie speel ’n beduidende rol by die evaluering van korporatiewe verantwoordelikhede in digitale omgewings, die gebruiksvelde van KI, asook die ontwikkelaars en gebruikers se etiese verantwoordelikhede. Daar moet ondersoek ingestel word na geleenthede vir en risiko’s van mensgeleide tegnologieë wat digitale transformasie ondergaan. Die belangrikste uitkomste van my studie behels dat die standaarde en bindende reëls van die etiese raamwerk vir die gebruik van KI op politieke vlak gestel moet word. Verder moet die opvoedkundige landskap sodanig aangepas word dat die volgende generasie ingenieurs nie alleen vaardighede in digitalisering en KI sal hê nie, maar ook oor die nodige etiese en multidissiplinêre vaardighede sal beskik. Om waardekettings te vergroot, langtermynkoste te bespaar en volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te behaal, word daar voorgestel dat etiese besluitnemingsprosesse wêreldwyd in die korporatiewe kultuur geïnstitusionaliseer word.
Sodanige holistiese navorsing en aspekte bied die impuls vir hierdie studie, wat verder as die oorheersende finansiële fokus strek en gemik is daarop om maatskaplike en ekonomiese voordele van binne te skep. Die konstruksievertakking kan ander vertakkings aanspoor om die potensiaal vir die etiese implementering van digitale transformasie binne ’n sterk korporatiewe kultuur te erken.
Die studie voeg die dissipline konstruksie-ingenieurswese by die algemene wetenskaplike “Etiek in KI”‑debat. Konstruksie het sopas met die ondersoek na die eerste digitale metodes en instrumente van KI begin, wat as ’n nuwe werkslewe beskou word en menslike bedrywighede in konstruksie sal vergemaklik. Die begrip en kennis van sodanige tegnologieë is egter steeds beperk tot ’n minderheid mense wat dit ontwikkel of met die gebruik daarvan begin. Die studie kom tot die gevolgtrekking dat die geleenthede, risiko’s en swak punte van KI kragtiger kommunikasie en deursigtigheid verg. Dit verhoog die doeltreffendheid van die projek‑lewensiklus deur etiese beginsels vir die gebruik van KI te omskryf, wat tot volhoubare digitale transformasie lei.
"iEtiek"
’n Duidelike onderskeid tussen menslike intelligensie en KI is nodig om risiko’s, potensiaal en toepassingsgebiede te omskryf: dit is die menslike intelligensie wat KI programmeer, rig, beheer, regstel, bestuur en onderhou.
Hierdie werk gebruik ’n kwalitatiewe, gestruktureerde navorsingsmetodologie, gebaseer op werklike ervarings en waarnemings van veelvoudige werklike toepassings in die konstruksiebedryf, onder meer kundige opnames wat navorsing betref, akademiese verteenwoordigers en etiek, KI‑instellings, asook op politieke en sakegebied.
Gedeeltelike resultate is by die IAO Fraunhofer Instituut aangebied. Die navorsingsresultate word ook aan ’n wêreldwye rolspelersmaatskappy beskikbaar gestel, wat die korporatiewe etiese raamwerk vir KI definieer, sowel as aan ’n vereniging wat die etiese bestuur van Duitse konstruksiemaatskappye sertifiseer deur die opneming van nuwe etiese riglyne vir digitalisering en KI.
Hierdie konsep het my geïnspireer om die nuwe term “iEtiek” te skep en te definieer, wat die eties‑geleide, onderneming‑verantwoordelike digitalisering in die konstruksiebedryf omvat en KI‑metodes op sinvolle, intelligente wyse aanwend.
Kundiges kom tot die gevolgtrekking dat masjienleer oor ’n geskatte potensiaal vir waardeskepping van $5,8 biljoen beskik. Dit beteken dat KI oor groter potensiaal as die stoomenjin beskik. Daar is ’n enorme onbenutte potensiaal vir verbetering. Die onderneming‑verantwoordelike ontwerp van die digitale transformasie vorm die grondslag, ondersteun deur die professionele en persoonlike bevoegdhede en vaardighede van almal wat by die konstruksieprojek betrokke is.
Vir hul begeleiding tydens my navorsingstudie is ek hartlik dank verskuldig aan prof JV Retief, Siviele Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch, en dr Greg Ker-Fox, tans mededirekteur PwC, Johannesburg.
Altyd 'n Matie
As voormalige uitruilstudent aan die Universiteit Stellenbosch is ek trots daarop om ’n lid van die Maties-gemeenskap te wees. Ons deel gemeenskaplike waardes en ’n stewige wêreldwye netwerk, en ons tree op as ambassadeurs van uitstekende akademiese opvoeding wat help om ons samelewings, diversiteit, gelykheid en die vorming van die wêreld vooruit te neem.