Dirk word beskou as ’n sleutelvredesmakelaar wat versoening tussen wit en swart vergemaklik het, terwyl hy ook een van die vernaamste bydraers tot die opstel van Namibië se wydgeloofde grondwet was.
Dirk se seun, Henk, wat siviele ingenieurswese aan die Universiteit studeer het, skryf die geskiedenis van hul noue familiebande met Stellenbosch aan sy unieke kampusatmosfeer toe; sy minder afgesonderde politieke etos in vergelyking met die histories meer konserwatiewe universiteitskampusse in Bloemfontein, Potchefstroom en Pretoria; en bowenal sy status as ’n wêreldklasinstelling.
Henk verwys na die kritiese rol wat sy pa gespeel het om die voormalige Suidwes-Afrika op die pad na onafhanklikheid te plaas, asook die persoonlike struikelblokke wat die Mudge-familie moes verduur. “Die familie het onder ’n geweldige aanslag deur van die konserwatiewe elemente in die land gely," sê hy.
“Aangesien ons familie nog altyd polities meer liberaal in ons opvattings was, was die Universiteit Stellenbosch die natuurlike keuse,” vervolg Henk. Hy het sy pa as leier van die Republikeinse Party, die party wat Dirk gestig het nadat hy in die 1970’s met die Nasionale Party gebreek het, opgevolg.
“Ek glo ek praat namens al die familielede wat aan die Universiteit studeer het wanneer ek sê die treffendste eienskap is die manier waarop studente uit verskillende kulturele agtergronde en ’n verskeidenheid politieke standpunte mekaar respekteer,” sê Henk. “Dit was selfs opmerkliker in die Wilgenhof-koshuis waar ek en my broer en die meeste van my pa se kleinseuns gelukkig genoeg was om te woon.”
Henk verwys verder na die aantrekkingskrag van die Stellenbosse sportkultuur. “Sport was nog altyd in ons bloed en natuurlik het die meeste van ons rugby gespeel,” vervolg hy.
Ter erkenning van sy rol in die fasilitering van die oorgang tot ’n demokratiese Namibië en die verbetering van menseverhoudinge daar het Dirk, wat aanvanklik in 1947 met ’n BA-graad in handel gegradueer het, twee jaar gelede ’n eredoktorsgraad in filosofie van die Universiteit ontvang. Hy het dit egter met ’n mate van onwilligheid aanvaar.
“Tydens my politieke loopbaan het my vrou my gedurig gewaarsku om my nie aan selfverheerliking skuldig te maak nie,” sê Dirk. “Maar daarna [toe ek hoor waarom ek die eredoktorsgraad ontvang het], was dit [in my oë] ’n geweldige eer, des te meer omdat dit aan my gegee is deur die Universiteit waarop ek my hele lewe lank trots was.”
Namate Dirk besin oor die gesprek met die Universiteit se Rektor en Visekanselier, professor Wim de Villiers, toe hy gehoor het van die Universiteit se besluit om ’n eregraad aan hom toe te ken, onthou Dirk: “Ek was baie verlig en bly om te hoor dit sou ’n doktorgraad in filosofie wees, want ek het in my lewe altyd probeer om soveel wysheid as moontlik te bekom.”
Die bewondering vir die Universiteit blyk ’n familiekenmerk te wees. Benewens die skoonheid van die dorp Stellenbosch en die Wes-Kaap, beskryf Henk onder meer die “wonderlike atmosfeer” op die kampus as een van sy blywende herinneringe aan en ’n belangrike rede vir die instelling se gewildheid by die Mudge-familie.
Met die jare het die Mudge’e, asook die meerderheid van dié se skoonfamilie, in ’n wye reeks vakke oor die volle spektrum van die geesteswetenskap- en wetenskapdissiplines, aan die Universiteit studeer. Musiek, letterkunde, ekonomie, elektronika, lewenswetenskappe, ingenieurswese, besigheid, omgewingstudies, juweliersontwerp en sportwetenskap; die verskeidenheid van die studievakke weerspieël die Universiteit se vermoë om in die familie se uiteenlopende behoeftes, asook hul duidelike liefde vir die onderwys, te voorsien.
Dit is ’n strewe wat ongetwyfeld sal voortduur. Met die laaste van Dirk se 16 kleinkinders wat tans haar meestersgraad in bedryfsingenieurswese voltooi, is dit net ’n kwessie van tyd – Henk reken sowat agt jaar – voor die eerste van Dirk se (tot dusver) 21 agterkleinkinders deur die kampushekke sal stap.