Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2019

Verskeie koerante doen daaroor berig – Die Burger, Cape Times en ook die plaaslike koerant op mej. Nell de Vries se tuisdorp Worcester.

Laasgenoemde borduur nog verder voort deur sy lesers te vertel dat hierdie voormalige hoofdogter van die destydse Hoërskool vir Meisies op Worcester in standerd agt (graad 10) die skoollied gekomponeer het.

Nell, ’n musiekstudent in haar derde jaar, is maar die tweede vrou wat as pianis gekies is. Luidens koerantberigte het ’n ene mej. Anna Hanekom 26 jaar vantevore, in 1924, ook die Maties as pianis begelei.

*******

Dit is lente 2019 en die 90-jarige mev Nell Naudé (sy is in 1954 met Johann Naudé, ’n boer van Worcester, getroud) onthou daardie dae nog met ’n glimlag.

“Die Intervarsity was die geleentheid van die jaar,” vertel sy. “Studente moes voor die tyd aan sing-songs deelneem as hulle kaartjies wou hê.”

By die eerste sangbyeenkoms van die jaar is die dirigent en pianis gekies. Studente kon mense voorstel en elkeen moes dan iets op die klavier speel voor die stemmery begin.

“Ek het my byna doodgeskrik toe hulle my naam roep. Die hele pawiljoen het vol mense gesit. Ek raak sommer weer sweterig as ek daaraan dink,” lag sy.

Sy is eenparig verkies en toe het die voorbereiding begin. Die pianis is deur ander musikante op instrumente soos die trekklavier en die kontrabas vergesel. Stempelkaarte is uitgedeel en ’n volledige stempelkaart was belangrik as ’n student in aanmerking wou kom vir ’n sitplek.

In 1950 is die Intervarsity deur Ikeys op Nuweland aangebied. Dit was die gasheeruniversiteit se verantwoordelikheid om seker te maak dat die klavier op die pawiljoen gereedstaan.

“Dit was groot sports gewees,” sê Nell. “Dit was regtig ’n show.” Sy het uiteindelik drie jaar as pianis gedien.

Nell was ook primaria van Greylock, ’n klein koshuis vir musiekstudente. Van haar beste herinneringe van haar tyd op Stellenbosch is ontmoetings by die Suikerbossie-kafee en danse in die stadsaal. Een van die orkeste wat sy daar gehoor het, Bobby’s Five, het uiteindelik ook op haar troue gespeel.

“Ons was maar so 4 000 studente en mens het omtrent almal geken. Ons het baie pret gehad. Dit was van die beste tye van my lewe.”

Sy en haar man het hul na hul troue op ’n plaas in Worcester gevestig en vyf dogters grootgemaak. Nell was ook ’n musiekjuffrou op Worcester. Hulle het 33 jaar gelede die plaas verkoop en na Hermanus verhuis.

Vandag woon Nell op Onrus en is sy ouma van 10 kleinkinders en oumagrootjie van vier agterkleinkinders. Toe sy in Oktober 90 geword het, was daar 29 mense om die feestafel.

“Ek is verskriklik geseënd. Ek het nog my verstand. Ek ry my eie kar,” sê sy. Sy doen graag blokkiesraaisels en Sudoku en speel deesdae eerder brug as klavier.

“En dis nie sosiale brug nie, dis kompetisiebrug,” beklemtoon sy.

Sy woon ook graag nog plaaslike musiekuitvoerings by, maar die vleuelklavier wat sy in haar derde jaar op universiteit gekry het, dien nou eerder as ’n staanplek vir gesinsfoto’s.

“Almal baklei oor hom, maar ek weet nie waar gaan hy heen nie. Nie een van my kinders is eintlik musikaal nie,” peins sy. Hopelik is daar in die volgende generasies iemand wat die musiekvuur wat op Stellenbosch gestook is, aan die lewe sal hou …