Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2019

Die nuwe Statuut is op 16 Augustus 2019 in die Staatskoerant gepubliseer nadat dit in November 2018 deur die US Raad goedgekeur is en op 10 Julie deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie geteken is. Die Universiteit het 24 maande om die samestelling van sy statutêre liggame in ooreenstemming met die nuwe Statuut te bring.

Die Statuut is die US se grondwet en bied die institusionele raamwerk vir die doeltreffende oorsigbestuur en administrasie van die Universiteit. Dit bepaal onder meer die samestelling en funksionering van die Raad, Senaat, fakulteitsrade, die SR, die Institusionele Forum en die Konvokasie.

ʼn Uitgebreide oorlegplegingsproses om die vorige Statuut (van 2016) te hersien, het in Augustus 2017 begin. 'n Taakgroep onder leiding van die Registrateur, dr Ronel Retief, het saam met regsgeleerders en ander deskundiges aan die nuwe dokument gewerk. Oorlegpleging het uit verskeie werksessies, ʼn maand lange proses van openbare deelname, sowel as bydraes deur belanghebbers soos fakulteitsrade, die Studenteraad (SR) en die uitvoerende bestuur van die Konvokasie bestaan.

“Dit was ’n deeglike herskrywe van die Statuut; nie bloot ’n verstellingsoefening nie,” verduidelik dr Retief. Die formaat het verander en pogings is aangewend om, onder meer, konsekwente nominasie- en verkiesingsprosesse tussen die verskillende strukture te verseker.

Dr Retief het groot waardering uitgespreek vir al die alumni wat aan die openbaredeelnameproses deelgeneem het.

Die nuwe Statuut sluit ’n voorwoord in wat die gees en die breër voorneme van die Statuut verduidelik en raak aan beginsels soos menswaardigheid, gelykheid, vryheid, akademiese integriteit en die bevordering van eenheid in verskeidenheid. Dr Retief lê klem daarop dat die Statuut ’n dokument is wat bevoegdhede toeken en wat toeganklik en toekomsgerig is.

“Dit is ’n logiese dokument wat doeltreffende besluitnemingsprosesse behoort te ondersteun,” voeg sy by.

Een van die taakspan se hoofuitdagings was om die US Raad te verklein. As een van die Suid-Afrikaanse universiteite met ’n raad van 30 lede, het die US een van die grootste universiteitsrade in die wêreld. Ná uitgebreide konsultasie is die grootte tot 25 lede verminder, met die getal viserektore wat op die Raad verteenwoordig word wat van 3 na 1 verminder is en die getal verteenwoordigers van die Konvokasie wat van 6 tot 3 verminder is.

Wat betref Konvokasievergaderings, verklaar die Statuut dat die US redelike stappe met beskikbare hulpbronne moet neem vir die progressiewe daarstelling van die hoogste moontlike vlak van deelname.

“Daar is meer as 300 000 Matie-graduandi wêreldwyd en ons wil graag die diversiteit van ons alumni ontsluit en seker maak dat ons ’n wye reeks menings oor relevante kwessies kry,” sê dr Retief.

Die Registrateur se kantoor ondersoek verskeie tegnologiese opsies vir virtuele deelname en die kworum vir vergaderings is verhoog van 100 tot 250. Nominasie- en verkiesingprosesse sal in die toekoms ook aanlyn plaasvind.

Hoewel die Konvokasie geen besluitnemingsmagte het nie, is sy doel om die welstand van die Universiteit te bevorder. Die sekretaris van die Konvokasie dien die notule van die vergaderings by die Registrateur in, wat op sy/haar beurt die advies indien by die Raad, en die Senaat waar van toepassing.

Volgens die nuwe Statuut bestaan die nuwe uitvoerende komitee van die Konvokasie uit ’n president, vise-president, sekretaris en twee ander lede. Hulle beklee hul amp vir drie jaar en kan herkies word, maar mag nie hulle amp vir meer as drie opeenvolgende termyne beklee nie.

As die grondwet van die US, fokus die Statuut op die institusionele argitektuur van die instelling en voorsien dit nie al die besonderhede wat betref die oorsigbestuur en administrasie van die Universiteit nie. Die daarstel van Institusionele Reëls wat die bepalings in die Statuut sal ondersteun – 'n vereiste van die Wet op Hoër Onderwys – begin binnekort.