Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2020

Hulle het tussen Woensdag 15 Oktober om 04:00 en Sondag 18 Oktober om 15:00 altesaam 2697 km van Tafelberg tot Tafelberg gery en net 15,5 uur geslaap om 'n gesamentlike hoogteverskil van 8881 m baas te raak.

Die idee vir die avontuur het gedurende die inperking by Dalene, 'n optiese ingenieur van Somerset-Wes wat haar graad in 2016 aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het, ontstaan toe die provinsies se grense nog gesluit was.

"Ek was nog altyd bewus van drie Tafelberge (Kaapstad, Wemmershoek en Cederberge) en wou al ’n rukkie al drie oor een naweek aanpak. Maar toe lockdown ons tref, het verdere navorsing getoon dat daar meer as net drie Tafelberge in die Wes-Kaap is. Ons het toe besluit om almal aan te durf," vertel Dalene.

Die trio, wat al drie ywerige veldhardlopers (trail runners) is, het die webwerf www.geonames.org besoek en op 15 Tafelberge afgekom, by: Bitterfontein, Cederberge, Ceres/Kouebokkeveld, De Doorns, Robertson, Wemmershoek, Stettyn, Stanford, Onder-Kammanassie, Bo-Kammanassie, Meiringspoort, Klaarstroom, Beaufort-Wes, Merweville en Kaapstad.

Caro, ’n goudsmid van Durbanville wat haar BA Visuele Kunste-graad in 2013 aan die US behaal het, is deur avontuurlus, 'n nuuskierigheid oor nuwe plekke en 'n begeerte om herinneringe saam met haar beste vriendin te maak, oorreed om aan hierdie uitdaging deel te neem.

"Ek het besef dit is nie iets wat ander mense al gedoen het nie, of wat baie mense sál doen nie. En hoe bevoorreg ons is om sulke avonture te kan aanpak en om vriende te hê wat die siening van avontuur deel."

Die idee van 'n agterplaasavontuur en die logistieke en fisieke uitdaging daarvan het sterk aanklank gevind by Magan, 'n ouditklerk by BGR de Villiers Ing. in die Paarl.

"Ek het gedink dit is 'n wonderlike manier om die Wes-Kaap beter te leer ken en die skoonheid daarvan met vriende en familie te deel."

Die drie hardlopers het met al die grondeienaars kontak gemaak en toestemming gekry om die berge te klim. Hulle het ook vooraf elke piek verken om ’n idee van die terrein te kry.

Die sonsondergang op Bo-Kammanassie se kruin, die feit dat hulle net een (klein) slang teëgekom het en die ontdekking van hul liggaam se vermoë om vas te byt, was 'n paar van die hoogtepunte.

"Ons woon in ’n ongelooflike land; die mense, die diere, die plante en die manier van lewe by elke Tafelberg is so uniek," sê hulle.

Hulle het ook ontdek dat ’n glimlag en vatvyf goud werd is, dat die verwagting (of afwagting) van pyn dikwels erger is as die pyn self, en dat mense altyd bereid is om te help.

"Ons land is spesiaal. As jy hom nie goed ken nie: dis okay, daar is tyd. Jy hoef nie baie geld te hê of baie fiks te wees nie. Jou avontuur lê net anderkant die voordeur."