Vertel ons van julleself.
Christina en Raphael: Ons albei het regte op Stellenbosch gestudeer en in 2001/2 vir die LLM-program Internasionale Saketransaksies ingeskryf.
Christina: Ek werk as senior bestuurder in die Departement Internasionale Belasting by KPMG in München. Gedurende die week woon ek in München se stadskern, maar andersins bring ek soveel tyd moontlik deur by Chiemsee (ook bekend as die “Bavariese See"), naby die Alpe. In die huidige pandemie is sake meer ontspanne in die plattelandse gebiede.
Raphael: Ek werk as regsadviseur by Siemens en leef in die buitewyke van München.
Freek: Ek woon in Nederland. Gedurende my tyd in Stellenbosch – in 2015 – het ek toegepaste wiskunde, statistiek, geo-omgewingswetenskap en ekonomie bestudeer. Ek werk nou as produkbestuurder vir 'n spoorwegverskaffer.
Jazz: Ek is 'n Nederlander, en werk en woon tans in Amsterdam. Ek het sakeadministrasie gestudeer, wat eintlik snaaks is as jy weet dat my pa 'n musikant is en my ma 'n skilder. Ek wou seker maar iets heel anders doen! Gedurende my uitruilsemester in Stellenbosch het ek bestuurswetenskapkursusse gedoen, maar ook Afrikaans (my gunstelingkursus).
'n Kursus in entrepreneurskap wat ek in Stellenbosch gevolg het, het my oortuig om 'n meestersgraad in innovering en entrepreneurskap te doen. Ek kan dus eerlik sê dat die Universiteit Stellenbosch my akademiese loopbaan sterk beïnvloed het.
Ek werk tans as konsultant by 'n Nederlandse bank. Maar eendag wil ek teruggaan Afrika toe sodat ek my droom kan vervul om my kennis te deel en entrepreneurs in die Midde-Ooste en Afrika van raad te bedien sodat hulle volhoubare ondernemings kan bou.
Julle het op Stellenbosch ontmoet; vertel vir ons hoe julle vriende geraak het.
Christina en Raphael: Ons was deel van 'n paar studente wat mekaar deur die Internasionale Kantoor se oriënteringsprogram leer ken het. Die oriënteringsweek was baie nuttig, en boonop groot pret.
Freek: Ons het mekaar nie vooraf geken nie, maar ons het om dieselfde studentehuis aansoek gedoen: Poolhouse. Ons het die huis met 16 internasionale en 7 Suid-Afrikaanse studente gedeel, en dit het uitstekend gewerk. Vanaf die eerste paar dae het ons mekaar regtig goed leer ken en baie goeie vriende geraak. Ons het gaan wyn proe, Kaapstad toe gegaan, die kroeë besoek, ons vrye tyd saam deurgebring ... Nie net ons drie nie, maar ook baie van die ander huismaats. Die perfekte kombinasie van mense, in die perfekte omstandighede. Dit laat my sommer goed voel as ek aan daardie tyd terugdink!
Jazz: Dit was in Julie 2015; Jannik ('n ander vriend van ons), Freek en ek het almal in dieselfde huis in Soeteweidestraat gebly en het in dieselfde week in Suid-Afrika aangekom. Ons het 20 huismaats gehad, van oraloor: SA, België, Nederland, Duitsland, Oostenryk en Switserland. Ons het baie dinge saam as huismaats aangepak – van studeer tot 'n weeklikse sokkerwedstryd, rugby speel (eerder: probeer speel) en reise deur die land heen. Aangesien die meeste van ons net 'n kort rukkie daar sou wees en ons “alleen" aan die ander kant van die aardbol was, het ons vriendskap “in 'n drukkoker" ontwikkel, dink ek. Nadat ons tyd op Stellenbosch verby was, het ons 'n 4x4 gehuur en deur SA, Namibië, Botswana en Zimbabwe gereis; nóg 'n uitstekende manier waarop ons mekaar kon leer ken.
Wat staan vir jou die helderste uit as jy aan jou tyd op Stellenbosch terugdink?
Christina en Raphael: Ons was Matie-studente vir die een jaar wat ons LLM-program geduur het. Akademies gesproke is ek die meeste getref deur die baie goed georganiseerde program van die kursuswerk, die klein klasgroepe, persoonlike atmosfeer en goeie betrekkinge met ons voortreflike dosente. Die koel ondergrondse biblioteek op warm somersdae verdien spesiale vermelding. Op 'n persoonlike noot tel die jaar in Stellenbosch onder die opwindendste, verrykendste tye met die grootste verskeidenheid ervarings wat 'n mens kan beleef.
Freek: Ons almal was vir ses maande in Stellenbosch. Hmm ... dis moeilik om spesiale oomblikke uit te sonder, want daar was so baie. By die lys dinge wat al genoem is, sal ek die Tuinroete-besoek, Rocking the Daisies en die Wêreldbekerrugbytoernooi voeg – alles ervarings wat jou laat hoendervleis kry.
Jazz: Hoewel ons net ses maande daar deurgebring het, onthou ek hoeveel dinge 'n indruk op my gemaak het wat vir ander mense heeltemal normaal was: mense wat kaalvoet op kampus rondloop, die oormatige gebruik van rubberstewels en 'n buigsamer benadering tot die reëls, om enkeles te noem. Maar ook die kompleksiteit en uitdagings van die land; hulle leer jou nie daarvan in die Nederlandse skole nie.
Kom julle soms bymekaar?
Christina en Raphael: Ons kom gereeld in München bymekaar, dikwels saam met ander Maties.
Freek: Ons sien mekaar nog so nou en dan. Om die waarheid te sê, ons het al heelwat naweke saam deurgebring in 'n groep van ses tot sewe ouens. Ons het Amsterdam, Brussel, Dublin en Berlyn toe gegaan. Corona het gekeer dat ons vir 'n naweek in die Ardenne gaan kuier het. Buiten dit als het ons ook vir ander geleenthede bymekaargekom. As 'n mens so 'n intense en lieflike tyd saam beleef het, vorm daar 'n baie sterk onderlinge band.
Jazz: Om die waarheid te sê het Jannik, nadat ons teruggekom het, vir leerklerkskappe in Amsterdam begin soek en gou-gou hierheen getrek. Dit was dus veel makliker vir ons om kontak te behou. Nadat hy weer 'n ruk in die buiteland was, het hy hom nou in Nederland kom vestig. Ek glo graag ons is die rede daarvoor. ;)
Het julle die dorp ooit weer besoek na julle studentedae op Stellenbosch?
Christina: Aangesien ek internasionale kliënte in Suid-Afrika gehad het, het ek tot 2014 gereeld teruggekeer Suid-Afrika toe, om werks- sowel as persoonlike redes. Ongelukkig kon ek die afgelope paar jaar nie weer daar besoek aflê nie. Ek hoop ek kan binnekort weer daar uitkom!
Raphael: Ek het Stellenbosch vier keer weer besoek: in 2003, in 2006, met die Wêreldbeker in 2010, en in 2018 – die laaste keer – saam met my seun (wat toe tien jaar oud was), sodat ek Stellenbosch vir hom kon wys.
Freek: Ja, ek het, half toevallig. My meisie se suster het in 2017 in PE gestudeer, en ek het saam met haar familie gegaan om by haar te gaan kuier. Ons het Stellenbosch ook besoek. Maar dit was in die Kerstyd, wat beteken daar was geen studente nie en die gees was nie dieselfde as wat ek dit onthou het nie. Nogtans was dit baie spesiaal om net weer daar te wees.
Jazz: Ek was ongelukkig nog nooit weer daar nie. Ek sal Suid-Afrika bitter graag binnekort weer wil besoek sodat ek my herinneringe in Stellenbosch kan herleef en plekke kan besoek waarby ek die vorige keer nie gehaal het nie.