Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2020

Dis reg, ons is besig om ratte te verwissel vir 2021. Ons jaarlikse Maties Alumni Tuiskoms-en-Familienaweek het ’n nuwe datum, en natuurlik is jy onder die genooides. Van Donderdag 23 September tot Saterdag 25 September 2021 gooi ons die maroen tapyt oop, en jy het ’n gouesirkelkaartjie om ’n verskeidenheid spesiaal uitgewerkte geleenthede by jou alma mater te kom geniet.

Kry jou vriende bymekaar, bring jou gesin en wees deel van ’n opwindende drie dae waarin jy herinneringe kan oproep, bande kan verstewig en jou wonderlike studentedae kan herleef.

Ons het die dagprogram vir Donderdag 23 September behoorlik gelaai. Ons gryp die dag met ’n sakemiddagete en loopbaannetwerkgeleentheid. Hou jou nuusbriewe dop – ons het inspirerende leiers uitgenooi om hulle kundigheid te kom deel.

Vir die sportentoesiaste beplan ons ’n hele rits sportbedrywighede waarin koshuise mekaar op die sportveld gaan pak. Eendrag teen Simonsberg, Wilgenhof teen Dagbreek of Harmonie teen Monica … wie weet, kies jou span en kom wys waar jou ondersteuning lê.

As ’n ekstraspesiale heerlikheid stook ons die saamwees met Maties Pik-’n-Wyntjie – ’n ervaring met ’n wynproe en bypassende geregte by ons Alumni-Klub by Die Stal. Dit is jou kans om met ’n groep wynmaker-alumni te gesels en van die beste wyne wat beskikbaar is, te proe. Dis die ideale okkasie om jou wynkennis te slyp of jou fynproewerpalet met ander te deel.

Dan steek ons die braaivleisvure vir ’n Maties-vleisbraai onder die eikebome by Die Stal aan. Ons praat van primabiefstuk en boerewors wat op die roosters sis, musiek op die agtergrond en ’n wavrag Matie-gees. Kom #BraaiSoos’nMatie!

Op Vrydag 24 September kuier ons voort – met die dekadereünies. As jy in 1971, 1981, 1991, 2001 of 2011 ’n eerstejaar-Matie was, hou jou e-posbus dop vir jou persoonlike uitnodiging na hierdie bymekaarkomgeleenthede. Dit sluit ’n toer van jou koshuis en die kampus in. Kom kyk self hoeveel het dinge verander en hoeveel is nog net dieselfde.

Verskeie sêrgroepe en ons bekroonde Universiteit Stellenbosch Koor sal sorg dat hulle op die regte golflengte is wanneer hulle vir jou kom sing. Pop, rock, klassiek – wat ook al jou voorkeur is, ons het die musiek vir jou ore. Dit gaan ’n geleentheid wees wat jy nie wil misloop nie.

Daar word ook allerhande koshuisspesifieke bedrywighede vir die Tuiskoms-tyd beplan. Dit sluit onder meer die viering van Eendrag se 60ste bestaansjaar, Metanoia se 15de bestaansjaar en Heemstede se 55ste bestaansjaar in, en Helderberg hou hulle 75ste reünie. Jou koshuis sal jou op hoogte hou.

Saterdag 25 September kry jy kans om spiere los te maak terwyl jy die asemrowende Stellenbosch-omgewing indrink. Ons beplan draf- en fietsry-aktiwiteite by Coetzenburg. En natuurlik is jou gesin en troeteldiere welkom! Vir die rugbyaanhangers reël ons ’n wedstryd tussen die Universiteit van Kaapstad en Maties by die Danie Craven Stadion. Wat meer is daar in die ou lewe?

En dit was maar ’n swiep van die kollig oor ’n paar van ons opwindende planne, net om jou lekker lus te maak. Besoek ons gerus by www.matiesalumni.com om meer inligting te kry en jou plek in die goue sirkel te bespreek. Jy kan die Universiteit Stellenbosch op die verskillende sosialemedia-platforms soos Facebook, Instagram en Twitter volg vir gereelde nuus oor nog wonderlike okkasies en die jongste besonderhede oor alles waarmee ons doenig is.