Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2020

As studente in Matieland het Lucinda in Musiekonderrig gespesialiseer en as deel van die gemeenskapsprojek Jamestown Sounds musieklesse aangebied, terwyl Roché musiekkomposisie onder leiding van Hans Roosenschoon studeer het.

Nadat Roché sy meestersgraad in 2016 ontvang het, het die paartjie ’n jaar in die Verenigde Koninkryk (VK) deurgebring waar hy sy studies aan die Royal Birmingham Conservatoire voortgesit het en ’n nagraadse diploma in komposisie verwerf het. Van die VK af het hulle na Den Haag in Nederland verhuis waar Lucinda ’n meestersgraad in musiekonderrig by die Koninklijk Conservatorium (Royal Conservatoire) behaal het.

Vir Lucinda se navorsing het die paartjie die musiekprojek Krab Muziek (krabmuziek.wordpress.com) begin. Met behulp van tasbare elektroniese klankgenerators (wat bestaan uit eenvoudige voorwerpe soos batterye, luidsprekers en mikrofone) kan kinders kreatief met klanke eksperimenteer en deur middel van verskeie komposisionele aktiwiteite hul klanke in musiek omskep. Na afloop van die werkswinkel voer die deelnemers die musiek wat hulle gemaak het by ’n konsert vir hulle ouers uit.

Krab Muziek verteenwoordig ’n samesmelting van Lucinda en Roché se individuele belangstellings: elektroniese musiekkomposisie en musiekonderrig. Die projek is in 2019 genooi om aan die jaarlikse ‘Rewire’-musiekfees (https://www.rewirefestival.nl/artist/creative-sound-lab) deel te neem.

Naas die aanbieding van Krab Muziek-werkswinkels, het Lucinda ’n private klavierstudio en bied sy ook vioollesse aan.

Roché werk op die oomblik aan 'n nuwe komposisie, Dumelang, vir koor en elektroniese musiek. Die komposisie is 'n opdrag vir die 'Haags Toonkunstkoor', wat al 200 jaar lank bestaan en waarvan Roché ’n lid is. Dumelang se teks bestaan uit groetboodskappe in die 11 amptelike tale van Suid-Afrika en die musiek maak gebruik van klankopnames wat by 'n natuurreservaat in die Limpopo-provinsie opgeneem is. Dit is 'n ware viering van Suid-Afrika se diversiteit. Besoek Roché se webwerf om na sy komposisies te luister (rochevantiddens.wordpress.com).

Die paartjie, wat nog in Nederland woon, beplan om in 2021 in die Wes-Kaap te trou.