Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2020

 

Vertel ons asseblief ‘n bietjie meer van jouself.

Ek is tans in Durban, KZN gevestig en werk as voedselwetenskaplike vir 'n multinasionale besigheid waar ek my doel kan uitleef deur gesonde, bekostigbare en volhoubare voedselprodukte te skep.

Ek kom oorspronklik van Soshanguve in Pretoria, vanuit 'n gesin van ses. Ek is passievol oor gemeenskapsontwikkeling, veral deur sosiale entrepreneurskap, omdat dit my toelaat om tegelykertyd die kwessie van armoede en baie ander sosiale kwessies aan te spreek.

Ek het 'n gemeenskapsbakkery in 2019 gestig, nadat ek gegradueer het. Ek was geïnspireer om 'n besigheid te begin nadat ek my studie sou voltooi, want ek was bewus van die werkloosheidsyfers in die land en wou vir myself en ander werk skep.

Waarom het jy besluit om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer?

Ek is trots daarop dat ek 'n bewuste en daadwerklike persoon is. Aan die einde van my matriekjaar wou ek na een van die beste universiteite in die land gaan wat my ook 'n ander kulturele ervaring sou bied. Ek wou die universiteit verlaat as 'n algehele verbeterde en beter afgeronde persoon.

Wat val jou op as jy terugdink aan jou tyd in Stellenbosch?

Ek is baie trots daarop dat ek deel van die Stellenbosse kultuur en trots kon wees. My vier jaar in Stellenbosch het my liefde vir my eie gemeenskap in Soshanguve vergroot. Om te sien hoeveel die Stellenbosse gemeenskap belê om seker te maak dat dit 'n dorp word waarop die plaaslike inwoners trots is, het my oortuig om dieselfde in my gemeenskap te doen. 

Jy het onlangs aan die Mej Suid-Afrika-kompetisie deelgeneem en in die top 5 geëindig. Vertel ons van daardie reis.

Ek is regtig passievol oor die ontwikkeling van Suid-Afrika en die jong vroue in ons land. Ek het besef hoeveel werk ek in my persoonlike hoedanigheid gedoen het om waarde toe te voeg en wou die Mej Suid-Afrika-platform gebruik om dit op groter skaal te doen. Dit kan langer neem om mense sonder die platform te bereik, maar ek streef steeds na hierdie doel.

Vertel ons van jou toekomsplanne.

My grootste strewe is om ander jongmense te inspireer om hul doelwitte sonder vrees na te streef. Ek werk daaraan om platforms te skep sodat jongmense en hul paradigmaskuif-idees kan saamwerk. Ek dink dit gaan al ons idees verg om 'n wêreld te skep waarop ons almal trots sal wees.

Waaroor is jy passievol in die lewe?

Om mense te bemagtig om beheer te neem en oplossings te vind vir alledaagse kwessies wat gemeenskappe ontwrig.

Wie of wat motiveer of inspireer jou?

My sterk geloof dat elke gemeenskap en individu inherente waarde het wat gevoed en gebruik kan word om die wêreld te verander. Ek is 'n optimis.

Het jy enige advies wat jy met Maties wil deel?

Moenie bang wees om te faal en te misluk nie; ware mislukking vind slegs plaas as jy ophou probeer. Ons almal kan enigiets vermag as ons bloot ‘n kopskuif maak.

Lebogang se gunsteling: 

  • Persoon: Muhamed Yunus
  • Kos: Doritos
  • Liedjie: Into yami – Ringo Madlingozi
  • Film: About time
  • Boek: Purple hibiscus – Chimamanda Adiche