Hy beskik egter oor die nodige agtergrond om sy keuses te staaf ... Leon-Ben het 'n BCom (Regte) aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf, 'n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning en Dienste aan die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool (USB) behaal en is tans besig om 'n meestersgraad in joernalistiek, ook aan die US, te voltooi. Daarbenewens het hy ook vier jaar se ondervinding as finansiële adviseur vir Sanlam agter die rug gehad toe hy besluit om 'n onafhanklike adviseur te word.
Oor die besluit om die nuwe uitdaging aan te pak, sê hy: "Ek was jare lank 'n voltydse joernalis, by onder meer Die Burger en Weg! Toe ons tweede kind kom was ek bietjie uitgebrand aan skryf vir 'n lewe, en ons begroting wou net nie klop nie. Dis toe wat ek die skuif gemaak het. Ek geniet dit om my eie baas te wees as adviseur, en dit betaal ook beter. Nou skryf ek primêr omdat dit lekker is, en meestal wat ek wil.
"Om 'n adviseur te wees, gee my ook die buigsaamheid om my kinders na sportbyeenkomste te vat en dinge te doen waarvan ek hou, soos skryf, kitaar speel, of om 16:00 die vuur aan te steek as ek in die week wil braai. Dit was nie altyd maklik nie, maar dit was een van die beste besluite van my lewe. Maar dan is ek nie iemand wat glo in spyt nie."
'n Man van vele talente
Een van die "lekker" skryfprojekte waarmee hy besig was, was 'n kinderboek genaamd Wie skrik vir Wortel Wolf? wat Tafelberg Uitgewers in September vanjaar gepubliseer het. In die boek word drie bekende sprokies − Die drie varkies, Rooikappie en Die seuntjie wat Wolf! geskree het − op hulle kop gekeer.
"Die boek is gebore uit die COVID-19 grendeltydperk toe my oudste twee kinders moeg was vir die boeke wat ons by die huis gehad het, en ons nie biblioteek toe kon gaan nie. Toe maak ek maar die storie op, skryf dit toe later en stuur vir Tafelberg, wat genadiglik gedink het dis die moeite werd om te publiseer."
Nog een van sy boeke, 'n rympieboek genaamd Barend, die Barbaar het ook onlangs op die rakke verskyn.
As hy oor die Universiteit Stellenbosch praat, dan gaan hy in vervoering oor die tyd wat hy by Dagbreek-manskoshuis deurgebring het.
"Dit was fantasties. Ek het so baie mense met verskillende uitgangspunte ontmoet, en so baie goed ervaar wat ek nie andersins sou nie. Ek meen, ek het een keer fencing gaan doen. Waar sou ek ooit onder normale omstandighede daai kans gekry het? Diegene wat gelukkig genoeg is om op kampus so iets te kan doen, en wie die vermoë het (om dit te kan doen), gryp dit aan, en wees dankbaar daarvoor."
Leon-Ben, wat deesdae in Wellington woon, maar in Hartenbos grootgeword het, sê sy vrou, familie en tuisdorp het nog altyd 'n groot rol in sy lewe gespeel.
"Toe ek van loopbaan verander het kon ek my pa bel as ek raad nodig gehad het. En al raak ek skaam as my ma my skryfwerk adverteer, laat dit tog maar my hart warm klop. Ek gun dit vir almal om plattelands groot te word, waar jy die waarde van gemeenskap leer."
Sy raad vir jong studente wat sin probeer maak van universiteitslewe is soos volg: "Beproef alle dinge; behou die goeie. Weerhou julle van elke vorm van kwaad." (Tes 5: 21-22)