Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2021

Prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, en Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers en ereprofessor in joernalistiek aan die US, was die sprekers.

"Vir baie mense is hulle studentejare van die beste tye in hulle lewens. Dit is netwerke soos Die Matie wat ons alumni aktief en ywerig hou. Dit is dikwels betrokkenheid by verenigings en buitemuurse aktiwiteite wat alumni se studentelewens vorm en dit het ’n groot impak op hulle toekoms. Die Matie het presies dit vir baie studente beteken wat professionele joernaliste geword het en steeds reg oor die wêreld in die mediabedryf werk," het De Villiers gesê.

"Dankie aan al die oudredaksielede vir julle bydraes oor die jare. Julle bydrae tot die koerant het ’n direkte impak op die Universiteit ook. Ek hoop dit is iets wat nog lank sal voortleef. Geluk aan almal wat die 80-jaar herdenkingspublikasie aanmekaar gesit het – die huidige redaksie en ook voormalige redakteurs vir hulle leiding."

Die groot getal suksesvolle name in die media- en kommunikasiebedryf wat hulle joernalistieke loopbaan by Die Matie begin het, beklemtoon dat die studentekoerant ’n belangrike katalisator was in die vorming van dié individue se loopbane, het Vosloo gesê.

"Dit was vir my ’n openbaring om in Die Matie se feestelike uitgawe die redaksies van 80 jaar se name te kon lees. Van hierdie redaksielede is vandag hier, asook die nuwe leierspan. Saam met hulle kan ek waarlik nostalgie beleef. Van hierdie voormalige redakteurs en ander redaksielede het later hulle merk gemaak in hulle onderskeie professies en het bygedra tot die welwees van hierdie universiteit en ons land. Van hulle was ook in my span toe Naspers uitgebou is van ’n glimps in die oog van Jannie Marais en ander deelgenote in 1914 tot die wêreldreus in media en kommunikasie vandag.

"Wat hierdie groepie name uit ’n hele paar honderd aandui, is dat die student se verbintenis met Die Matie in sy of haar studiejare ’n belangrike katalisator was in die vorming van hul nering of loopbaanstrewe. Of soos prof Lizette Rabe, hoof van die Departement Joernalistiek, dit stel: Die studentekoerant is die laboratorium vir demokrasie," het Vosloo gesê.

"Dit was voorwaar heuglike nuus toe twee ondersoekende joernaliste vroeër vanjaar die Nobelprys vir Vrede gewen het. Hierdie eer onderskryf presies hoe belangrik die professionaliteit van die bekleders van hoofstroommedia en ondersoekende joernalistiek moet wees om ware demokrasie in stand te hou. Ons het in die jongste jare uiters deurslaggewende ondersoekende onthullings in ons plaaslike media gesien en ’n mens kan met trots sê oudredaksielede van Die Matie en US-studente het daarin geskitter.

"Ek wil Die Matie, heersend en sy toekomstige leiers, sterkte toewens met die volgende gedagte: Julle moet julle slyp om inligting en nuus oor te dra aan ’n studentegemeenskap in Afrikaans, Afrikaaps, Xhosa en Engels. Voorligting lê nie in een taal opgesluit nie.

"Ek wil dit ook onderstreep dat deelname aan Die Matie beteken om die inleiding te ervaar tot die handhawing van wat ek noem ewige waardes: Die leerskool op pad na die handhawing van ’n werklike, ware vrye demokrasie en die afweer van versmorende totalitêre samelewings," het Vosloo gesê.

Die Matie het altyd ten doel gehad om debatte aan die gang te sit en studentestemme lewendig te hou, het Corinne Oosthuizen, wat in 1984 die eerste vrou was wat redakteur van Die Matie geword het, by die geleentheid gesê.

"Die Matie is altyd iets wat daar moet wees om moeilikheid te maak wanneer nodig, om kommentaar te lewer en om mense op hulle tone te hou.”

’n Merkwaardige bydrae wat Die Matie tot die gebruik van titels in Afrikaans gemaak het, is dat dié koerant die eerste was om die afkorting "me." te gebruik, het Oosthuizen gesê.

"Ons het die afkorting me. begin gebruik in die tyd toe ek redakteur was. Mans is meneer (mnr.) maar vroue was geken daaraan of jy ’n man het of nie."

 Gedenkuitgawe

Die Matie het vroeër vanjaar ’n gedenkuitgawe uitgegee met ’n terugblik oor interessante en nuuswaardige stories oor 80 jaar.

Johan van Tiddens, voorsitter van Die Matie Studentekoerant Trust en redakteur in 2003, het gesê dit was ’n "besondere voorreg en inspirasie" om saam met Die Matie se redaksie te kon werk aan die spesiale gedenkuitgawe.

"Ons wense vir Die Matie is dat dit ’n plek sal bly waar kritiese denke gekoester en ontwikkel word, die koerant aan almal ’n stem sal bied en dat Die Matie dié betroubare bron van inligting op kampus sal wees," het hy gesê.

Die Matie Studentekoerant Trust is in 2016 deur oudredaksielede gestig om die koerant finansieel en deur middel van opleiding en raad te ondersteun. Jacolette Kloppers, redakteur in 2001, is die stigter van die trust. Die ander trustees is Nerisa Coetzee, assistentredakteur in 2004, Ben Griesel, assistentredakteur in 1971, en Gerrie de Villiers, redakteur in 1972.

Tiaan Booyens, ’n BA-student in Taal en Kultuur, is die redakteur vir die 2021/2022-termyn.

Die 80-jaar-gedenkuitgawe is hier aanlyn beskikbaar. Volg Die Matie op Facebook, Instragram of Twitter, of besoek die webblad by https://diematie.com/.

  • Carla Visagie, ’n nagraadse student in joernalistiek, was redakteur van Die Matie in 2020/2021 en redakteur van die gedenkuitgawe.