Digitale Alumni-Nuusbrief | Somer 2021

Simone het ’n BA-graad in Drama en Teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal en beskryf die omgewing van die Departement Drama as een waar studente hul kreatiewe vaardighede kan uitbrei en ondersteuning geniet.

"Gelukkig was drama ook een van die meer 'informele' kursusse aan die universiteit. Ek het goeie herinneringe aan daardie tyd – die hele departement was soos een groot familie. Jy het die vryheid gehad om jouself kreatief uit te druk, of dit was in verhoogkuns, kleredrag of haarstyl, sonder om geoordeel te word. Ek is steeds in kontak met baie van my mede-studente en lektore," sê sy.

Simone is ook ’n klassieke sanger en pianis. Sy het aan die Universiteit se Konservatorium klassieke sang tydens haar skooljare aan Lückhoff Hoërskool begin studeer, en het dit tydens haar dramastudies voortgesit.

Nadat sy haar BA-graad behaal het, het sy vir ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat aan die US ingeskryf omdat sy vaardighede in "meer as een professie" wou hê.

"Dit open meer deure in jou lewe."

Net nadat sy die onderwyssertifikaat behaal het, het sy ’n agent aangestel om vir haar toneelspel-geleenthede te soek. Benewens TV-werk het sy in Afrikaanse verhoogproduksies opgetree soos Die Vagina Monoloë, Die Kaapse Kabaret, Iets uit Niets, Verse – ’n Kabaret en Deurbraak. Maar sukses kom nie oornag nie.

"Ek het gewerk as kelner wanneer daar nie toneelwerk was nie. Ek het vele, vele oudisies afgelê, advertensies gemaak en baie teaterprojekte, korporatiewe werk en sang gedoen.”

"Kliënte en regisseurs is baie spesifiek in wat hulle in ’n akteur wil hê en baie kere is jy nie waarvoor hulle gesoek het nie. ’n Wyse vriend het vir my gesê die beste ding is om in te stap by ’n oudisie, jou bes te doen, en dan daarvan te vergeet. Ek het ook geleer dat as jy nie gekies word nie, dit nie persoonlik is nie, maar dat hulle net iets anders in gedagte gehad het,” sê sy.

Na vele verwerpings het sy die rol in Suidooster losgeslaan.

Simone sê sy is baie gelukkig om die ondersteuning te hê van familie en vriende terwyl sy ’n akteursloopbaan nastreef.

"Ek is geseënd om ’n werkomgewing te hê waar mense regtig vir mekaar omgee. Ek het vroeër vanjaar Covid gehad maar nooit alleen gevoel nie. My Suidooster-familie het my daagliks ondersteun, vir my kos gekoop en met my gesels om my positief te hou."

In die moeilike oomblikke het sy haarself herinner aan die woorde van Marianne Williams se gedig getiteld Our Deepest Fear: "You are a child of God. Your playing small does not serve the world."

"Dit plaas dinge op ’n manier net weer in perspektief vir my. Die kans is daar dat jy teleurgesteld kan wees [in die lewe], maar dit is ’n toets om te sien of jy dit regtig wil hê. Onthou dat as dinge gister sleg was kan jy nie teruggaan nie, jy kan slegs vorentoe beweeg."