Digitale Alumni-Nuusbrief | Uitgawe 5 | Somer 2019

Die Nasionale Ontwikkelingsagentskap het haar in 2018 in Polokwane as vroeëkindontwikkelings- (VKO-)opleier van die jaar aangewys. In dieselfde jaar was sy boonop naaswenner in die kategorie “Burgerlike samelewing en maatskaplike samehang” van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap se Suid-Afrikaanse jeugtoekennings.

“Dit was ’n eer om die toekennings te ontvang, en ’n voorreg om erken te word vir my belegging in en bydrae tot ’n saak waaroor ek so passievol is. Maatskaplike werk ontvang nie altyd so ’n tipe platform nie, en ek het die geleentheid verwelkom om my beroep te verteenwoordig. As ’n jong beroepspersoon, hoop ek dít is die begin van jare se waardevolle werk op VKO- en maatskaplikewerkgebied,” sê sy.

Ronaasen, wat tans in KwaZulu-Natal woon, het die afgelope vier jaar by Early Inspiration, ’n VKO-onderrig-en-opleidingsentrum in die Nelson Mandelabaai-omgewing gewerk waar sy oueropvoedingsprogramme ontwerp, bestuur en fasiliteer het om gesinsintervensies en die VKO-opleidingsprogram vir praktisyns te ondersteun.

Sy was ook verlede jaar deel van ’n span beroepslui wat met UNICEF saamgewerk het om ’n ouersteunprogram genaamd Sakha Esetu op die proef te stel. Die doel van die program was om VKO-praktisyns aan te moedig om hulle eie ouersteungroepe op die been te bring. 

“Ek is passievol oor mense. As ’n maatskaplike werker, glo ek ons staan vir beginsels en waardes wat menswaardigheid bevorder. Ek glo vas in die impak van vroeë onderrig en die rol van VKO om toekomstige generasies se lewens te verbeter. Ek is passievol oor leierskap en die skep van spanne deur samewerking en deelname. Ek sien hoe jongmense ’n impak het wanneer hulle uitreik en by projekte en programme betrokke raak.”

Sy het in 2014 haar magistergraad in maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en werk tans aan haar PhD op dieselfde gebied. Ronaasen sê sy is trots daarop om ’n Matie te wees. “Om te kon aansluit by die Matiefamilie het my lewe verander. Hier het ek individue en jong leiers van oor die hele wêreld ontmoet wat my nuut laat dink het oor my beroep, die sakewêreld en die impak wat ’n mens as ’n jong gegradueerde kan hê.

“Die verskeidenheid dienste en steunstrukture wat Maties sy studente bied, is na my mening wêreldklas! Die studieleiding, biblioteekdienste, nagraadse vaardigheidsopleiding en Skryflaboratoriumsteun is maar net ’n paar voorbeelde van hulpbronne wat ’n groot invloed op my skryfwerk en akademiese groei gehad het. Dit het my ook gehelp om my navorsing uit ’n multidissiplinêre hoek te beskou, wat my sedertdien goed te pas gekom het in die arbeidswêreld. My magistergraad het tot my eerste voltydse pos op die gebied van oueropvoeding en gemeenskapsontwikkeling gelei.”

Haar PhD-studie handel oor die noodsaaklike eienskappe van skoolhoofde en maatskaplike werkers in die VKO-sektor. Sy sê: “Ek hoop om ’n sinvolle bydrae tot die gebied van maatskaplike werk en die VKO-sektor in Suid-Afrika te lewer. Ek sou graag by talle gemeenskapsgebaseerde projekte en programme wou betrokke wees.

“Ek hoop ek kan my PhD benut as ’n geleentheid om die VKO-agenda en die belang van bestuur in die sektor-sonder-winsoogmerk verder te bevorder. Ek wil my navorsing voortdurend koppel aan die praktyk om die grootste moontlike impak te hê – hopelik sy aan sy met vele inspirerende akademici en praktisyns van verskillende vakgebiede.”