Digitale Alumni-Nuusbrief | Uitgawe 5 | Somer 2019

“Dit was nogal uitputtend omdat ons vir lang ente die sterk wind van voor moes trotseer. Maar ons het dit vir 'n goeie doel gedoen, so ons is baie tevrede," het De Villiers gesê nadat hy die wêreld se grootste tydhou-fietswedren voltooi het.

Hy het deel uitgemaak van die 25 personeellede, studente, alumni en vriende van die Universiteit wat as deel van die Maties #Move4Food-span aan die Kaapstad Fietstoer deelgeneem het. Hy het die wedren in 'n tyd van 5 ure, 18 minute, 35 sekondes voltooi – nege sekondes ná sy dogter, dr Gera de Villiers.

Die vinnigste lid van die groep was Chris Norton, 'n US-alumnus en eienaar van die BMT-fietswinkel in Dorpstraat, Stellenbosch. Sy tyd was 3 ure, 33 minute en 17 sekondes. Hy het nege ander fietsryers aangespoor om vanjaar saam met hom te ry. Van hulle het ook verlede jaar vir die #Maties100-span gery om die Universiteit se honderdjarige bestaan te gedenk en om geld vir beurse in te samel.

Vyf lede van die span – almal US-mediese studente – het die wedren op die ikoniese Matie Fiets aangepak. Dié enkelspoedfiets is eintlik meer geskik vir rustige ritte op die plat Stellenbosch-kampus as vir 'n uitdagende fietswedren met sulke steil opdraandes soos Chapmanspiek en Suikerbossie.

“Glo dit of nie, dit was eintlik groot pret. Ons moes ons fietse teen Chappies uitstoot, maar ons het die meeste ander bulte kafgedraf. En die belangrike ding is dat ons klaargemaak het – 20 minute voor die afsnytyd!" het Breda Reed, 'n Namibiër en 'n vierdejaarstudent by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by Tygerberg, gesê. Hy is die stigter van die Hippocampus-fonds ten bate van mediese studente. Hy het in Desember verlede jaar saam met Mias Marais, Christoff Greyling, Luke Titus en Nkululeko “Wonderboy" Nkosi die 902 km vanaf Vioolsdrift tot by L'Agulhas per fiets afgelê om “ons vriende te help om dokters te word".

Maties kon na afloop van die wedren, by die Universiteit se onthaalruimte by die Kaapstad-stadion inloer om ligte verversings en selfs n sportmassering vir die moeë spiere te geniet.

“Dit is altyd wonderlik om saam met die Matie-familie te kuier en Sondag was geen uitsondering nie. Die gees was fantasties en ons kan nie wag om dit weer te doen by ander sportgeleenthede nie," het Marvin Koopman, Alumni-koördineerder, gesê.

De Villiers, 'n gastroënteroloog van beroep, het uitgewys 'n “onlangse studie deur die Nasionale Navorsingstigting het bevind dat meer as 30% van universiteitstudente in Suid-Afrika voedselonsekerheid beleef. Dit affekteer nie net hul akademiese uitslae nie, maar ook hul fundamentele menswaardigheid. Matiestudente het besluit om voedselbanke te vestig om te verseker dat geeneen van hul maats hoef klas toe te gaan op 'n leë maag nie. Die inisiatief geniet my volle steun, en ons sal bykomende hulp baie waardeer."

In September verlede jaar het De Villiers ook die volle 42 km Sanlam Kaapstad Marathon ten bate van #Move4Food voltooi.

  • Die #Move4Food-fondsinsamelingprojekte van die Maties wat die Kaapstad Fietstoer voltooi het, is steeds aan die gang. Om jou steun hieraan te gee, besoek gerus http://bit.ly/Move4Food-projects.