Digitale Alumni-Nuusbrief | Uitgawe 5 | Somer 2019

Vertel ons asseblief meer oor jouself.

Ek woon tans in Lahore, Pakistan. Ek is gebore in Gujrat in die Pandjab-provinsie, wat as een van die meer bedrywige stede in die land bekend is. Ek het in 1994 my LLB aan die Universiteit van Pandjab verwerf, en is in 1997 as ’n advokaat tot die hooggeregshof van Lahore toegelaat. In 2009 is ek by die advokaterol van die hoogste hof van Pakistan ingesluit. Daardie selfde jaar is ek as ’n assistentadvokaat-generaal vir die provinsie Pandjab aangestel. Die president van Pakistan het my in Januarie 2014 as adjunkprokureur-generaal benoem. Ek is later ook as die aanklaer-generaal van die Pakistanse regering aangestel vir ’n drie jaar lange ampstermyn van 24 November 2014 tot 23 November 2017.

Tans bedryf ek my eie regsfirma, Waqas Dar Law Associates, wat in straf-, aanspreeklikheids- en diensreg spesialiseer.

 Hoe het dit gekom dat jy aan die Universiteit Stellenbosch studeer het?

Ek het in September 1995 by my ouer broer, dr Imran Qadeer Dar, ’n Suid-Afrikaanse burger, gekuier. In daardie stadium het my broer by Frere-hospitaal in Oos-Londen gewerk. Gedurende my besoek het die Suid-Afrikaanse natuurskoon my geïnspireer en nadat ek met die plaaslike regsgemeenskap geskakel het, het ek besluit om my nagraadse kwalifikasie in die regte aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit te verwerf.

Hoe sou jy jou Matie-ervaring beskryf?

Ek het in 1996 aan my LLM gewerk en in Huis De Villiers tuisgegaan. Ek het ’n fantastiese tyd op kampus gehad en baie Suid-Afrikaanse en buitelandse vriende gemaak. Ek het gereeld muurbal gespeel, sowel as krieket vir die internasionale studentekrieketspan. Ek het goeie vriende soos Martin Laing en Andries Gous gemaak en dit baie geniet om raakrugby met die ander ouens in my klas te speel.

Watter impak het jou studie aan die Universiteit Stellenbosch op jou loopbaan en werkslewe in Pakistan gehad?

Dit was ’n wonderlike ervaring om regte aan die Universiteit Stellenbosch te studeer en met Suid-Afrikaanse en internasionale prokureurs en regstudente te kon skakel. Trouens, ek glo my graad van die Universiteit Stellenbosch was een van die redes vir my bevordering tot aanklaer-generaal van Pakistan.

Jy is in 2014 as aanklaer-generaal in die Pakistanse nasionale vervolgingsburo aangestel? Wat het hierdie pos behels?

Dis reg, ja. Die kwalifikasie van ’n aanklaer-generaal is dieselfde as dié van ’n regter in die hoogste hof van Pakistan. Die amp van die aanklaer-generaal is ’n statutêre amp vir ’n nie-hernubare termyn van drie jaar. Dit word beskerm deur artikel 209 van die Grondwet van die Islamitiese Republiek van Pakistan, wat bepaal dat ’n aanklaer-generaal nie uit die amp verwyder kan word nie, buiten deur die hoogste regterlike raad van Pakistan indien die persoon van wangedrag as ’n regter van die hoogste hof aangekla word.

Die aanklaer-generaal se werk is om hoëprofielpersone, waaronder politici, burokrate en openbare ampsdraers, deur middel van ’n landwye vervolgingspan te vervolg – van die verhoorhof tot in die hoogste hof.

Jy het ’n hoëprofielondersoek na, sowel as die vervolging van, die voormalige Pakistanse eerste minister Nawaz Sharif gelei? Kan jy ons meer daaroor vertel?

Ja, gedurende my ampstermyn is aanklagte teen ’n aantal hoëprofielpolitici, waaronder die voormalige eerste minister van Pakistan, Mian Nawaz Sharif, ingedien. My vervolgingspan het ook gedurende my termyn die voormalige Pakistanse president, Asif Ali Zardari, en verskeie ministers en senior burokrate vervolg wat in howe deur die hele land op aanklagte van korrupsie tereggestaan het.

Wat is jou boodskap aan jong gegradueerdes wat op die punt staan om met ’n loopbaan te begin?

My boodskap aan elke regstudent, hetsy van Suid-Afrika of elders, is hard en duidelik – die regsberoep is by uitstek ’n beroep waar jy met jou optrede respek, eer en aansien kan verdien. Die regsberoep is die enigste beroep wat jou die wysheid bied om jou eie regte sowel as die regte van onskuldige persone te beskerm.

Daarby wil ek graag beklemtoon dat om sukses of enige doelwit in die regsberoep te behaal van jou eerlikheid, toewyding en harde werk afhang. Ek het slegs tot die amp van aanklaer-generaal gevorder omdat ek eerlik en toegewyd was en hard gewerk het. Dus is my boodskap aan regstudente en nuwe regsgegradueerdes dat jy altyd eerlik moet wees in jou beroep, en deur harde werk en toewyding ander se respek moet verdien.

Probeer boonop altyd ’n ewewig tussen jou beroeps- en gesinslewe handhaaf. Die stabiliteit van ’n gesonde gesinslewe stel jou in staat om werk van gehalte op kantoor te lewer, wat verseker dat jy ’n goeie en gerieflike lewe sal hê.