Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 1 | Winter 2017

Vertel ons meer van jouself?
Ek het grootgeword in Alexandra, Johannesburg, en by die Primêre Skool Skeen en Hoërskool Northview skoolgegaan. Ek kom uit ’n groot familie met baie heen-en-weer-kuiers. Ek het die meeste vakansies by my familie in Mokopane en Polokwane in Limpopo deurgebring, so ek is geneig om baie sosiaal te wees, en voel van nature aangetrokke tot mense.
Ek is ’n baie trotse ma en geniet dit om saam met my kinders in die buitelug te wees. Hulle kom dikwels naweke saam met my om miere in die veld bymekaar te maak of in die laboratorium te sorteer.

Jy het in 2001 as ’n eerstejaar Stellenbosch toe gekom. Nou’s jy ’n nadoktorale genoot in die Fakulteit Natuurwetenskappe. Waarom het jy op Maties besluit?
Maties het my pad as ’n geleentheid gekruis. Die Universiteit het ’n werwingsveldtog by my skool gehad. ’n Paar van ons is gekeur en die geleentheid gegun om aansoek te doen en die toelatingseksamen by ons skool te skryf. Destyds het ek reeds by Rhodes-universiteit aansoek gedoen, so ek was nooit van plan om naby die huis te studeer nie. Ek het ’n beurs ontvang en Stellenbosch toe gekom.
My voorgraadse studie was ’n uitdaging, maar ek dink ek het regtig die beste daaruit gehaal. Ek was baie betrokke by kampusbedrywighede en het ook by die Maties-dansvereniging aangesluit. Dit het my help groei en my leiersvaardighede versterk.


Die meeste mense saam met wie ek studeer het, is al lankal hier weg. Elke keer as ons ontmoet of kontak maak, vra hulle: “Wat maak jy nog daar?” Vir die laaste twee jaar van my voorgraadse studie was ek ’n navorsingsassistent vir dr Brent Sinclair, destyds ’n nadoktorale genoot van prof Steven Chown. Hy het my werklik uitgedaag en by ál sy navorsing betrek. Ek het my later as ’n honneursstudent by prof Chown se laboratorium aangesluit, waar ek van indringerspesies begin leer en daarmee begin werk het. Daarna het ek my in my magister-, PhD- en nadoktorale werk onder prof Theresa Wossler op die Argentynse indringermier toegespits, met finansiering van die Sentrum vir Indringerbiologie. Ek is steeds ’n nadoktorale genoot en word deur die Nasionale Navorsingstigting ondersteun.


My navorsing het my hier gehou. Ek geniet regtig my werk en om my kennissentrum hier te hê – ek het dit nog nooit oorweeg om te trek nie. Ek skakel aktief met navorsers in internasionale laboratoriums én elders in Afrika, so ek voel ek’s deel van ’n sterk netwerk as wetenskaplike.

Wanneer het jy geweet jy wil op hierdie bepaalde vakgebied werk?
Ek was nog altyd lief vir die buitelewe en diere, en oor die algemeen baie nuuskierig oor my omgewing. Wanneer ons by my tannie se huis gaan kuier het, sou ek altyd na die natuurreservaat daar naby gaan en insekte en akkedisse optel, en soms selfs veldmuise vang. ’n Uitstappie na die Kruger Nasionale Park sowel as ’n veldskool het my liefde vir die omgewing verder vasgelê en my meer bewus gemaak van die natuur. So, ek dink dit het begin toe ek nog baie jonk was, en is daarná aangevuur deur my verskillende ervarings deur my grootwordjare tot nou. Ek sê “tot nou”, want my loopbaan word steeds deur soveel verskillende ervarings en omstandighede gevorm.

Wat dink jou familie van jou prestasies?
Die meeste mense in my familie (ook my vriende) is nie juis verras oor waar ek nou in my loopbaan is nie. Ek moes al baie verduidelik wat ek doen. My oorlede suster het my gewoonlik gevra om my werk aan haar te verduidelik terwyl ek my data neerskryf. Dit het my soveel gehelp toe ek met wetenskapkommunikasie begin, want ek het geweet hoe om ingewikkelde inligting te vereenvoudig. Sy het my ongelooflik baie ondersteun en my dogter opgepas terwyl ek tot in die middernagtelike ure aan my MSc-tesis gewerk het. Dit was werklik ’n opoffering en ’n enorme blyk van ondersteuning én geloof in my.
Ek glo my familie is baie trots op my en op hoe ver ek dit gebring het. Hulle sê dit ook baie – veral my kleinsus, wat my sosialemediaghoeroe is. Sy versprei gewoonlik enige nuus wyd en syd op Facebook en vertel my heeltyd hoe trots sy is, so dis ’n groot motivering.

Vertel ons van ’n paar van jou goeie studenteherinneringe.
Ál my lekkerste herinneringe is maar aan die Maties-dansvereniging. Ek het die meeste van my tyd daar deurgebring – ná klas en ook as ek klaar in die laboratorium gewerk het. Dans was ’n kerndeel van my kampuslewe, en ek het my geheel en al daarin uitgeleef. Ek het ook lewenslange vriende by die vereniging gemaak.

Watter drome het jy vir jou toekoms?
Ek wil graag glo my lewensdoel is om ’n impak op die samelewing te hê. Ek geniet die akademie vanweë die matelose geleenthede wat dit jou bied om ’n impak op ander se lewens te hê, kennis met ander uit te ruil, en mense met vaardighede toe te rus. Ek is hier danksy ander se impak op my lewe.
My einddoel is om ’n plek in my lewe te bereik waar ek meer daarop kan konsentreer om ’n verskil te maak. Ek wil graag navorsingsbande in Afrika versterk en op die kruispunt tussen die wetenskap, beleid en die regte werk om sosio-ekonomiese uitdagings die hoof te bied. Ek wil ook meer aktief betrokke wees by Afrikagerigte navorsing, en ’n rol speel om opvattings oor Afrika en Afrika-kennis te verander.

Het jy enige spesiale gedagtes wat jy met ons wil deel?
Moet nooit bang wees om ’n kans te waag en geleenthede wat oor jou pad kom aan te gryp nie. Wees ontvanklik om elke dag iets nuuts te leer. Vrees is ’n dief en kan jou isoleer. Ek glo samewerking skep ’n ruimte vir innovasie, wat juis is wat ons nodig het om Suid-Afrika en die res van die vasteland vorentoe te neem.
Nelson Mandela het gesê: “Onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander.” Ons moet na maniere soek om toegang tot onderwys en geleenthede vir ons jongmense in Suid-Afrika te verbeter.

 

Dr Mothapo oor haar navorsing oor die Argentynse indringermier:
Hierdie mier is iets om te aanskou. As jy al ooit nagedink het oor die proses van kolonisasie, ontworteling en uitwissing van inheemse inwoners, en die algehele oorname van hulle plek – dis presies hoe Argentynse miere oor die hele wêreld heen versprei het. Hulle het elke liewe vasteland op aarde buiten Antarktika suksesvol binnegedring. Hulle vorm hierdie enorme superkolonies waar werkers nie aggressief is teenoor mekaar nie, maar uiters aggressief teenoor ander mierspesies.

Baie van ons weet nie mierkolonies bestaan uit geneties verwante susters nie! Glo dit of nie – hulle is almal vroulik, almal is onvrugbaar, en almal woon en werk saam. Net die koningin plant voort en die mannetjies kom te voorskyn in die lente, paar eenmalig en vrek. Miere onderskei tussen vriend en vyand deur middel van ’n chemiese sein genaamd kutikulêre koolwaterstowwe wat op die mier se lyf voorkom. Miere van dieselfde kolonie het almal dieselfde kutikulêre koolwaterstofprofiel, amper soos ’n lidmaatskapkaart. Enige mier wat nié soos een van hulle ruik nie, word aangeval en doodgemaak. Hierdie streng herkenningstelsel beskerm die kolonie teen indringing deur ander miere, keer dat energie op nieverwante individue vermors word, en verseker sterk samewerking vir kosinsameling en verdediging.

Tog is hierdie samewerking by Argentynse miere op ’n algeheel nuwe vlak. Hulle vorm ’n hele nuwe sosiale bestel, ’n unikolonialiteit, waar aggressie en territorialiteit plek maak vir onderlinge samewerking om nuwe gebiede te verower en enigiets in hulle pad te verwoes. Hulle verenig in enorme superkolonies van miljarde diere en koninginne, wat in miljoene neste oor massiewe geografiese afstande saamwoon. Lede van dieselfde superkolonie het dieselfde genetiese samestelling en meng nie met lede van ander superkolonies nie, en sodoende handhaaf hulle ’n suiwer geenpoel deur middel van wedersydse aggressie. Dít is omdat hierdie populasies die afstammelinge is van die klein groepe miere wat aanvanklik in ’n bepaalde gebied ingebring is.

Hulle boei my. Ek weet hulle is sleg vir die omgewing, maar ek staan nog elke keer verstom oor hulle vermoë om so ’n sterk groepsband te skep, wat slegs mense hulle kan nadoen.

Vir my navorsing stel ek belang in watter impak hulle op die inheemse miere het en hoe dit ’n gemeenskap kan beïnvloed. Ek bestudeer hulle gedrag en hoe hulle met inheemse miere om kos en ruimte meeding. Ek werk ook saam met navorsers in Japan om die miere se vestigingsgeskiedenis te bestudeer, en dan het ons ook ’n medewerker in Amerika saam met wie ons die toegespitste beheer van die Argentynse mier ondersoek.