Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 1 | Winter 2017

Vyf van hierdie #MatiesMVF’s se geesdrif by die FNB Maties se Varsitybekerwedstryde het soveel aandag getrek dat hulle ’n borgskap ontvang het om hulle span in die Varsitybekereindstryd teen FNB UP-Tuks in Pretoria te ondersteun. Nietemin moes Maties ná ’n uitstekende seisoen met ’n tweede plek tevrede wees toe Tuks hulle met 28-21 verslaan.

Maties-ondersteuners Yaasiem Daniels en Elbré van Rhyn, albei teologiestudente aan die Universiteit Stellenbosch, saam met mede-Stellenbossers Sydney Pienaar, Dudley McKelly en Danfred Nel maak deel uit van ’n groter groep wat danksy hulle onblusbare energie en kleurryke pruike duidelik hoorbaar én sigbaar was langs die veld deur die hele toernooi.

Hierdie #MatiesMVF’s was ook te sien by die Varsity Hokkie-wedstryde wat onlangs by Coetzenburg plaasgevind het.
Die Maties Hokkie-vrouespan het tweede in die groepfases geëindig en die NWU-Pukke in die halfeindstryd geklop om tot die eindstryd van die Varsity Sport-hokkiekompetisie deur te dring, waar hulle 1-0 teen UP-Tuks verloor het.


#MatiesMVF’s het die afgelope paar maande weliswaar baie gehad om oor te juig.

Prof Wim de Villiers het die FNB Maties-rugbyspan persoonlik gelukgewens met hulle prestasies in die Varsitybekerreeks, en hulle bedank vir hulle diens as uitstekende ambassadeurs vir die Universiteit Stellenbosch. Maties-spelers het met van die mees gesogte toekennings van die toernooi weggestap: Kaptein Craig Barry is as agterspeler van die toernooi én kaptein van die Varsitybeker-droomspan aangewys, terwyl Kobus van Dyk as voorspeler én algehele speler van die toernooi aangewys is. Daarbenewens is Ernst van Rhyn as die kaptein van die Suid-Afrikaanse onder-20-span aangewys wat in Junie aan die Wêreldrugbykampioenskap vir onder-20’s in Georgië sal deelneem. Mede-Matie Wikus Groenewald is ook in die oefengroep opgeneem.

’n Paar ander hoogtepunte sluit die volgende in:
Vier Maties-atlete – Juan de Swardt (paalspring), Justine Palframan (200 m), Jean-Maré Senekal (400 m-hekkies) en Nienka du Toit (sewekamp) – is as Suid-Afrikaanse studentekampioene aangewys. Nienka is ook die Suid-Afrikaanse senior sewekamp-kampioen. By die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskap vir Persone met Gestremdhede het Maties Parasport-atlete verskeie nasionale rekords opgestel en kwalifiserende tye vir die Internasionale Para-atletiekkampioenskap 2017 behaal.

Die Maties-swemmer Emma Chelius het drie silwermedaljes gewen by die Suid-Afrikaanse Nasionale Swemkampioenskap, terwyl Maties Swem se para-atlete Hendri Herbst (S11), Alani Ferreira (S13) en Christian Sadie (S7) ál drie kwalifiserende tye vir die wêreldkampioenskap behaal het.
Lauren Billson is in die Statebond Nasionale Protealewensreddingspan opgeneem, terwyl Lwazi Madi, Nicholas Schooling, Lood Rabie, Jason Evezard en Nicholas Downes (tuisblyreserwe) van die Maties Waterpoloklub gekies is om Suid-Afrika in Mei by die Europese Unie se Nasieskampioenskapsbyeenkoms in Pole te verteenwoordig.

Maties Krieket het op hulle beurt as Bolandligakampioene uit die stryd getree en daarna twee ander plaaslike krieketklubs in ’n driehoekige uitklopstryd gewen om tot die nasionale klubkampioenskap deur te dring. Daar het Maties derde geëindig, soos ook in die Varsity Krieket-toernooi.
Jan Louis Maritz, Maties Tennis se topgekeurde manspeler, is gekies om Suid-Afrika in Augustus by die Wêreldstudentespele in Taiwan te verteenwoordig.

“Ons is baie trots op ons studenteatlete sowel as ons ondersteuners,” sê Ilhaam Groenewald, die hoofdirekteur van Maties Sport.
“Maties Sport wil nie net ’n leier wees op die gebied van fokussportsoorte, en wêreldklassportlui oplewer nie, maar wil ook ’n uitnemende universiteitsportervaring bied, en ek dink ons beweeg in die regte rigting.

“Ek bedank graag almal – studenteatlete, borge, vennote, personeellede en alumni van die Universiteit, afrigters sowel as mediese en sportwetenskapsteunpersoneel, en natuurlik alle ondersteuners – wat dít moontlik maak.”

Ilhaam Groenewald verkies tot USSA-voorsitter


Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport, gaan voort om ’n toonaangewende rol in Suid-Afrikaanse en tersiêre sportgeledere te speel, nie net by die Universiteit Stellenbosch en SARU nie, maar nou ook as voorsitter van die organisasie Universiteitsport Suid-Afrika (USSA).

Ilhaam se sterk ondersteuningsnetwerk by Maties Sport stel haar in staat om sulke vrywillige verantwoordelikhede te aanvaar.

Sy glo sport kan alle grense oorsteek en ’n instaatstellende omgewing bou, wat op sy beurt geleenthede vir jongmense skep.

Haar droom vir USSA is dat dit tot verandering sal bydra en steeds ’n bepalende invloed op die sportgesprek in Suid-Afrika sal hê.

Haar boodskap is: “Kom ons bewaarheid ons droom om sport in Suid-Afrika en Afrika te versterk.”